Kollig in Amerikas op Kanadese teen Yanks

canadavusa-rcDie kollig in die Amerikas-rugbykampioenskap val Saterdag skerp op die wedstryd tussen Kanada en die Verenigde State in die Swangard-stadion in Burnaby, Brits-Columbië.

Met die Argentynse Vyftiental die gunsteling om die reeks te wen, kan dié kragmeting die uiteindelike tweede plek bepaal.

Amerika se Arende is ná twee wedstryde elk bo-aan die punteleer, gelyk met die Argentyne (nege punte elk), maar met `n beter batige punteverskil.

Dit maak `n sege uit `n Kanadese oogpunt (tans derde) soveel belangriker omdat nog `n nederlaag sy kans om tweede te eindig `n redelike nekslag sal toedien.

Die Yanks het die afgelope vier kragmetings tussen die twee spanne gewen, en die Esdorings kon in 2013 laas seëvier.

Op die lang termyn het Kanada sedert 1977 altesaam 38 van die 55 toetse tussen die twee lande gewen. Amerika was 16 keer die wenner.

Saterdag se botsing dien boonop as voorspel vir die uitspeelreeks middel vanjaar om vir die toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) in 2019 in Japan in aanmerking te kom. Die twee spanne speel in hierdie opsig op `n tuis-en-weg-grondslag teen mekaar om Noord-Amerika se verteenwoordiger by die toernooi te bepaal.

Amerika het drie spelers met Suid-Afrikaanse bande in sy opdrafspan. Todd Clever (flank), `n gewese Lions- en Goue Leeuspeler; Shaun Davies (skrumskakel), wat in Durban gebore is; en JP Eloff (senter), `n Pretorianer van geboorte. Die gewese Kings-haker James Hilterbrand is op die bank.

Die feit dat Kanada die Johannesburgs-gebore nuweling (een toets), Giovanni du Toit, vir dié deurslaggewende wedstryd op senter behou het, toon hoe hoog hy deur die afrigter, Mark Anscombe, aangeslaan word.

Kiewiete gunsteling

 Die wedstryd tussen Uruguay en Brasilië in die Domingo Burgueño-stadion, Maldonado, Uruguay, kan eweneens baie gelykop verloop, maar die tuisspan is die gunsteling om te wen.

Hoewel Brasilië voor is op die punteleer, het die Kiewiete nog net een wedstryd gespeel.

Die Suid-Afrikaner De Wet van Niekerk speel linkervleuel vir die Tupis van Brasilië, en die skrumskakel Beukes Cremer is op die bank.

 In die CAP-stadion in Talcahuano, Chili, sal dit die uiterste verbasing wek as die Argentynse Vyftiental anders as `n wegholsege oor die tuisspan behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.