‘Maak die Bulle almal Bokke’

Frik en Mof - almal het hulle geken ...

Frik en Mof – almal het hulle ‘geken’ …

As jy in destyds in Pretoria gewoon het, is daar altyd gepraat van die vyfde toets, wanneer Noord-Transvaal teen ʼn besoekende toerspan gespeel het.

Dit was in die dae voor die digitale ontploffing, toe selfone, rekenaars en die internet nog nie bestaan het nie, en toe ons honger en dors na rugby nog deur koerantlegendes soos Quintus van Rooyen (Beeld), Neil Steyn (Hoofstad), Gerhard Burger (Vaderland) en John du Toit (Transvaler) gevoed is. Toe ons mos staatmaak op Gerhard Viviers se radiokommentaar op Saterdagmiddae, toe die Bats die trefferparade met ‘Vat hom Dawie’ gehaal het, en ons Saterdagaande nog inryteater toe is.

Dalk was die wedstryd tussen Transvaal en die toerspan oorkant die Jukskeivier op Ellispark net so belangrik, dalk is dieselfde trant in die Kaap gevolg wanneer die Westelik Provinsie, altyd voor die eerste toets, die toerspan getoets het. Ons sal nie weet nie, want alles was blou, ligblou.

Dit was die ideale geleentheid om die toerspan sag te maak, om hul leemtes te ontbloot, en om te wys hoekom daar, soos Steve Hofmeyr eers heel later sou sing, 15 Noord-Transvalers in die Springbokspan moes wees.

Dis hoekom daar soveel belangstelling heers  vir die Britse en Ierse Leeus se komende toer in Junie en Julie na Nieu-Seeland. Daar word reeds van die vierde en vyfde toetse gepraat, wanneer die toerspan met die Blues en Crusaders kragte meet.

Die All Black-afrigter, Steve Hansen, het toestemming gegee dat die Blues en Crusaders op volle sterkte sal wees, elkeen met 11 All Blacks in hul geledere. Boonop word dié wedstryde net ʼn paar dae direk ná mekaar gespeel.

Die Leeus speel ook nog teen die Highlanders, Chiefs en Hurricanes, maar dis wanneer die All Blacks gevries gaan word, en die Nieu-Seelandse Maori ook aanspraak op hul spelers sal hê voordat hulle die Leeus pak.

Dis mos waaroor rugby gaan: oor die opbou na toetse, oor die spelers se wel en weë.

Almal het destyds vir Jan Ellis se vrou Heila ‘geken’, maar nooit ontmoet nie; almal het geweet van Frik wat ʼn oujongkêrel was, maar Bes in die oog gehad het; oor Mof wat topspeurder was, en oor Karen en Naas.

Maar nou?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

J ·

Hulle kan gerus die jaar die bulle almal(of die meeste) bokke maak.
Span lyk dan so:
Kriel
Ulenga
Odendaal
Serfontein
Ismael
Pollard
Van Zyl
Lizo
Strauss
Nyakane
Snyman
De Jager
Roelof
Potgieter
Arno

Net vir n bietjie afwisseling kan die volgende spelers as reserwes oorweeg word:
Lambie(miskien)
Janse van rensburg(miskien)
Reinach(miskien)
Beast(miskien)
Malherbe(groot miskien)
Etsebeth(weet nie huh)
Kriel(miskien)

BOLANDER ·

Ek is bevriend met ‘n baie goeie sielkundige en ook nie duur nie!!

Veritas ·

Bolander, as jy weet dat die sielkundige nie te duur is nie, was jy seker darem self een of twee keer daar. Of hoe?

Gerd Lourens ·

Frik, Mof en Jan Ellis – ware manne.

Maar wie is Naas?

Pietser ·

LOL. Die blou-apies gaan sommer Saterdag al vasval teen ‘n saamgeflanste vis en chips Stormer spannetjie. Die bulle is almal nulle.

Jannie ·

Ag asb tog. Net die Bul ondersteuners dink die Bulle is goed genoeg. Die res van ons weet dis nie waar nie. Hulle bly ander Unies se spelers koop. Dis lankal nie meer n Bul span nie.

Nico K ·

Jannie, ek nog nooit van ‘n span in SA gehoor wat nie ander spelers koop nie.

Franna ·

Wat Piet wil sê is dat rugby nooit weer dieselfde gaan wees nie. Waar is die tyd toe Thys Lourens na ‘n verloorwedstryd van die veld af gehardloop het. Geen mediavrae en spin en “geluk met die ander span” met ‘n glimlag en niks nie. Beneuk, vies en bedonderd oor die verloor. En hulle was amateurs. Deesdae is die jong miljoenêrs mos vreeslik vriendelik en voel ‘goed’ oor die vordering want die manne het ‘hande opgesteek’. Die geld is mos in die rekening. Kry vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.