Nóg twee SA spelers gryp Skotse kans aan

Clinton Wagman en Siphamandla Dama by die Selkirk-rugbyklub saam met die spanbestuurder, Tom Ramage. (Foto: Grant Kinghorn/SA Rugby)

Nog twee Suid-Afrikaanse klubspelers het hul kans om in Skotland rugby te speel met albei hande aangegryp.

Die SA Rugbyunie (Saru) berig in ʼn nuusverklaring dat die jongste voordeeltrekkers uit die geslaagde Goue Beker-uitruilooreenkoms met die Skotse eersteligaklub, Selkirk, sommer met die intrapslag hul merk gemaak het.

Clinton Wagman, ʼn vleuel van Progress op George, het ʼn drie in elk van sy eerste twee wedstryde gedruk; en Siphamandla Dama, ʼn losvoorspeler van die klub Belhar, het ʼn puik buiging gemaak in Selkirk se sege Saterdag oor Dundee, wat hom in die reeks laat voorloop.

Hulle het die oog gevang in die afgelope reeks TV-beeldsendings van wedstryde in die aanspraak op Goue Beker-deelname, en sal die eerskomende paar maande by die klub speel.

Twee van die uitblinkers in vanjaar se GB-reeks sal eweneens die kans kry om in Skotland te gaan speel.

Die eerste uitruilspeler, Dashton Wellman, destyds die losskakel van Wesbank van Malmesbury, speel tans in sy tweede beroepseisoen in Frankryk.

Die tweede, Leon du Plessis, agsteman van Rustenburg Impala, het self ʼn wedstryd vir die Edinburgh-franchise gespeel, voor hy verlede jaar wéér as die GB-reeks se beste speler aangewys is.

Tythan Adams, ʼn vleuel van College Rovers van Durban en verlede jaar se beste agterspeler, het reeds vanjaar vir die Sharks Curriebekerrugby en vir die SA Akademiesewesspan gepeel, en is ingesluit in laasgenoemde span wat aan die Oktoberfest-sewestoernooi in München, Duitsland, gaan deelneem.

Die Brakpanse haker, Ian Oosthuizen, wat die beste voorspeler was, het vanjaar ʼn kontrak met die Boland Kavaliers losgeslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.