Nou weet almal van “Pastei-gate”

Wayne Shaw en sy pastei. (Foto: The Sun)

Wayne Shaw en sy pastei. (Foto: The Sun)

Die Amerikaners is meestal voor in die koor en dan volg die res.

Jare gelede was daar Watergate, wat tot die val van die Amerikaanse president Richard Nixon gelei het .

Hier by ons was daar Nkandla-gate, wat tot die val van niemand gelei het nie en onlangs was daar Gupta-gate, wat nog minder koppe sal laat rol.

Die Sutton-sokkerklub in die suide van Londen, wat op die Engelse vyfdeliga-vlak speel, is nou om verkeerde redes in die kollig oor `n weddenskap oor `n pastei, wat deur die 45-jarige plaasvervanger-doelwagter, Wayne Shaw, tydens Maandagaand se uitspeelwedstryd in die FA-bekerreeks teen Arsenal verorber is.

Daar is nou allerhande beweringe van knoeiery en Shaw het Dinsdag uit die liga bedank.

Die probleem is dat `n beroepswedders-maatskappy die klub vir die belangrikste wedstryd in dié span se geskiedenis geborg het. Hulle het voor die tyd `n weddenskap van 8/1 aangebied dat Shaw aan `n pastei sou knibbel … en toe het hy.

Nadat Sutton al sy plaasvervangers opgestuur het, het Shaw na `n kosstalletjie gestap, `n pastei gekoop en voor die televisiekameras daaraan weggelê.

Was dit `n blote grappie, `n vriendelike weddenskap tussen spanmaats, of steek daar waarheid daarin dat `n groot weddenskap daarop geplaas is en `n vyfsyfer-bedrag aan ‘n wedder uitbetaal is?

Shaw het Dinsdag tydens `n geselsie met die klub se voorsitter in trane uitgebars, maar die hou teen die kennebak gevat en uit die liga bedank (ek het nie geweet dat `n mens dit kan doen nie).

Punt nommer een: Moet beroepswedders spanne, sportsoorte en byeenkomste borg, ook hier in Suid-Afrika?

Punt nommer twee: Dis hoekom sportlui oorversigtig moet wees, want hulle bly dag en nag in die kollig, hulle moet `n voorbeeld stel, want hulle is rolmodelle.

Dis hoekom die optrede van All Black-losskakel Dan Carter geloof moet word nadat hy in Parys om verskoning gevra het nadat hy glo vier glase rooiwyn by `n amptelike funksie gedrink het, bestuur het en deur die Franse polisie vasgetrek is.

Carter sê hy het homself, sy gesin, rugby en sy land in die steek gelaat. Ek glo hy het werklik berou getoon, want hy is een van daardie rugbyspelers wat nie grys gebiede het nie … dis óf wit óf swart.

Punt nommer drie: daar is `n les uit albei voorvalle vir jong sportmanne, en veral rugbyspelers te leer … moenie jouself in `n posisie plaas waar jy die voorblaaie om verkeerde redes kan haal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

My tweesent bydrae ·

Hoe bedank n speler uit die liga as hy onder kontrak is ? Dalk het Sutton sy kontrak beeindig .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.