Pasop vir die tweede toets

Pasop vir die tweede toets.

Hierdie waarskuwing is al in elf van die volwaardige reekse van drie toetse of meer op eie bodem deur die Springbokke verontagsaam waarna die tweede toets op ʼn neerlaag of gelykopuitslag uitgeloop het.

Kom ons kyk na die groot glipse in Suid-Afrika se tweede toetse nadat daar, dikwels heeltemal teen die verwagting, in die eerste toets ʼn uitstaande oorwinning was.

Reekse teen Nieu-Seeland

Die All Blacks, en ook die Nieu-Seelandse Kavaliers wat weens politieke redes hier met hul volle toetsspan minus twee spelers in 1986 hier kom toer het, het vier keer in die strik getrap om oorgerus te raak na hul oorwinnings oor Suid-Afrika se provinsiale spanne; die eerste toets te verloor en dan die tweede te wen.

♦  Die eerste reeks teen die All Blacks in Suid-Afrika in 1928 is soos die eerste reeks tussen die twee lande in 1921 in Nieu-seeland gedeel. Phil Mostert-hulle het die eerste toets in Durban op ʼn drafstap 17-0 gewen, en die tweede op Ellispark met 6-7 verloor.

♦  Soos in 1970, toe Dawie de Villiers-hulle die All Blacks geskud het, was die Bokke in 1960 ook in ʼn onsekere tydvak. Hulle het in 1958 die eerste keer sedert 1896 ʼn tuistoetsreeks (van net twee toetse) teen die Franse verloor nadat die eerste op Nuweland gelykop was en die tweede op Ellispark met 9-5 deur die Hane gewen is.

In die Bokke se vorige reeks, in 1956 in Nieu-Seeland, het hulle boonop die heel eerste keer, tuis of weg, sedert 1896 ʼn reeks verloor.

Die toets op Ellispark was die toets van die Houtperd, die vleuel Hennie van Zyl. Hy het twee keer gaan druk. Die losskakel Keith Oxlee se towertoertjies het die bal langs die agterlyn af aan Van Zyl besorg. Hy het albei kere om die heelagter Don Clark gehardloop en die eerste toets is gewen.

Toe is die tweede op Nuweland met 3-11 verloor en was die Bokke onder druk om die reeks te wen, wat hulle gedoen het.

♦  In 1970 het Nieu-Seeland in Suid-Afrika aangekom met die rekord van 17 opeenvolgende toetsoorwinnings tussen 1965 en1970; hulle het die provinsiale spanne uitmekaargehaal; en die Bokke net sewe maande vantevore, op die betogertoer deur Brittanje en Ierland, nie een van die vier toetse kon wen nie.

In die dae toe tuisspanne eers die Donderdag voor die toets kon saamtrek, het Dawie de Villiers se span die skynbaar onoorwinbare Kiwi’s met 17-6 hokgeslaan nadat Joggie Jansen die arme Wayne Cottrell só geloop het dat sy spelpeil nooit weer dieselfde op die toer was nie.

Maar twee weke later in die bakleitoets op Nuweland het die Kiwi’s wraak geneem. Die Bokhaker Piston van Wyk is bebloed en deurmekaar van die veld gehelp; die vleuel Syd Nomis het sy voortande met ʼn elmboog-loop van Fergie McCormack verloor toe die heelagter Nomis geklits het terwyl hy die bal jaag; en die noodhulpkamer van daardie dae het letterlik na ʼn slagveld gelyk.

♦  In 1976 het die Bokke van Morné du Plessis ook die eerste toets in Durban gewen met die vaart van Gerrie Germishuys toe hy aan die suid-oostekant óm die Kiwi’s is om te gaan druk wat jou bybly.

Die tweede toets in Bloemfontein is met 9-15 deur die Bokke verloor, maar hulle het toe 15-10 op Nuweland en 14-14 op Ellispark die reeks gewen.

♦  In 1986 het Naas Botha-hulle die Kavaliers met 21-15 op ʼn nat Nuweland geklop; en toe die tweede toets in Durban met 18-19 verloor. Hulle het daarna die laaste twee toetse gewen om die reeks te beklink.

Australië

Australië het ook drie keer die eerste toets teen die Bokke verloor en die tweede een gewen.

♦  In 1933, onder Philip Nel, het Suid-Afrika die eerste toets in Kaapstad met 17-3  gewen, en toe die tweede onder Bennie Osler met 6-21 verloor. Nel het toe weer oorgeneem en Suid-Afrika het sy enigste reeks van vyf toetse met 3-2 gewen.

♦  Hennie Muller-hulle, was groot gunstelinge om die Wallabies in 1953 te klop na die 1951/’52-toer deur Brittanje, Ierland en Frankryk waar hulle net een wedstryd verloor het,.

Hulle het goed teen die Wallabies weggespring en die eerste toets met 25-3 op Ellispark gewen maar in die tweede met 14-18 op Nuweland in die hek geduik maar die reeks met twee goeie seges beklink.

♦  In 1963 was Abie Malan kaptein in die eerste toets wat die Bokke met 14-3 op Loftus gewen het. Toe verloor hulle die tweede in Kaapstad 5-9 en Abie word deur sy naamgenoot Avril as kaptein vervang. Dié toets is ook verloor. Abie is toe weer as kaptein aangestel en die vierde toets is gewen en die reeks met twee-elk gedeel.

Britse Leeus

Dougie Morkel se span het in 1910 die eerste toets teen die Britse Leeus op Ellispark met 14-10 gewen en toe met 3-8 in die Baai verloor.

En Dawie-de Villiers-hulle het in 1968 gewen en toe in die tweede toets gelykop gespeeldie leeus gelkykop gespeel.

Frankryk

In 1993 het was die eerste toets teen die Hane gelykop, 20-elk, maar die Franse het die tweede op Ellispark met 19-18 gewen.

Dit was wel nie ʼn volle reeks nie, maar het soos in 1958 die tweetoets-reeks aan die Franse besorg.

In 1958 was dit die heel eerste neerlaag in reeks op tuisbodem vir die Bokke sedert 1896 na die eerste toets in Kaapstad met 3-elk gelykop was en die Franse toe op Ellispark met 9-5 gewen het.

In 1971 het die Springbokke die eerste toets gewen en in die tweede van die mini-reeks gelykop gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.