Saders se kliniese aanvalle te veel vir Cheetahs se keerwerk

Die Crusaders was nie op hulle beste nie, die Cheetahs was goed met die bal in die hand en dit was ʼn lekker wedstryd in die Vrystaatstadion waar die Kiwi‘s Saterdag met 48-21 gewen het.

Geen span kan, soos die Cheetahs Saterdag, feitlik ʼn derde van sy duikslae mis en nog wen nie, en dit is presies daar waar die Crusaders hulle lof verdien in die wedstryd waar albei spanne heelwat gehardloop het.

Dit was nie net swak keerwerk van die Vrystaters nie. Daar was dikwels drie, vier Saders teen een of twee verdedigers, en dit was op die ou end net te veel vir die Cheetahs om te teen staande te bly.

Crusaders se afronding met die bal in die hand, nie noodwendig om die drieë te druk nie maar met hulle opsies, besluitneming en presiese aangeë was beter.

In elk geval, om 43 duikslae te verbrou en 94 suksesvol uit te voer, geen aan jou ʼn suksespersentasie van net 68 persent. Dis die Cheetahs se syfers. Crusaders se sukses was 74 persent (62 uit 83), maar die verskil was natuurlik ook in die veel meer besit wat hulle gehad het.

Daar was skitterende drieë van albei spanne tussen die tien wat wel toegeken is, waarvan sewe deur die Crusaders gedruk is en drie deur die Vrystaters, die laaste met die wedstryd se laaste beweging.

Daar was egter een, ʼn pragtige aanloop en met goeie ondersteuning, van die Cheetahs wat kort voor rustyd op aandrang van die televisieskeidsregter nie toegeken is nie.

Dit sou die telling kort voor rustyd 15-14 gemaak het. Maar van die hervatting af het Crusaders so ʼn lange oor die veld na hulle linkervleuel George Bridge geskop wat met geen teenstander in sig nie op die kantlyn raakgevang en 60 meter verder gaan druk het.

Bridge het Saterdag sy tweede driekuns op twee opeenvolgende naweke behaal.

Die rustydtelling was dus 22-7, en na rustyd het hulle nog vier drieë en 26 punte bygevoeg.

♦  Dit was die Vrystaat se sesde opeenvolgende neerlaag nadat hulle hul die tweede en derde wedstryde teen die Bulls (34-28) en die Sunwolves (38-31) naelskraap gewen het.

Aanstaande week wag die Highlanders wat die naweek die Stormers 57-14 verwoes het en dan speel die Cheetahs in Nieu-Seeland teen die Blues en die verdedigende kampioen, die Hurricanes.

Puntemakers –

Cheetahs (7) 21: Drieë: Raymond Rhule, Ox Nche, Sergeal Petersen
Doelskoppe: Niel Marais 3
Crusaders (22) 48: Drieë: George Bridge 3, David Havili 2, Richie Mo’unga, Mitchell Drummond. Doelskoppe: Mo’unga 5. Strafdoel: Mo’unga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.