Ses tuiswedstryde uit eerste agt gaan aan Lions se sak pluk

Vir die Lions, die verloorspan in die afgelope twee jaar se Super-eindstryd, is die loting vir aanstaande jaar se Super15-reeks wat op 17 Februarie begin nie net goeie nuus nie.

Die Lions speel wel hul eerste wedstryd, teen die Sharks, tuis – maar dan volg nog vyf tuiswedstryde uit die volgende sewe kragmetings. Dus begin die reeks met ses tuiswedstryde tussen hulle eerste agt wedstryde in die reeks.

Dit beteken dat hulle in die tweede helfte van die reeks net twee uit agt tuiswedstryde sal hê – allermins ideaal as ʼn span begin veg om die uitspeelrondes te haal.

ʼn Verdere nadeel vir die Lions sal natuurlik die toeskouerbywoning wees. Toeskouers sal nie sommer geneë wees om ses naweke uit die eerste agt in die reeks op Ellispark te gaan sit en rugby kyk nie.

Die uitgawes week ná week in ʼn stadion waar gesinsbywoning opvallend is, sal ongetwyfeld ʼn finansiële nadeel vir die franchise inhou.

♦  Drie van die vier Suid-Afrikaanse spanne is op die eerste dag van die nuwe Super15-reeks in aksie wanneer die Lions en die Sharks  teen mekaar speel  en die Stormers tuis teen die Jaguares te staan kom.

Die Bulls het op 17 Februarie, wanneer die toernooi afskop, ʼn loslootjie.

Daar is drie groepe van vyf spanne elk. Genoemde vyf spanne is in die SA groep ingedeel.

Die Australiese groep sluit die Sunwolves in wat saam met Australië se Brumbies, Rebels, Reds en Waratahs ingedeel is. Nieu-Seeland, wat vyf spanne in die toernooi het, se groep bestaan uit die verdedigende kampioen, die Crusaders, Chiefs, Hurricanes, Highlanders en die Blues.

Elke span sal 16 wedstryde speel – twee keer (tuis en weg) teen elke span in sy eie groep, en dan een wedstryd teen die vier van die vyf spanne in elk van die ander twee groepe. Vier van hierdie agt wedstryde sal tuis en vyf weg gespeel word.

Agt spanne sal aan die sewe uitspeelwedstryde deelneem waarvan die besonderhede nog nie bekend gemaak is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

So die sirkus hou maar net aan. Dit word nou maar net die amper regte Curriebeker toernooi sonder die Vrystaat. So ook met NZ en AUS. Vir die res word dit gekamofleer met wedstryde teen die ander 2 lande.

Nico K ·

Ek verstaan heeltemal die idee agter die besluit om elke land se spanne in hul eie groep te plaas. Toeskouers wil veel eerder die Bulle teen die WP of Leeus teen die Haaie sien speel as teen ‘n Australiese span. Maar dit is vir my ook vreemd want ek dog dit was die hele idee hoekom hulle die reeks verklein het. Sodat almal teen almal kan speel. Ek was nog altyd ten gunste van ‘n reeks waar die SA spanne teen mekaar uitspeel (Curriebekerreeks?) En die sê top 3 dan teen Aus en NZ in die eindrondes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.