Só is unies in drie groepe vir nuwe reeks ingedeel

sa-rugby-logo-cropDie voorlopige indelings van die nuwe provinsiale reeks is deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vir voorlegging aan die onderskeie unies gestuur en daarvolgens begin die eerste ronde op 22 April.

Die provinsiale reeks, wat na verwagting die SuperSport-uitdaagreeks genoem sal word, sal uit drie groepe bestaan met elke unie wat een tuis- en een wegwedstryd teen die ander unies in sy groep speel.

Die dokument, wat net aan die provinsiale unies versprei is en wat Pale Toe! onder oë gehad het, bepaal dat die 14 provinsiale unies en Namibië in drie groepe ingedeel word. Elke unie sal dus in agt groepwedstryde betrokke wees, voordat die uitkloprondes aanbreek.

Die ‘Noordgroep’ sal volgens die huidige indeling bestaan uit die Blou Bulle, die Goue Leeus, die Valke, die Pumas en Namibië.

Die ‘Sentrale groep’ sal bestaan uit die Sharks, Griekwas, die Vrystaat, die Luiperds en die Griffons.

Die ‘Suidgroep’ sal bestaan uit die Grens, die Westelike Provinsie (WP), die Oostelike Provinsie (OP), die Suidwestelike Distrikte (SWD) en die Boland.

Dit is waarskynlik om koste te bespaar dat die unies in groepe ingedeel is wat geografies relatief naby aan mekaar geleë is.

Selfs met die groter unies wat weens Superrugby-verpligtinge weer XV-talle in dié kompetisie in die veld gaan stoot, kan die mededinging in ’n groep soos die Noordgroep straf wees met die Blou Bulle, die Goue Leeus, die Valke, die Pumas en moontlik ook Namibië wat goed teen mekaar kan opweeg.

Hoewel dit nog gefinaliseer moet word, dui die voorlopige bepalings daarop dat die Grens en die WP, en ook die OP en die SWD, se eersteronde-wedstryde op Sondag 23 April in die Zwide-stadion in Port Elizabeth beslis gaan word.

Uit die voorlopige bepalings is dit ook duidelik dat daar ’n fokus op klubrugby en gemeenskapsbetrokkenheid is. Die Goue Leeus en Blou Bulle pak mekaar byvoorbeeld op Sondag 25 Junie in die Bill Jardine-stadion in Johannesburg. Een van die voorwedstryde op dié dag is tussen die klubs Raiders en Pirates, wat moontlik ’n belangrike wedstryd vir kwalifisering vir die Goue Bekerreeks kan wees.

Dit blyk dat die twee spanne in elke groep wat die meeste punte na die rondomtalie-ronde in die provinsiale reeks het, elkeen gasheer sal speel vir twee kwarteindwedstryde wat op dieselfde dag by ’n klub in hierdie twee unies beslis sal word.

Dit word nie eksplisiet in die dokument wat Pale Toe! onder oë gehad het so gestel nie, maar benewens die ses spanne wat as ‘boonste twee’ in elke groep van die uitdaagreeks kwalifiseer, sal die volgende twee spanne met die meeste ligapunte in die drie afdelings waarskynlik die kwarteind-agttal voltooi.

Sondag 2 Julie is die voorlopige datum wat hiervoor opsy gesit is.

Albei halfeindstryde sal op dieselfde dag op dieselfde veld gespeel word by ʼn klub in dié unie wat die meeste punte op die reeks se punteleer het, ongeag in watter groep hy was. Sondag 9 Julie is die voorlopige datum vir die halfeindstryde.

Die eindronde sal gespeel word by ’n klub in dié unie wat die meeste punte op die reeks se punteleer gehad het. Die voorlopige datum hiervoor is Sondag 16 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

“om kostes te bespaar is groepe wat geografies relatief naby mekar gelee is”, Durban en Kimberly is relatief baie VER van mekaar of verstaan ek nie GEOGRAFIES nie??

Wim van der Berg ·

Dit is die ‘tradisionele’ indeling van die unies, soos ook vir die provinsiale amateurreeks gebruik word. Die Sharks kon juis vanwee afstande nie in die suidelike groep inpas nie omdat die WP (en Boland) by die 1700 km en George sowat 1400 km van Durban af is.
Kimberley is wel 800km ver, maar Potchefstroom en Bloemfontein is sowat 630 km en Welkom maar sowat 560 km van Durban af. Dit sou, met die uitsondering van (net-net) Kimberley, dus nie veel verskil gemaak het as die KwaZulu-Natallers by de Noordstreek ingedeel was nie. Die praktiese werklikheid is dat jy daarmee dan drie van die groot bonde, saam met die Bulls en dne Lions, in een groep sou he, en ses spanne ipv vyf in een van die groepe en net vier nin een van die oorblywende indelings.

Basie Botha ·

Waar sou U Griekwas – Kimberly of Sharks / Natal – Durban, dan in gedeel het? om al 3 groepe gebalanseerd en ewe groort te hou? gee asb U weergawe van Noord -, Sentraal- en Suid groepe.

Hennie ·

Basie, ek het die stelling van “geografies relatief naby mekaar”gekritiseer, persoonlik is die indeling irrelevant dit werk vir alle sportsoorte dieselde.

Riaan Engelbrecht ·

Dit is baie hartseer dat rugby geskuif word na Sondae om die borg tevrede te stel. Ek glo daar sou oorgenoeg borge gekry kon word wat bereid was om borg te staan en dat rugby nogsteeds op Saterdae gespeel kon word. Sondag is die een dag in die week wat ons God kan eer en in Sy huis kan vergader. Hoekom Hom opsystoot ter wille van ‘n “Borg” wat wil he dit moet nou op Sondae gespeel word. Sal maar my liefde vir rugby verloor want dit is vir my onaanvaarbaar.

Hennie ·

Riaan met alle respek, sport op Sondae is glad niks nuuts, Krieket, Golf, Sokker, Motorsport, ens., waarom nie Rugby ook nie? Dit bly elkeen se keuse hoe hy/dsy die dag wil spandeer.

PETER TEBBUTT ·

Ek stem saam met Riaan Sondag is nie n Rugby dag nie Dit is weer net n bewys hoe die duiwel infiltreer in ons gemeenskap maar geld is weer die kern en weereens val die mens vir rykdom in plaas van geloof. As ons nie reen kry bid die land vir reen Sodra ons dit kry vergeet ons weer alles wat die liewe vader vir ons doen Al word ander sport op n Sondag uitgeoefen is dit maar net n bewys waarheen die mens neig weg van Christen skap. Dit is vry vir elke mens om te glo en doen wat vir hom pas maar die mense ek vra nederig keer terug na ware Christenskap en kom ons eer God op een dag wat uitgesit is vir ons nie vir sport

Frans C ·

My grootste probleem met alle rugbyplanne in Suid Afrika was nog altyd dat ons te veel van dieselfde spelers in aksie sien.Superrugbyspanne is meesal versterkte curriebekerspanne,terwyl Curriebekerspanne weer afgewaterde superrugbyspanne is.

Dit is duidelik dat niemand in Suid Afrika ‘n onderskeid wil tref tussen amateur en beroepsrugby nie.In Engeland is daar tans ‘n groot oproep dat klubs moet terugkeer na hul amateurstatus.

In 2011 klop die Goue leeus ‘n sterbelaaide Sharksspan redelik maklik op Ellispark.
Van die 2011 Goue Leesspan het egter min oorgebly. As SARU werklik rugby will bevorder
moet die kodes geskei word,sodat daar altyd plek vir nuwe talent sal wees.

Sodra ‘n speler ‘n beroepskeuse uitgeoefen het moet hy nie toegelaat word, om na die amateurkode terug te keer nie,so sal daar altyd plek vir nuwe opwindende talent wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.