Spelersverlies knou 2 vooraanstaande KZN-klubs

middellande-kzn`n Verlies aan spelers het twee van die bekendste KwaZulu-Natalse klubs `n ernstige knou toegedien.

Piet Herbst, die voorsitter van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Middellandse Subunie, berig dat sowel die UKZN Impi (Pietermaritzburg) as Pietermaritzburg Collegians spelers verloor het en `n moeilike seisoen in die gesig staar.

Impi ding in die KZNRU se Premier- en Premierreserweliga mee; en Collegians in die bond se Eerste en Reserweliga.

Laasgenoemde, een van die bond se oudste klubs, het voorverlede seisoen nog in die Premierliga meegeding.

Daar heers ook nog onsekerheid of KZNU III sy verpligtinge in die subunie se Derde Liga, en Greytown II – die klub van die legendariese Springbok-kaptein Philip Nel – syne in die Vierde Liga sal kan nakom.

Tans lyk dit of minstens Drakensberg (Winterton), Ladysmith, Voortrekker-oudleerlinge (Pietermaritzburg) en Greytown in die Derde Liga, en Cedara, Obhejane, Nagle Dam Rhinos, Howick Eagles en Young Lions in die Vierde Liga sal speel.

Herbst sê die ligas begin 7 April, en die Derde sal waarskynlik oor drie rondes en die Vierde oor twee rondes beslis word.
Ná afloop van die ligaseisoen sal die klubs om die uitklopbekers meeding.

Hy sê die subunie het probeer om n gekombineerde o.20-span op die been te bring, maar kon nie daarin slaag nie.

“Dis moeilik om te glo, maar daar is eenvoudig nie genoeg o.20-spelers in die Middelland nie,” het hy aan Pale Toe! gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.