Sukkel-Sharks kry Kings eers teen die einde onder

sharks-logoMiskien moet ons nie die kleintjies soos die Sunwolves en die Southern Kings meer so lig kyk nie. Of miskien moet ons meer bekommerd wees oor ons sogenaamde gevestigde franchise’e se rugbygehalte.

Dit is nietemin opvallend dat die uiters teleurstellende Sharks Saterdagaand teen die Kings vir 39 minute tussen die 32ste en 71ste minute agtergeloop het. Die voorsprong het van ʼn strafdoel van sowat 54 meter van Curwin Bosch gekom.

Die Sharks het met 19-17 gewen, met ʼn gebrek aan ʼn wedstrydplan en ʼn algemene gebrek aan beheer. Hulle was voorlangs miskien die beste daaraan toe, maar agter het hulle verdwaas voorgekom totdat die 2007-Springbok Michael Claassen op skrumskakel en Garth April as losskakel effens struktuur gebring het.

Hulle is in die lynstane goed opgedreun deur Irné Herbst en Willem van der Sluys, het goed geskrum en het ʼn keer of wat onder verkeerde beslissings deurgeloop.

Wat uit die wedstryd geleer is, is dat Chris Cloete saam met die heel beste baljagters kan gesels, dat die Kings stukke beter is as verlede jaar en duidelik ʼn lekker spangees het, en dat die Sharks, wat ʼn paar veranderinge gemaak het, se diepte nie indrukwekkend kan wees as Saterdagaand se geploeter ʼn aanduiding daarvan is nie.

Die Sharksafrigter Robert du Preez moet effens bekommerd wees. Hulle speel oor die volgende drie weke weg teen die Cheetahs, weg teen die Lions en tuis teen die Jaguares.

Sy bestes wat gekies sal word, sal hopelik meer toewyding, rigting en dinkwerk na die wedstryde bring as Saterdagaand se spulletjie, anders kan hulle van sukses in  die Superreeks vergeet.

Puntemakers –

Sharks: Drieë: Lourens Adriaanse, Kobus van Wyk. Strafdoele: Curwin Bosch.
Southern Kings:
Drieë: Ruaan Lerm, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Lionel Cronjé 2. Strafdoel: Cronjé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Seker die beste Kings wedstryd, en die swakste Sharks s’n. Die Kings het ‘n kopskuif gemaak en amper die Sharks gewen. Lui Japan teen SA ‘n klokkie?

Frans C ·

Dit moet duidelik uit die vertonings van Superrugbyspanne wees,dat elke span ‘n ‘A’ en ‘B’span het. Speel die ‘A’span lyk dinge goed.Haal ‘n paar sleutelspelers uit en die spanne soos die Lions en Sharks sukkel.

Dit wys vir my daar is nie soveel diepte in Suid Afrika as wat ‘n mens dink nie.Daar is hope talentvolle spelers maar min soos dr Graven sou gesê het ‘footballers’ ouens wat ‘n wedstryd kan swaai ook met min balbesit.

My Superbru se wenprestasie staan nietemin op 79% na ‘voltal in rondte 4.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.