SuperSport-uitdaagreeks: die eerste skote klap die naweek

Die eerste wedstryde van die nuwe SuperSport-uitdaagreeks word die naweek beslis.

Dié reeks wat tussen die 14 provinsiale unies en die Welwitchias van Namibië beslis word, vul die gaping wat gelaat is toe die Vodacombeker-reeks in 2015 tot ’n einde gekom het.

Twee van die naweek se wedstryde is voorwedstryde vir Superrugby-kragmetings wat beslis word.

In Pretoria sal die Blou Bulle en die Pumas Saterdagmiddag toeskouers in die regte stemming kry vir die Superwedstryd tussen die Bulls en die Cheetahs.

Die Sharks-vyftiental sal op hulle beurt vir Griekwas in Durban ontvang in ’n voorwedstryd vir die Superrugby-kragmeting tussen die Sharks en die Rebels.

Hokaai as jy dink dit is ’n afgewaterde besigheid dié. Van Suid-Afrika se voorste skeidsregters, Jaco van Heerden, Pro Legoete, Quinton Immelman, Cwengile Jadezweni, Rasta Rasivhenge en Stuart Berry gaan in die wedstryde die 31ste man op die veld wees.

Voeg daarby die aantal ervare spelers soos Odwa Ndungane wat die Sharks-vyftiental aanvoer, die Blou Bulle se senterpaar Divan Rossouw en Joshua Stander wat deel van die Tukkiespan was wat die afgelope Maandag die Varsitybeker verower het, en jy sal dwaas wees om dit sommer ’n hierjy-reeks te noem.

Griekwas, wat deur die heelagter AJ Coertzen aangevoer word, span vir George Whitehead, wat verlede jaar instrumenteel in die Griffons se verowering van die Eerste Liga-kroon was, op losskakel in.

Die Pumas het die voormalige Cheetahs-losskakel Sias Ebersohn op heelagter gekies, met die voormalige Luiperd Hennie Skorbinski wat op senter gekies is en ook die Laevelders sal aanvoer.

Die eerste ronde se bepalings:

Saterdag 22 April

Blue Bulle vs Pumas
Veld: Loftus Versfeld
Afskop: 14:30
Skeidsregter: Jaco van Heerden

Sharks-vyftiental vs Griekwas
Veld: Kingspark
Afskop: 17:00
Skeidsregter: Stuart Berry

Valke vs Welwitschias
Veld: Barnard-stadium
Afskop: 15:00
Skeidsregter: Quinton Immelman 

Griffons vs Luiperds
Veld: HT Pelatona Projects-stadion
Afskop: 15:00
Skeidsregter: Pro Legoete

Sondag 23 April

Border Bulldogs vs Boland
Veld: Wolfson-stadion
Afskop: 13:00 (Regstreeks op SuperSport)
Skeidsregter: Cwengile Jadezweni

Oostelike Provinsie vs Westelike Provinsie
Veld: Wolfson Stadion
Afskop: 15:00 (Regstreeks op SuperSport)
Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.