Twee klubs nog elke keer in GB-kwarteind

Twee van die klubs wat Saterdag in die kwarteindronde van die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Bekerreeks speel, was nog elke keer daar sedert die reeks in 2013 as die Gemeenskapsbeker in sy huidige vorm ingestel is.

Dis die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), wat al twee keer die titel gewen het, en College Rovers (KwaZulu-Natal), wat in 2013 naelskraap met 24-26 in die eindstryd teen Despatch verloor het.

Impala speel Saterdag op Rustenburg teen Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle), en behoort in weerwil van die besoekers se merkwaardige vertoning vanjaar – hy het verlede jaar nog op reserweligavlak gespeel – met die louere weg te stap.

Rovers speel in Kaapstad teen Tygerberg (Westelike Provinsie), en sal vind dat die Tiere allermins katjies is wat sonder handskoene gepak kan word, en dat die fanatieke tuisskare weet hoe om sy span ten beste aan te vuur.

Die klub Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) het vroeër vanjaar voortgespruit uit die samesmelting van Pretoria Polisie, ʼn driemalige kwarteinder, en Harlequins.

Daar is nog heelwat GB-ervaring in QBR-geledere, en die feit dat hy een van die strafste ligas in die land, die Carltonliga, gewen het, maak van hom die gunsteling om Sasol van Secunda (Pumas) te klop – al moet hy dalk teen oorgerustheid waak.

Die enigste ander span wat tevore die kwarteind gehaal het, is Valsbaai (WP), wat op die ou end verlede jaar met 24-48 in die eindstryd teen Impala verloor het.

Hy speel tuis teen Progress George (Suidwestelike Distrikte), en hoewel die besoekers ʼn handvol kan wees, sal dit grootliks verras as hulle die Baai kan ondersit.

Afskoptye –

Saterdag

15:00 Valsbaai teen Progress George, Philip Herbsteinpark, Constantia, Kaapstad.

16:00 Tygerberg teen College Rovers, Floridapark, Ravensmead, Kaapstad.

16:00 QBR teen Sasol Secunda, Harlequinklub, Groenkloof, Pretoria.

16:00 Impala teen Northam, Impala-rugbyklub, Rustenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.