Ná sy laaste vriendskaplike wedstryd Vrydag teen Volksrust is Boschpick Newcastle Highlanders in ʼn positiewe stemming vir die KwaZulu-Natalse ligas wat Saterdag afskop.
Newcastle het ʼn tweede keer teen Volksrust gespeel nadat Bethlehem-oudskoliere en Piet Retief aan hul beoogde kragmetings teen Highlanders onttrek het.
Hy het die keer met 26-5 teen Volksrust gewen, ná sy vorige sege van 35-9 en ʼn oorwinning van 41-21 oor Standerton. Newcastle se tweede span het in al drie gevalle ook goed gewen en oor die 50 punte aangeteken.
André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, sê verskeie o.20-nuwelinge het getoon dat hulle ook in die Pemierliga tuis sal wees.
“Ruan Fourie (agsteman), Shane van Rooyen (losskakel), Mthoko Nkwanauna (haker) en Senzo Ntsele (buitesenter) is almal nog o.20. Nog ʼn nuweling, Shaun Smith (regtervleuel), het beïndruk met sy vaart en verdediging.
“Boonop sal beseerdes soos Ferrari Hadebe (linkervleuel), Max Mkheze (buitesenter), Gift Mabaso (binnesenter) en Wynand Pelser (stut) binnekort na die speelveld terugkeer.”
Newcastle se eerste Premierliga-wedstryd vanjaar is Saterdag teen Varsity College by die KZN-rugbyunie se Wahl Bartmann-rugbydag op Kingspark.
Al vier die klub se spanne is die naweek in aksie. Naas die eerste twee wat in Durban speel, speel die derde tuis teen die Bergville Zebras in die Noord-KZN-subunie se Derde Liga, en die o.20-span eweneens tuis teen College Rovers.