VRU-liga: sewe ding mee om Stadsbeker

Sewe spanne ding vanjaar om die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) se Stadsuitdaagbeker mee, waarvan vier ook sake uitspook om vir die internasionale reeks om die Goue Beker (GB) in aanmerking te kom.

Die bond se ligawedstryde begin Saterdag.

Die Mangaung-Metroliga word oor ʼn enkelronde en twee uitspeelrondes tussen Collegians, Crusaders, Bloemfontein Polisie, Irawas (Universiteit van die Vrystaat), Ixias (Sentrale Universiteit vir Tegnologie), Shimlas (UVS) en Steyners beslis.

Collegians, Crusaders, Polisie en Steyners se wedstryde in die liga tel as die eerste ronde met die oog op GB-deelname, maar na afloop van die Stadsbekerwedstryde, speel hulle ʼn tweede ronde.

Die een wat boaan die punteleer eindig, sal die Vrystaat vanjaar in die reeks om die GB verteenwoordig.

In die eerste ronde Saterdag speel Crusaders teen Collegians (Clive Solomonstadion), die Ixias teen die Shimlas (SUT-stadion) en Steyners teen die Irawas (Steyners).

Die Tweede Liga word in twee groepe beslis.

Collegians II, Oud-Grey, Tjisas (SUT), UVS Ritsems, Mangaung en Polisie se jongspan is in Groep A, en Crusaders II, Polisie II, UVS o.21, Steyners II, Bloemfontein Weermag en Warriors in Groep B.

Oud-Grey en Weermag het jare lank onder die sterkste klubs in die Vrystaat getel.

Meltons, ʼn nuwe klub, sal verpligte vriendskaplike wedstryde teen die Tweede Ligaklubs speel.

Saterdag se bepalings is Crusaders II teen Collegians II; Tjisas teen UVS o.21; Steyners II teen Ritsems; Oud-Grey I teen Polisie II; Mangaung I teen Weermag I; en Warriors I teen Polisie Jongspan.

Die Derde Ligaspanne is Collegians III, Oud-Grey II, Shawas (SUT) en Mangaung II in Groep A, en Crusaders III, Oud-Grey III, Steyners III en Warriors II in Groep B.

Die enigste twee wedstryde Saterdag is tussen Crusaders en Collegians se derde spanne, en tussen Oud-Grey II en III.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.