Wallabies wen met bonuspunt; Bokke weer derde

Die Springbokke se bonuspunt in die amper-oorwinning oor die All Blacks was nie genoeg nie en Allister Coetzee se span het soos verlede jaar weer derde in die Rugbykampioenskap geëindig.

Toe die Springbokke Saterdag met net 24-25 op Nuweland verloor en ʼn verloor-bonuspunt gekry het, moes Australië ten minste die wedstryd vroegoggend (SA tyd) in Mendoza teen die Poemas wen, met die punteverskil wat hulle dan die tweede plek sou besorg.

Hulle het egter in hulle oorwinning van 37-20 vyf drieë teen twee gedruk om dubbel seker te maak. Danksy die bonuspunt vir vyf drieë teen twee het hulle met een ligapunt voor die Bokke op die puntelys geëindig. Hulle het boonop ʼn batige punteverskil van 16 teenoor Suid-Afrika se negatiewe minus 16.

Dit was, ondanks die vyf drieë teen twee, geen maklike wedstryd vir die Wallabies nie. Na 57 minute was die telling nog op 20-elk gelykop. Will Genia het toe vier minute later Australië se vierde drie gaan druk.

Die Poemas het egter verwoed teruggeveg en die uitslag is eintlik eers beklink toe Marco Kremer van die tuisspan in die 70ste minuut ʼn geelkaart gekry het.

Australië het die ekstra man benut en Reece Hodges het sy tweede drie net drie minute voor die einde gaan druk wat ook die bonuspunt verseker het toe die Wallabies daarmee die vereiste drie drieë meer as die Poemas gedruk het.

Die Poemas het nie ‘n enkele ligapunt in vanjaar se reeks behaal nie.

Puntemakers –

Argentinië (13) 20: Drieë:: Matias Alemanno, Jeronimo de la Fuente Doelskop: Nicolás Sánchez Strafdoele: Sánchez
Australië (13) 37: Drieë: Marika Koroibete, Reece Hodge 2, Bernard Foley, Will Genia.   Doelskoppe: Foley 3 Strafdoele: Foley 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.