Word Senatla nie te vroeg ryp gedruk nie?

Seabelo Senatla – is hy al reg vir groot rugby? (Foto: Via TouTube)

Is Seabelo Senatla, een van internasionale sewesrugby se heel grootstes, werklik op meriete in die SA A-span in die plek van die beseerde Jamba Ulengo opgeneem?

Moontlik, maar of hy op meriete gekies is of nie, kan daar steeds gevra word of Senatla nie te vroeg ryp gedruk word nie.

Niemand betwis Senatla se aanvoeling, sy vaart en sy algemene vermoë nie. Maar dit was in sewes. Dit is nie sommer so as jy kyk na hoe min manne dit reggekry het om direk van sewes na toetsrugby te vorder nie – in elk geval nie vandat Paul Treu die sewes-akademiekonsep ingestel het waarin in sewesspelers se ontwikkeling en groei gespesialiseer word nie.

Om Senatla, nadat hy van die Blitsbokke af in ʼn ietwat sukkelende Stormerspan min kans gekry en effens uit sy diepte gelyk het, skielik bo ander aanspraakmakers te kies laat ʼn mens weer oor merietekeuse (waarvan ons al te bewus is) en veral toekomsbeplanning van die speler wonder.

Kyk jy na die spoedvraatmanne, soos Dan Norton en Perry Baker, is Senatla ongetwyfeld van ʼn ander stoffasie.

Sewes is egter, hoe jy ook daarna kyk, gewis nie dieselfde spel nie, selfs al neem jy die vele voordele wat sewes na vyftienmanrugby bring in ag.

♦  Niemand sê Senatla was tot dusver vrot nie. Die vraag bly egter: Hoeveel van die sewessterre het ooit dadelik in vyftienmanrugby uitgeblink?

Nie Cecil Afrika nie, kwalik Juan de Jongh wat nooit as Springbok regtig oortuig het nie, nie Rosko Specman as vleuel by die Pumas nie, of Werner Kok of Cheslin Kolbe nie … ook nie Branco du Preez, Justin Geduld, Frankie Horne, Philip Snyman of Chris Dry nie. Paul Jordaan het ook nie by die Sharks deurgebreek nie.

Goed soos Kwagga Smit as oopkantflank vaar, is hy (moontlik weens sy grootte, ʼn mens sal nie weet nie) as losvoorspeler ook nie regtig op hoër vlak by die vyftienmanspel in aanvraag nie.

♦  Sewesspelers wat die afgelope jare Springbok geword het (en nie andersom nie) en feitlik direk násewes ook toetsrugby gespeel het, is dun gesaai. Net ʼn paar het dit gemaak: De Jongh, Gio Aplon, Ryan Kankowski, Jaco Pretorius, Warren Whiteley en Cornal Hendricks.

Daar is natuurlik heelwat ander, soos onder meer Jano Vermaak en Heinrich Brüssow, maar hulle het eers ʼn klompie jare se skoolgeld op Supervlak betaal.

♦  Hoe moet Kobus van Wyk voel wat oor die hoof gesien is en wat vanjaar kookwater is nadat hy van die Kaap af Durban toe verhuis het?

Van Suid-Afrikaanse spelers word sy vyf drieë deur slegs deur Courtnall Skosan (sewe), Makazole Mapimpi, Dillyn Leyds en Malcom Marx (almal van rolmale af) met ses drieë elk geklop.

Hy weet na dese hy is nie in keurdersaanvraag nie – en oorsese aanbiedinge sal nou sekerlik deur sy agent gesoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Hoe kan ons goeie spelers verkwalik word wanneer hulle hul bes lewer en steeds misgekyk word en dan oorsee gaan speel. Rugby is dié manne se werk en niemand kla wanneer iemand in ‘n normale beroep, in die buiteland gaan werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.