Vandag se sportnuus

Internasionale rugby

Die Bokke het Saterdag die derde toets op Ellispark teen die Franse gemaklik gewen. Suid-Afrika het met 35-12 geseëvier, en die reeks met drie-nul beklink. Die Bokke het hul geleenthede benut en as span goed saamgespeel.

Die SA “A”-span het die naweek teen die Franse Barbarians gespeel en met 48-28 koning gekraai.

Die langverwagte eerste toets tussen die Britse en Ierse Leeus en Nieu-Seeland is ook iets van die verlede. Die All Blacks het gewys waartoe hulle in staat is en alle fasette van die wedstryd oorheers. Die eindtelling was 30-15 in Nieu-Seeland se guns.

Krieket 

Die Proteas het Vrydag vir Engeland in die tweede T20-wedstryd met 3 lopies geklop. Gister in die derde T20-wedstryd het die Proteas gesukkel en ʼn groot pak slae gekry.

Engeland      181/8 (20 bb)
Suid-Afrika   162/7 (20 bb)

Engeland wen die wedstryd met 19 lopies en die reeks met 2-1.

Die Windies en Indië het gister in die tweede Eendagwedstryd kragte gemeet.

Indië               310/5 (43 bb)
Wes-Indië     205/6 (43 bb)

Indië wen met 105 lopies.

 Vrouekrieket

By die IKR se Wêreldbeker vir Vroue het Suid-Afrika gister teen Pakistan gespeel.

Pakistan 206/8 (50 bb)
Proteas 207/7 (49/50 bb)

Suid-Afrika wen met 3 paaltjies met 6 balle oor.

Tennis

By die Queensklub se Kampioenskapreeks in Londen het Feliciano Lopez die titel syne gemaak. Hy klop Marin Cilic met 4-6, 7-6 en 7-6.

By die Halle Ope in Duitsland het Roger Federer vir Alexander Zverev verspot maklik verslaan om die titel te verower . Die telling was 6-1, 6-3.

In die dubbelspel is Suid-Afrika se Raven Klaasen en Rajeef Ram van Amerika in die halfeind uitgeskakel.

Gholf

Die Travelers Kampioenskap is in Connecticut in die VSA afgehandel. Jordan Spieth het sy tiende PGA-titel beklink deur op die eerste uitspeelputjie die balletjie uit die sandkuil tot in die blikkie te slaan.

In Europa by die BMW Ope in München is die laaste ronde gister gespeel.

Motorwedrenne

Die Formule Een Grand Prix van Azerbaijan is gister gejaag. Sebastian Vettel is gepenaliseer vir gevaarlike bestuurstegnieke nadat hy doelbewus teen die titel-mededinger, Lewis Hamilton, vasgery het. Red Bull se Daniel Ricciardo was die wenner.

Die Nederlandse Moto GP is ook gister afgehandel.

Sokker

Twee Konfederasiebekerwedstryde is gister gespeel.

Supersport United het die eerste span geword om die Nedbankbeker-trofee suksesvol te verdedig. Hulle het Orlando Pirates met 4-1 in ʼn eensydige eindstryd in Durban geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.