Ontmoet Jarvis, Mark Zuckerberg se virtuele assistent

Mark Zuckerberg se plasing op Facebook oor hul nuwe AI-assistent, Jarvis

Mark Zuckerberg se plasing op Facebook oor hul nuwe AI-assistent, Jarvis

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, het ʼn lawwe video vrygestel oor ʼn virtuele assistent wat hy persoonlik vir hul gesin gebou het, genaamd Jarvis.

Die video wys ʼn paar van die opdragte wat Jarvis teoreties kan uitvoer. Dit blyk ʼn opgradeerde weergawe te wees van Amazon Echo, dié keer met Morgan Freeman se stem.

Die stelsel is nog nie volledig funksioneel nie, maar dit is reeds ʼn goeie voorbeeld van hoe ʼn robot-assistent sou kon werk.

Mark het Dinsdagaand die video op Facebook gelaai en dit is reeds deur meer as 13 miljoen persone gekyk. ʼn Grappige video wat hy ʼn paar uur later opgelaai het om te wys hoe sy vrou, Priscilla Chan, Jarvis ervaar het, is ook baie gewild en is deur meer as 3,3 miljoen mense gekyk.

“My persoonlike uitdaging vir 2016 was om ʼn eenvoudige kunsmatige intelligensie (AI) te bou om my huis te bestuur, net soos Jarvis in Iron Man,” verduidelik Mark in ʼn plasing op Facebook. “My doel was om meer te leer oor die stand van AI – ons is baie verder as wat mense besef, maar ons het nog ʼn lang pad wat voorlê. Hierdie uitdagings help my om meer te leer as wat ek verwag het, en dit gee my ook ʼn groter insig in al die interne tegnologie wat Facebook-ingenieurs kan gebruik.”

Mark kan met Jarvis deur sy slimfoon en rekenaar kommunikeer en sy huis se ligte, temperatuur, toestelle, musiek en selfs veiligheidstelsel beheer. “Die eenvoudige AI moet my smaak en patrone, nuwe woorde en konsepte kan aanleer en selfs [die Zuckerbergs se dogtertjie] Max kan vermaak.”

Jarvis gebruik verskeie kunsmatigeintelligensie-tegnieke, waaronder natuurlike taalprosessering, spraakherkenning en gesigherkenning. Dit is in Python, PHP en Objective C geskryf.

Mark het ʼn volledige uiteensetting gegee hoe hy te werk gegaan het om Jarvis te bou.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

As jou naam Mark Zuckerberg is dan kan jy so iets doen !!!!! Bakgat man!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.