[Foto’s] Die koning is terug

Foto: Brian Cheyne

Die Suzuki GSX-R het geen bekendstelling onder motorfietsgeesdriftiges nodig nie. Die 2017-model is onlangs amptelik bekend gestel op die Red Star-renbaan en ek het gaan kyk of hierdie fiets so gebruikersvriendelik is as wat Suzuki hoop.

Hulle het ook van die geleentheid gebruik gemaak om drie ander modelle bekend te stel, naamlik ʼn GSX 250, die SV 650 en die nuwe 650 V-Strom. Hierdie modelle behoort teen Augustus hier beskikbaar te wees.

Suzuki is in die bevoorregte posisie om motors sowel as motorfietse in hul stal te hê. Dit beteken dat Suzuki ʼn huishoudelike naam geword het en Suzuki se markaandeel het nou al vir die derde agtereenvolgende jaar gegroei. Met dié vier modelle mik Suzuki vir verdere groei, selfs in die huidige finansiële klimaat.

GSX-R 1000

Foto: Brian Cheyne

Hierdie is die sesde generasie GSX-R, en dit is ʼn splinternuwe fiets. Die doel was eenvoudig om weer die kroon te kan dra as die koning van sportfietse. Waar hulle kon sny, het hulle, en waar hulle moes bysit, het hulle. Die raam is nouer en die enjin is verder vorentoe in die raam geplaas. Alles om die gewigsverspreiding te verbeter. Die enjin bevat ʼn aantal unieke meganiese ontwerpe om die krag eweredig te lewer op enige toere.

Daar is nuwe sensors op die fiets wat elke beweging van die fiets monitor in ses rigtings, oor drie aste. Dit, tesame met die Suzuki se blikbrein, help selfs die mees onervare ryer om bo te bly. Daar is selfs hulp om op lae toere weg te trek. As die Suzuki agterkom jy gee nie genoeg petrol nie, sal hy die toere aanpas dat hy nie stol en mense vir jou lag nie.

Die veranderinge aan die bakwerk is gevorm in ʼn windtonnel en ek kon voel hoe effektief die wind om my gekanaliseer word. Selfs die brandstoftenk is 2 cm laer gemaak dat jy behoorlik kan plat lê.

Die remskywe het noodgedwonge ook gegroei en tesame met Brembo-knypers was die stopslag net so indrukwekkend soos die wegtrek. Die GSX-R is so vinnig dat hulle ʼn gat in die remhefboom moes boor om te keer dat die wind nie namens jou die remme trek nie.

Foto: Brian Cheyne

My tydjie met die GSX was beperk tot ʼn paar rondtes, maar ek was baie beïndruk met die ongelooflike gemak waarmee ek hierdie fiets kon ry. Ek onthou my eerste kennismaking met ʼn superfiets en dit was vreesaanjaend. Die Suzuki het my nie met daardie gevoel gelaat nie. Krag word glad gelewer en op die kort stukkie waar Red Star reguit is, kon die Suzuki my gou wys hoe lyk 200 km/h.

Sodra ek my beurt kry met die GSX-R, sal ek meer detail kan gee oor hoe hierdie fiets weg van die baan af voel. Tot dan is ek van mening dat die Suzuki GSX-R 1000 op ʼn baan hoort eerder as op die N1.

Teen R239 900 is die fiets baie mededingend geprys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.