[Foto’s] Padtoets: Onthou jy nog die seevakansie?

Die Hyundai H1 (Foto: Hyundai)

Soos ons pak stap ek deur die huis – en net soos Neelsie van Orkney snork nie loop ek en “Ons gaan see toe” uitbasuin! Ek is so opgewonde oor die vakansiereis ek kan my skaars in toom hou.

Onthou julle sulke reise toe julle klein was? In my tyd was daar geen sulke luukshede soos draadlose DVD-spelers en tabletrekenaars nie – maar dit hou die kinders uit my hare uit. My pa het ʼn paar VW Microbusse gehad toe ek grootgeword het. Daar is niks so lekker soos see toe ry saam jou gesin in ʼn bus nie. Niks.

Ons het al ʼn paar keer die vakansiereis aangepak in kleiner voertuie en uit die aard van die saak eindig ek op met ʼn knie wat deur my sitplek karring en ongemaklike kinders. Die Hyundai H1 het glad nie daai probleem nie. Nog lekkerder is die feit dat daar ʼn skuifdeur aan albei kante van die voertuig is. So, as ʼn mens stilhou vir ʼn badkamer-breuk hoef almal nie by een deur uit te peul nie.

Die Hyundai H1 (Foto: Hyundai)

Voor dié reis is my ondervinding met die H1 beperk. Ek’t jare gelede as passasier gery in die oorspronklike 2,4 petrol, handrat model… maar nog nooit in die 2,5 diesel outomaties nie. Toe Maroela Media in Februarie die bekendstelling van die Hyundai Creta bygewoon het, is ons van die lughawe na die hotel in ʼn H1 vervoer. Ek is toe regtig verbaas met hoe die H1 Sir Lowry’s-pas klim, met sewe groterige mans in sonder ʼn probleem. Ek het toe na die bekendstelling terugbestuur na die lughawe en toe besluit dat ek die H1 beter moet leer ken.

Ek het vir my vrou gevra om regte padkos te pak, soos in die ou dae. Wors, eiers en toebroodjies. ʼn Fles boeretroos en natuurlik ʼn paar lekkers en tjippies vir die kinders. Ek en my vrou, ons woelige drie kinders en ouma sak en pak in die ruim Hyundai H1 gelaai, vat toe heeltemal te opgewonde die pad Margate toe.

Die Hyundai H1 (Foto: Hyundai)

Aanvanklik sit ʼn bus vreemd. Jy sit hoog en regop – heeltemal die teenoorgestelde van ʼn sportmotor. Dit is geensins ongemaklik nie. Die uitsig vir die bestuurder is ook indrukwekkend. ʼn Mens kan alles om jou sien, al is die bus lekker groot. Ergonomies is alles wat belangrik is om jou gesin veilig te karwei naby. Die dubbel-sone klimaatbeheer werk ook goed. As die bestuurder nie wil smelt terwyl oumatjie agter verkluim nie, kan mens dit net so stel.

Twee dinge wat my uit my skoene uit verbaas het van die H1 is, eerstens – sy werkverrigting. Die Hyundai H1 se 2,5 diesel masjien en 5-spoed ratkas werk perfek saam. Dit ratkas soek nie rond vir ratte nie en gebruik die asemrowende wringkrag om die bus bult op en bult af te stoot, sonder enige klagtes – en met min brandstof.

Die Hyundai H1 (Foto: Hyundai)

Tweedens, is dit die H1 se padhouvermoë. Mens dink ʼn bus is lomp en dat daar vreeslike bakrol moet wees. Daar was, in die jare toet op my pa se Microbus, maar ek is nie seker watse toordery Hyundai hier toegepas het nie, maar die H1 ry seepglad, en daar is amper geen bakrol om van te praat nie. Ná Harrismith, rigting Durban, as Van Reenens-pas sy verskyning maak, dan kom mens agter die bus hanteer soos ʼn droom. Die H1 is gaaf toegerus met klimaatbeheer, navigasie, ʼn lekker klankstelsel en die gewone elektriese vensters en sluitstelsel – als wat nodig is om jou reise te vergemaklik.

Eintlik is daar nog ʼn ding wat verbaas. Dit is die kattebak op die H1. Die H1 het drie rye sitplekke, en elke ry kan drie sit. Dus is die H1 een van die min nege-sitplekbussies. Meeste van die H1 se mededingers is kortasafstand weergawes, en dan is daar amper geen kattebak om van te praat nie. Nie so met die H1 nie, sy kattebak is reusagtig, sonder om banke te skuif.

Uitgerus en gemaklik in Margate aangekom is ek regtig dankbaar om die reis in ʼn bus te kon doen. Ons het saam met vriende in Margate gebly, hulle is drie en ons is vyf – sonder ouma wat by haar suster gaan kuier het. Vir ʼn paar dae het die agt van ons heerlik aan die Suidkus rondgerits van strand tot strand … almal in hul eie sitplek en in ʼn gordel vasgegespe.

Ek gaan die bus maklik opsom. Indien jy ʼn gesinsman is met ʼn kroos, is daar niks so lekker soos ʼn bus nie. Indien jy van tyd tot tyd ʼn woonwa sleep is die H1 ook puik weens sy agterwielaandrywing, puik ratkas en sterk enjin. Ek moes die sleutels vir die bus uit my vrou se hande wurg … sy is nou nog kwaad vir my.

Die reeks lyk so:

H1 2,4 Wagon126 kW/ 224 Nm10.2 ℓ/100 kmHandratR499 900
H1 2,5CRDi Wagon125 kW/ 441 Nm9.8 ℓ/100 kmOutoR629 900

Die brandstofverbruiksyfer op die petrolweergawe is nie ʼn werklik bereikbare syfer nie. Die reeks word gedek deur Hyundai se markleidende 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg asook ʼn 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk so:

Ford Tourneo Custom 2,2TDCi LWB Trend92 kW/ 350 Nm6.5 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R539 900
Kia Grand Sedona 2,2CRDI EX 11-seater147 kW/ 440 Nm8 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

4 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R600 995
Volkswagen Kombi 2,0TDI LWB Comfortline outo103 kW/ 340 Nm8 ℓ/100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan

R647 900
Mercedes-Benz Vito 116 CDI Tourer Pro outo120 kW/ 380 Nm5,8ℓ /100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 120 000 km diensplan

R701 721

Tussen dié kompeteerders is die Ford bietjie lig in die broek. Die Volkswagen is ʼn ou hand in bussies en ʼn mooi produk. Indien jy wil sleep met hom kan die voorwielaandrywing ʼn hindernis raak. Die Kia is ʼn pragtige produk teen die prys en sy enjin en ratkas ook puik. Die Mercedes-Benz is ook agterwielaangedryf en sy enjin sal fantasties wees – al wat kommer is die prys. In hierdie stadium wen die H1 steeds vir my die argument, al begin hy bietjie ouer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie ·

Hoe op dees aarde kan jy bekostig om sulke karre te koop?? Wat verdien mense?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.