[Foto’s] Padtoets: Volvo S90 D5 AWD Inscription Geartronic

Die Volvo S90 D5 AWD Inscription Geartronic (Foto: Volvo)

Die wêreld is vol persepsies. Ek self is een wat glo die Duitsers doen luuks, die Amerikaners “muscle”, die Japannese eenvoudige betroubaarheid, ensovoorts. Daar is egter een vervaardiger wat deur die jare stilletjies getrou bly aan hul visie. Dit is Volvo. Hulle bou van die veiligste motors ter wêreld, én luuks.

Party mense verwar parmantigheid of selfs blufferigheid met luuks. Nie Volvo nie. Hulle sit stilletjies in hul hoekie en bou een van die luuksste, heerlikste voertuie wat ek al die voorreg gehad het om te bestuur. Dié S90 skree glad nie. Dit is die uiters gemanierde dienskneg wat stilletjies in die hoek staan en ʼn amper onhoorbare “ahem” gee om jou aandag te trek. Ek hou daarvan.

Die S90 is ʼn ordentlike skip. Groot en ruim in die kajuit met ʼn kattebak wat ʼn kleiner Volvo heel sal kan insluk. Al is die S90 ʼn reus is sy proporsies bitter mooi en perfek in my oë. Die S90 is van geen hoek lelik nie. Ons toetsmodel is toegerus met reusagtige 21 duim wiele. Almal wat die voertuig onder oë neem het gunstige kommentaar daaroor gelewer.

Die Volvo S90 D5 AWD Inscription Geartronic (Foto: Volvo)

Nadat ʼn mens die indrukwekkende eksterieur ingeneem het, beweeg jy na die deel wat my hart gesteel het. Die binneruim op die S90 is in ʼn klas van sy eie. Die S90 weet presies wie hy is sonder om enige ander handelsmerk of ontwerpstyl te probeer na-aap. Die eenvoudige uitleg met heerlike sitplekke en egte houtinsetsels met ʼn pragtige “oop-porieë”-afwerking rond die binneruim mooi af. Daar is een groot sentrale skerm wat die meeste van die verstellings kontroleer. Die drie knoppies wat die volume, rymodus en aan-en-afsit beheer is van pragtige gedraaide aluminium gemaak.

Die sitplekke is heerlik gemaklik. Volvo is bekend vir hul chiropraktiese ontwerp van hul sitplekke. Die sitplekke is van die veiligste ter wêreld in terme van hoe dit sou reageer in ʼn botsing en maak ook glad nie jou lyf moeg nie. Dit is elektries verstelbaar sodat jy vinnig heerlik sit asof jy in ʼn kokonnetjie gekoester word. Alles is ergonomies en intuïtief al is dit jou eerste ervaring met Volvo se inligtingstelsels. Een van die Volvo se troefkaarte is die asemrowende Bowers & Wilkins-klankstelsel. Ek hou van my musiek. Ek hou van verskeie genres. Ek het al oor die jare verskeie stelsels teëgekom, maar nog nie een wat so duidelik speel nie. Jy kan die volume maar draai – hy bly suiwer en die regte liedjie laat jou voel asof jy toegevou is in jou eie klankdigte ateljee. Die S90 is wel nie klankdig nie, en ander motoriste kyk jou aan soos hulle rondsoek vir die konsert wat langs hulle plaasvind.

Die Volvo S90 D5 AWD Inscription Geartronic (Foto: Volvo)

Ek moet bieg. Toe Volvo eers begin het met sy nuwe reeks tweeliter-enjins was ek skepties. ʼn Tweeliter viersilinderdieselenjin is gewoonlik grof en raserig. Dit is nie die geval met Volvo se indrukwekkende D5-weergawe nie. Dié tweeliter is toegerus met twee turboaanjaers en bied 173 kW teen 4 000 r/min en 480 Nm wringkrag. Sjoe. Dié enjin word perfek gekomplimenteer deur ʼn agtspoed-outokas met ʼn tradisionele wringkragomsitter. Die resultate is puik. ʼn Stil enjin wat verskriklik sterk trek en terselfdertyd puik brandstofverbruik bied vir so ʼn groot motor.

Dié S90 is toegerus met lugvering. Dit bied ʼn sagte rit maar sodra jy die Volvo in “dynamic” rymodus sit ,dan word die vering hard vir ʼn meer sportiewe reaksie. Daar is geen bakrol om van te praat nie en die reuse 21 duim wiele bied asemrowende traksie. Die enigste dingetjie wat pla aan die S90 is die einste 21 duim wiele. Die vering kan net soveel doen om onaangename hobbels te absorbeer. Indien jy ʼn slaggaat of slegte hobbels teëkom dan stamp die laeprofielbande bietjie erg. Ek sou egter die standaard 19 duim wiele hou en die sagter ritgehalte geniet. Die S90 is tog nie ʼn renmotor nie.

Die Volvo S90 D5 AWD Inscription Geartronic (Foto: Volvo)

Christo – Maroela Media se digitale besigheidsbestuurder, meen dié S90 is vir hom een van die bes-ontwerpte motors in die wêreld is. Almal kyk twee keer na die S90. Die binneruim is vir hom uiters luuks, super luuks – en al die truuks laat sy mond oophang. Dié S90 ry vir Christo heerlik en hy het begin redes begin uitdink om vinnig iewers heen te ry. Hy was skepties oor die tweeliter, maar is egter verbaas en glo ʼn mens het niks meer nodig nie. Indien hy tans in die mark was sou hy regtig die Volvo oorweeg het. Hy voel die ervaring was spesiaal en dat hy dit elke dag wil beleef. Hy sê die Volvo is stylvol, uiters stylvol.

Ek gaan die S90 só opsom. Dit is ʼn asemrowende motor. Die Swede het hul eie manier van dinge doen en die resultate is briljant. Sou ek in die mark wees vir só ʼn luukse sedanmotor sou ek regtig die S90 oorweeg teen sy mededingers. Ons toets binnekort die nuwe 5-reeks BMW, daarna sal ek vir julle kan sê wie kraai koning.

Die reeks lyk so:

S90 T5 Momentum187 kW/ 350 Nm6.5 ℓ/100 kmR685 206
S90 D4 Momentum140 kW/ 400 Nm4.4 ℓ/100 kmR705 500
S90 T5 R-Design187 kW/ 350 Nm6.5 ℓ/100 kmR714 506
S90 T5 Inscription187 kW/ 350 Nm6.5 ℓ/100 kmR729 206
S90 D4 R-Design140 kW/ 400 Nm4.4 ℓ/100 kmR734 800
S90 D4 Inscription140 kW/ 400 Nm4.4 ℓ/100 kmR749 500
S90 D5 AWD Momentum173 kW/ 480 Nm4.8 ℓ/100 kmR786 198
S90 D5 AWD R-Design173 kW/ 480 Nm4.8 ℓ/100 kmR815 498
S90 D5 AWD Inscription173 kW/ 480 Nm4.8 ℓ/100 kmR830 198
S90 T6 AWD Momentum235 kW/ 400 Nm7.2 ℓ/100 kmR841 830
S90 T6 AWD R-Design235 kW/ 400 Nm7.2 ℓ/100 kmR871 130
S90 T6 AWD Inscription235 kW/ 400 Nm7.2 ℓ/100 kmR885 830

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Audi A6 3.0TDI SE160 kW/ 400 Nm4.7 ℓ/100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R733 500
Jaguar XF 20d Prestige132 kW/ 430 Nm4.3 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R765 900
BMW 530d Luxury Line195 kW/ 620 Nm5.1 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R981 796
Mercedes-Benz E350d Exclusive190 kW/ 620 Nm5.5 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R984 836

Tussen dié mededingers moet ons egter onthou dat nie een van hulle allewielaandrywing geniet soos die Volvo nie. Die Volvo voel ook vir my of hy teen die groter 7-reeks, A8, S-klas en XJ kan meeding, en daardie motors is almal ver meer as ses nulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Vandag een in lewende lywe gesien. Voorwaar indrukwekkend. Sal nog by die winkel instap en hom van nader beloer. Dit is vir die ou wat nie pretensies het nie, nie dat ek sê die manne met die DDM’s het nie. As Ek eendag groot is gaan ek beslis na een kyk. Die Volvo is soos ‘n trouring, jy kan ongelukkig nie van hom ontslae raak nie. Het nie goeie tweedehandse waarde nie, tensy jy hom vir ‘n nuwer Volvo inruil. Hul trokke derenteen is baie gesog en betroubaar.

Pietsepan ·

As hulle tog net van daardie verouderde sierrooster wil ontslae raak. Waarom is hul tweedehandse waarde so swak? Omdat hulle meganiese probleme het en daar te min handelaars is.

Johan ·

Een van die beste karre in die wereld tans!

Maar ai, soos almal opmerk, hy gaan soos ‘n vallende klip depresieer… Ek’t lank in gebruikte motorverkope gewerk, en hoe hoër ‘n Volvo se kilo’s raak, hoe meer probleme, en onderdele is dikwels belaglik duur! En lg. is werklikwaar ‘n jammerte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.