[Foto’s] Suzuki se SV650 is ʼn V2-pretmasjien

Die Suzuki SV650 (Foto: Brian Cheyne)

Ons moet nou maar verlief neem met die feit dat kaalfietse baie gewild is in Europa. Ons vrotpad-ryers hier aan die Suidpunt van Afrika maak nie veel impak op die besluite wat in Japan geneem word nie. By die bekendstelling van die GSX-R vroeër dié jaar, het Suzuki ook vir ons die SV650 gewys. Ek het so ’n paar rondtes om Red Star gery, en was beïndruk met die klein fietsie. Hy deel sy enjin met die V-Strom, maar sy raam is ’n pragtige pypraam, eerder as die soliede eenheid van die Strom.

Die eerste SV650 het al in 1999 die lig gesien en dit was ’n baie gewilde fiets. Die V2-enjin het die nodige wringkrag gebied wat goed gewerk het op die baan. Die model het met die jare al hoe swaarder, wyer en duurder geword. In 2016 moes Suzuki weer mooi besin oor die rigting wat die SV ingeslaan het.

Omtrent 140 parte is herontwerp en twee baie belangrike aspekte is aangespreek: die krag is op en die gewig is af. Dit het gemaak dat Suzuki die nuwe SV die “V2-pretmasjien” gedoop het. Met die baandag op Kyalami het Suzuki vir my die SV geleen. Dit was baie groothartig van hulle, want hierdie een is tans die enigste een in die land, en hy moet nog gaan diens doen by die Motorfiets van die jaar-kompetisie later vanjaar.

Die Suzuki SV650 (Foto: Brian Cheyne)

Die SV is klein. Hy is heelwat maerder as die fiets wat hy vervang, en die tenk hou nou slegs 14 liter se voggies, maar Suzuki verseker my dat die brandstofverbruik nou van so ’n aard is dat jy nie veel meer nodig het nie. Dis nou één ding in Europa waar die dorpe 4 meter uitmekaar is, maar hier in Suid-Afrika kan die reikafstand dalk ’n probleem wees. Die SV is egter nie ’n kilometervreter nie. Daarvoor het hy nie genoeg in die lyn van windbeskerming nie. Die saal bied ook nie veel ondersteuning nie, maar weereens: dit is nie waarvoor die SV geskep is nie.

Die SV is ’n liggewig pendelfiets, en die potensiële kopers van hierdie fietsie is nuwe ryers, of selfs ryers wat tans ’n 250 cc of 300 cc ry en die stap na iets groters wil neem, sonder om die afmetings en dinamika van hul kleinkapasiteitfietse prys te gee. Die SV pas perfek in hierdie rol. Dit is glad nie ’n intimiderende fiets nie en sal beide hierdie groepe tevrede kan stel. Vir beginners het Suzuki ook hul “Easy start system” en  “Low RPM assist” op die SV losgelaat.

Die Suzuki SV650 (Foto: Brian Cheyne)

“Low RPM assist” help ryers om weg te trek sonder om te stol. Die enjin hou die toere konstant soos las op die koppelaar toeneem en jy kan met hierdie fiets wegtrek sonder om aan die versneller te raak. Die fiets is lig en hanteer maklik, maar ek moet sê, as jy hom so ’n bietjie druk, raak hy senuweeagtig om Kyalami. Dit is egter nie heeltemal die fiets se skuld nie. Hy is ontwerp vir ’n 70 kg-Japannees en nie ’n 100 kg-Skot nie.

Ek het die SV baie geniet, en as ‘n pendelfietsie is dit ideaal. Op die baan kon ek hom lekker rondgooi, en die dubbele skywe voor het sluitwering wat baie vertroue ingepalm het. Die SV behoort teen September beskikbaar te wees teen ’n billike R98 500.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin645 cc V-twee
Gewig (Nat)197 kg
Saalhoogte785 mm
Tenkkapasiteit13.8 L
PrysR98 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Ek glo die V2 het n mooi dreuning. ”V” masjiene het maar net eenmaal n besondere klank aan hulle.
Persoonlik dink ek hulle kon maar net n klein windskerm opgesit het al was dit net vir die mooi daarvan.
En die Japannese moet maar ingedagte hou dat die meeste mense buite hulle land, gewoontelik meer as 70 kg. weeg. :-)

Chrisjan ·

Hier is reeds myle te veel motorfietse op ons land paaie.Laat die’ ene maar in Japan bly asb.!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.