Groot motorfietsfees by Kyalami

Groot motorfietsfees by Kyalami (Foto: Verskaf)

Groot motorfietsfees by Kyalami (Foto: Verskaf)

Oor ʼn bietjie meer as twee maande is dit feestyd by Kyalami.

Dit is die SA Bike Festival, en jy hoef nie ʼn motorfiets te besit om dit te kan bywoon nie. As jy enigsins daaraan dink om ʼn fiets te koop, dan moet jy jou kopie uitstel tot ná die fees.

Dit is die enigste geleentheid vanjaar waar jy daai fiets waaroor jy nou al lank droom, kan sien, beleef en selfs om die baan mee kan gaan ry. Jy kan enige van die volgende handelsname toetsbestuur: BMW, Indian, Harley Davidson, Honda, Yamaha en Suzuki. Daar is ook ʼn nuwe handelsnaam, Zontes, wat graag sy fietse aan die publiek wil bekendstel. Sou jy eerder op drie wiele wil rondry, kan jy ʼn Can-Am Spyder gaan toets.

Al die vervaardigers vereis net ʼn leerlinglisensie, behalwe Yamaha wat ʼn volwaardige lisensie vereis. Honda het hulle pas-vrygestelde CBR 1000 RR Fireblade ook daar, so bespreek maar vroeg. Wees net gewaarsku: jy sal moet pypie blaas voor jy opklim, so kom ry maar eers en geniet ʼn biertjie agterna.

KTM is gasheer vir Joey Evans, en as jy nog nie sy storie gehoor het nie, gaan soek hom gerus op. Hy was 10 jaar gelede ʼn parapleeg ná ʼn motorfietsongeluk, maar het wonderbaarlik herstel en aan die 2017-Dakarresies deelgeneem. Dit is ʼn merkwaardige storie!

Harley Davidson beplan om baie besig te raak op sosiale media, en bied gratis lesse aan as jy nog nie kan ry nie. Hulle voer baie planne in die mou en dit kan net vir baie opwinding sorg.

Groot motorfietsfees by Kyalami (Foto: Verskaf)

Groot motorfietsfees by Kyalami (Foto: Verskaf)

As die vrotpad jou ding is, is daar ʼn 2 km-roete deur die Leeukop-gevangenisterrein, en avontuurfietse van onder meer Honda, Suzuki en KTM gaan beskikbaar wees.

Ducati stel agt nuwe modelle beskikbaar by die fees en Yamaha gaan hulle nuwe R6 daar bekendstel. Daar is ook ʼn Yamaha R1 op die spel vir een gelukkige feesganger.

Sondag kan jy deelneem aan ʼn massa-saamrygeleentheid en die rit eindig met twee rondes om die Kyalamibaan.

Die naweek beloof om propvol opwinding te wees, of jy nou motorfiets ry of nie.

Die feestye is:

Vrydag 26 Mei van 11:00-19:00

Saterdag 27 Mei van 09:00-21:00

Sondag 28 Mei van 09:00-18:00

Kaartjies is vanaf R200 tot R995 per persoon, na gelang daarvan of jy net wil kom kyk, en of jy hopeloos bederf wil wees. Kinders onder 10 is gratis, en daar is hope vermaak vir hulle ook.

Vir meer inligting, besoek die webwerf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.