Kuga-brande: tyd vir kommissie en maatskappye om sokkies op te trek

old-341471_1920Ford SA het uiteindelik, in samewerking met die Nasionale Verbruikerskommissie, 4 536 Ford Kuga 1.6-liter EcoBoost-voertuie herroep, nadat ten minste 39 van die voertuie die afgelope jaar aan die brand geslaan het.Verbruikers meen egter die optrede is mosterd na die maal. Ina Opperman verduidelik waarom verbruikers met reg die duiwel in kan wees omdat dit so lank geneem het voordat die voertuie herroep is.

Die Verbruikerskommissie moet veiligheidsmonitering en die herroeping van goedere met defekte, soos die Kuga, hanteer in terme van Artikel 60 van die Wet op Verbruikersbeskerming. Volgens die artikel moet die kommissie dit doen as deel van sy verantwoordelikheid om praktykkodes vir verskillende bedrywe, soos die motorbedryf, te ontwikkel, aanvaar en toe te pas.

Artikel 60 bepaal die kommissie moet sorg vir effektiewe en doeltreffende stelsels sodat hy in kennis gestel kan word van verbruikersklagtes of verslae oor produkgebreke, defekte of gevare. Dit sluit in verbruikers wat goedere teruggee en beserings, siekte of skade aan eiendom weens ʼn gebrek, defek of gevaar van ʼn produk of enige ander aanduidings van gebreke, defekte of gevaar, beserings of skade.

Dit was duidelik by die mediakonferensie, wat Ford SA vandeesweek saam met die kommissie gehou het oor die herroeping van die Kugas, dat die kommissie nie ʼn effektiewe en doeltreffende stelsel het waar verbruikersklagtes of verslae oor produkgebreke, defekte of gevare aangemeld kan word nie.

Volgens die kommissie het een van sy werknemers die probleem toevallig op sosiale media raakgesien. Dit is eenvoudig nie goed genoeg nie.  Die vernaamste deel van die effektiewe en doeltreffende stelsel waarna Artikel 60 verwys, sluit tog in dat veral ʼn groot maatskappy soos Ford moet weet dat hierdie soort probleem by die kommissie aangemeld moet word. En wie moet sorg dat groot maatskappye dit weet? Die kommissie en groot maatskappye se regspanne.

Die feit dat die kommissie se stelsel dalk nie so effektief en doeltreffend is nie, beteken nie dat
Ford geen aandeel in die debakel het nie. Sy regspan en sy klantediensafdeling moes geweet het dat Ford so gou as moontlik met die kommissie in verbinding moet tree. Hulle het nie.

Ford SA het buitendien ook, behalwe om nie die probleem by die kommissie aan te meld nie, ook die fout gemaak om nie met verbruikers oor die probleem te praat nie. Hulle wou ook nie met die media praat nie en het bloot net nie hul fone geantwoord nie.

Artikel 60 bepaal die kommissie moet ook die inligting monitor en ontleed om vas te stel of daar ander verborge of potensiële risiko’s vir die publiek is, dit identifiseer en ondersoek instel na die aard, oorsake, mate en graad van die risiko, sodat verbruikers ingelig kan word daaroor. Indien die kommissie bevind dat die goedere onveilig is, moet dit toesien dat die goedere herroep word vir herstelwerk, vervanging of terugbetaling.

Die kommissie kan optree indien dit redelike gronde het om te glo goedere kan onveilig wees of ʼn potensiële risiko inhou wanneer die produsent of invoerder nie optree nie. Die kommissie kan ondersoek instel en eis dat die produsent die produk herroep.  Die regte prosedure is eers gevolg toe die kommissie vir Ford SA ʼn ultimatum gestel het om die voertuie te herroep of die kommissie doen dit self.  Maar waar is verbruikers se kans om terugbetaling te eis?

Jeff Nemeth, die uitvoerende hoof van Ford SA, het bevestig 39 Ford Kuga-brande is sover by hulle aangemeld. Ford SA het reeds 15 enjins en ʼn motor na Europa en die VSA verskeep vir ʼn ondersoek om vas te stel wat die brande veroorsaak. Die voertuie word in Spanje vervaardig. Kom ons hoop die kommissie hou ons op hoogte. En sommer Ford SA ook.

Dit lyk asof dit tyd is vir die Nasionale Verbruikerskommissie en groot maatskappye om hul sokkies op te trek en die Wet op Verbruikersbeskerming ernstig op te neem. Of dit nou vakansietyd is of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Spelling

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Waghond ·

Waghond stem volkome saam dat Ford en dir Verbruikerskommissie nie so lank moes wag nie!

Chris Ws ·

Die NVK is vas aan die slaap gevang.So ook die AA.Ek hoop net toekomstige voertuig kopers slaap nie ook nie en kyk na alternatiewe produkte as Ford.Ford se naverkope diens was jare terug swak en te oordeel aan die meeste huidige Ford eienaars se kommentare op MM het dit niks verbeter nie.Of is ek verkeerd?Dankie tog ek besit nie ‘n hedendaagse Ford produk nie!

Johannes van Rooyen ·

Toe ek dit die 1ste op fb sien het ek ford se hotline en die naaste agente gebel om hulle mee te deel van brand storie hulle het my dadelik gesê dis bog daar bestaan nie so iets nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.