kykNET Buite Ekspo: Kuier dat die stof staan

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die kykNET Buite Ekspo het vandag afgeskop en die mense stroom in. Dis bloedig warm hier by Mbizi, naby Bela-Bela, maar moenie dink dit hou mense terug nie. Die ekspo is eintlik gemik op die buitelewe-entoesias, maar hier is soveel te doen, al het jy nog nooit in jou lewe gekampeer nie, sal jy dit hier geniet.

Die manne jaag dat die stof staan – as jy ʼn spoedvraat is, is hierdie geleentheid so reg in jou kraal. Die kar-entoesiaste staan almal naby as ʼn motor ʼn te groot duin aandurf, en net wanneer jy dink die kar gaan tiep, jaag hy sonder moeite tot by die volgende hindernis.

As jy die bos van ʼn ander perspektief wil sien, is daar ook helikopterritte. Die vlieëniers lyk soos ʼn klomp stout skoolseuns met hul vellies, maar ʼn mens kan sien hierdie manne is lief vir vlieg. Almal wat hier ʼn aktiwiteit aanbied, lyk soos ʼn klomp avontuurlustiges – hulle is bruin gebrand en praat met selfvertroue oor die aktiwiteit wat hulle aanbied. As jy heeldag in ʼn kantoor werk, is dit ʼn goeie verandering.

Indien jy eerder iets wil doen wat naby die grond is, en wat nie bo-oor ʼn sandduin met ʼn spoed jaag nie, is die kameelritte dalk eerder vir jou. Hier is te veel aktiwiteite om op te noem, maar die gees is heerlik en daar is genoeg kosstalletjies vir elke smaak. Ons het veral moeite gedoen om die roosterkoek te proe, en ons beveel dit beslis aan – vra vir genoeg botter en konfyt!

As jy lus voel om rustig te sit en kuier, kan jy dit ook doen – hier is ʼn groot tent met ʼn monstergroot skerm wat tans die krieket wys. Ons is besig om Australië pak te gee – as jy gewonder het.

Laai die kinders in die kar, (pak genoeg sonbrandolie) en kom maak ʼn draai by die kykNET Buite Ekspo. Besoek gerus hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.