Maroela Motors-sleeptoets: Die Chinese vorder

JMC Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit 4x4 SLX Foto: JMC

JMC Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit 4×4 SLX Foto: JMC

Maroela Motors toets: JMC Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit 4×4 SLX

My persoonlike sleepvoertuig is onlangs gestamp. Toe ek met ʼn reuse skok agterkom ek is bespreek om te gaan kamp die langnaweek in Augustus sonder ʼn sleepvoertuig (wat in stukke by die paneelklopper staan) moes ek vinnig plan maak. JMC het toe gelukkig ʼn JMC Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit beskikbaar gemaak vir my om te gebruik.

My onlangse ervaring met ʼn ander Chinese fabrikaat het my so effe benoud gelaat, maar nietemin, ons gaan die Sprite agter iets haak, en kamp sal ons kamp. Ek het bietjie navorsing gedoen oor die Vigus, en het besluit sy spesifikasies lyk heel goed genoeg.

Die Vigus is ʼn lekker groot bakkie. Ruim binne en heel aanvaarbaar afgewerk. Die gewone elektriese vensters, lugsakke, lugversorging en radio is alles standaard in die JMC. Die spesifieke model is die 4×4-weergawe, en heel indrukwekkend word sy 4×4-modusse nie met ʼn tweede kierie verstel nie, maar ʼn elektroniese knoppie – nogal ghrênd nè!

As mens die sleutel draai, word jy met die gewone diesel-enjingeluide gegroet. Al is die rathefboom bietjie styf en vaag – veral as die bakkie nog koud is, raak mens vinnig gewoond en maak vordering. My 1992 Sprite Super Sport loop effens laer as nuwer karavane, so ʼn verlagingsplaat is vasgeboud en siedaar, ons is toe reg vir die sleeptog.

Die ratverhoudings van die Vigus is eweredig versprei en in die dorp geniet mens goeie vordering. Ons is met die berugte Molotopad na Groblersdal-omgewing. Die Vigus se vering is lekker sag – genoeg dat hy nie stamp en slinger op ʼn slaggat-verstrooide pad nie. Sy agterste vere steeds styf genoeg dat die wa hom nie pla nie, met ʼn redelike vrag op die bak gelaai, sonder dat sy stêre sleep.

Nou kom ons by die 2.4TDCi se sleepvermoë. Die diesel-oond kan my 1 030 kg Super Sport sleep tussen 100 km/h en 120 km/h sonder ʼn probleem op ʼn gelyke pad. Klein bultjies laat hom wel brul. Ek het op die paar bultjies tussen Pretoria en Groblersdal probeer kyk of vyfde, vierde of derde rat ʼn verskil maak. Dit doen – net die volume van die enjin verskil. As jy ʼn bultjie teëkom, verminder die spoed na so 80 km/h en ratverwisselings maak nie ʼn verskil aan die spoedvermindering nie.

Die JMC Vigus se 2.4TDCi het 88kW teen 3 800 r/min en 290Nm tussen 1 600 – 1750 r/min. En dit is waar die probleem lê. Daai wringkragkurwe is net te nou om ʼn bult te klim teen 100 km/h in vyfde rat – want 2 500 r/min is net te ver uit die wringkragkurwe. Verder, as ʼn sleepvoertuig, gedra die Vigus homself heel goed. Hy ry gemaklik genoeg, is vas op die pad en ek sou selfs sê sy remme is vir my indrukwekkend. Die Vigus 2.4TDCi is wel lekker lig op diesel. Die Vigus is terug na JMC met ʼn kwart tenk brandstof – en 580 km op die odometer. Met ʼn 68 liter-tenk is dit so naby aan 10 km/l as wat mens wil wees.

Om af te sluit is die koopprys van R375 990 net te styf in ʼn mark waar daar baie sterk mededingers is. As ons steeds in die Chinese arena kyk is die Foton Tunland 2.8 Dubbelkajuit 4×4 Comfort skrams duurder teen R389 995 – maar hy spog met ʼn Cummins diesel-enjin wat 120kW en 360Nm uitstoot. Daai 360Nm is ook beskikbaar tussen 1 800 r/min en 3 000 r/min. Dit is ʼn wringkragkurwe breër as die Grand Canyon!

Daar is wel tans ʼn R25 000 kontant-terug-aanbod op die Vigus, wat die 4×4 SLX model joune sal maak vir net so oor die R350 000.

Die JMC Vigus word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 5 jaar/60 000km-diensplan.

Die reeks lyk so:

Vigus 2.4 Dubbelkajuit LX95kW/ 201Nm (Petrol)R249 990
Vigus 2.4 Dubbelkajuit SLX95kW/ 201Nm (Petrol)R279 990
Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit LX88kW/ 290Nm (Diesel)R279 990
Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit SLX88kW/ 290Nm (Diesel)R309 990
Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit 4×4 LX88kW/ 290Nm (Diesel)R345 990
Vigus 2.4TDCi Dubbelkajuit 4×4 SLX88kW/ 290Nm (Diesel)R375 990

 

Die kompetisie lyk so:

Foton Tunland 2.8 Dubbelkajuit 4×4 Comfort120kW/ 360Nm3 jaar/ 100 000 km- waarborg

5 jaar/70 000 km- diensplan

R389 995
Ford Ranger 2.2 Dubbelkajuit 4×4 XL118kW/ 385Nm4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/100 000 km-diensplan

R411 900
Toyota Hilux 2.4GD-6 Dubbelkajuit 4×4 SRX110kW/ 400Nm3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R458 100

 

As ons die kompetisie so vergelyk, gaan my geld na die Ranger. Hy is so R36 000 duurder as die JMC, maar sy enjin is baie sterker en sy waarborg en diensplan langer en toekomstige waarde gaan heelwat beter wees as enige Chinese mededinger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

Maar hoekom noem hulle die bakkie na iets wat klink soos ‘n kruising tussen “Vigs” en “virus”?
Die bemarkingsmense behoort in die pad gesteek te word.

cr ·

Paul, dis juis van al die “in die pad stekery” waarna die bakkie vernoem is.

RSA ·

CR, jy slaan die spyker op die kop. Ek het ook verstaan die Chinese vereer hul voorvaders met die bakkie se naamgewing omdat dit daar glo tradisie is om die bevolkingsgetalle te versterk deur jou met die praktyk besig te hou.

Lance ·

Hehe dis snaaks wie het nou gedink die komentaar sou voortspruit uit die artikel …nogal skerp

Johan 2 ·

Klink goed…dankie vir die km/l en nie die l/100km soos gewoonlik, die Amerikaners maak soms maar net nie sin nie.

Paul ·

Die Amerikaners weet nie wat ‘n kilometer is nie, en weet slegs wat ‘n liter is omdat sommige koeldranke daar wel in tweeliters verkoop word.

Die Amerikaners gebruik “miles per gallon”, soos die Britte ook. Maar ‘n Amerikaanse en Britse “gallon” verskil. ‘n Amerikaanse “gallon” (gelling in Afrikaans) is sowat 3.8 liter en ‘n Britse gelling is sowat 4.5 liter.
Ten spyte hiervan verkop die Britte hul brandstof per liter by die vulstasies.

Lekker deurmekaar.

As jy liter per 100km wil omskakel na km per liter, is dit maklik. Deel eenvoudig 100 deur die getal liter per 100km. So 17 liter per 100km is 100 gedeel deur 17, is gelyk aan 5,88 kilometer per liter, byvoorbeeld.

Johan ·

Bly weg van die stuk Chinese gemors! Ek’t ‘n rukkie terug kans gekry om met een te ry, en ek koop eerder ‘n twee jaar oue / 50 000km gebruikte Ranger 2.2 4X4 as ‘n nuwe Vigo…

Die skrywer kon ook maar met hierdie vlugtige ry-indruk noem dat die JMC ook nie ‘n agterste ewenaarslot (diff lock) het nie, dus gaan hy maar lekker sukkel, spin en spartel in die veld.

Vermy ten alle koste hierdie sub-standaard stuk gemors van ‘n Vigo!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.