Mitsubishi Pajero Sport loer vir Fortuner

Pajero Sport Foto: Bernard K Hellberg

Pajero Sport Foto: Bernard K Hellberg

Met die jongste verfrissing van sy 4×4 Pajero Sport sit Mitsubishi Motors SA sy strategie van die aanbieding van uitstekende waarde vir geld in sy voertuigreeks voort. Die grootste verandering in die nuwe Pajero Sport is die ingebruikneming van ‘n 2,5 liter-deelpypturbodieselenjin, ‘n volgende geslag-eenheid wat die vorige 3,2 liter-kragbron vervang.

Die nuwe geslag-enjin spog met beter brandstofverbruik en laer uitlaatgasse, maar die groot bonus is dat kraglewering en maksimum-wringkrag albei aansienlik verbeter het. Die Pajero Sport was reeds bekend vir sy uitstekende verrigting teen lae enjintoere, maar die nuwe enjin stoot krag op van 120 kW teen 3 500r/min tot 131 kW teen 4 000r/min, terwyl die maksimum-wringkrag opskiet van 343 Nm teen 2 000r/min tot 400 Nm teen dieselfde enjintoere in die handratmodel. In die modelle met die outomatiese vyfgangratkas is die maksimum-wringkrag 350 Nm 1 800r/min.

Die hoëverrigtingenjin (HP-enjin) in die nuwe model verskil in verskeie opsigte van die vorige 3,2 liter-weergawe in terme van enjinkomponente, ‘n wisselgeometrie-turboaanjaer en dieselinspuiters.

‘n Groot aantal bykomende eienskappe is ook by die standaardspesifikasie gevoeg. Die goeie nuus is egter dat die pryse van hierdie modelle – handrat en outomaties – onveranderd bly, wat uiters ongewoon is by die bekendstelling van ‘n nuwe model in Suid-Afrika.

Die pryse is steeds R435 900 en R445 900 onderskeidelik, wat beteken dat die Pajero Sport se pryse nie net besonder mededigend is nie, maar ook dat hulle uitstekend toegerus is in terme van standaardtoerusting. Die outomatiese 4×4-model is trouens die prysleier in sy segment.

Uit die aard van die saak spog die nuwe Pajero Sport steeds met sy Japanse erfenis, betroubaarheid en Mitsubishi se befaamde veldvermoë.

“Die feit dat ons in staat was om so ‘n gunstige prys te beding terwyl ons ons aanbieding aansienlik kon verbeter, maak die Mitsubishi Pajero Sport ‘n baie aantreklike proposisie vir kopers wat soek na ‘n groot, hoëspesifikasie-SNV,” sê Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van Mitsubishi Motors SA.
Volgrootte-SNV’s het baie kajuitruimte en die Pajero Sport, met sewe sitplekke en 1 149 liter se pakplek met die derde sitplekry platgeslaan, is geen uitsondering nie.

Die nuwe Pajero Sport spog ook met aansienlik verbeterde ryverfyning en die rit is buitengewoon stil en gerieflik vir ‘n SNV van hierdie grootte. Grondvryhoogte is ewe indrukwekkend en die Pajero Sport is toegerus met ‘n 4×4-stelsel met laagstrek. Tydens die bekendstellingsrit by De Wildt buite Pretoria, het die Pajero Sport sy man deeglik gestaan.

Die ratkaste is albei vyfgangeenhede. Die outomatiese ratkas is splinternuut, met ratwisselspane as die bestuurder die ratte met die hand wil verwissel. Die Super Select-4×4-stelsel word gebruik om die 4×4-stelsel te beheer. Die stelsel bied vier verskillende bestuursmodusse – 2H, 4H, 4HLc en 4LLc – vir gebruik op feitlik enige soort oppervlak, en as die terrein werklik veeleisend raak, kan die bestuurder altyd die agterste ewenaarslot koppel. Danksy die Super Select-4×4-stelsel kan die bestuurder ook teen snelhede van tot 80 km/h van tweewiel- tot vierwieldryf in die ry skakel.

Wat voorkoms betref, lyk die nuweling ietwat anders as sy voorganger. Daar is byvoorbeeld die opvallende nuwe sierrooster en voorbuffer, die beslag van die agterste nommerplaat en die kleurgepaste deurhandvatsels en kantspieëls. Laasgenoemde kan elektries teruggevou word en huisves nou ook herhaalklikliggies. Die agterligsamestelle is herontwerp en die nuwe Pajero Sport-modelle kry ook 17 duim-allooiwiele met ‘n aggressiewer ontwerp.

Bykomende eienskappe sluit in hoë-intensiteitontladingkopligte met ‘n skemeraanvoelfunksie pleks van die vorige halogeeneenhede vir beter nagsig. Die ligte word outomaties aangeskakel wanneer dit skemer word. Die ruitveërs is reëngevoelig. Misligte en kopligwassers is ook deel van die standaardspesifikasie.

Die truspieël het ‘n elektrochromatiese funksie wat blikkering outomaties voorkom, terwyl die agterste parkeerhulpstelsel nou, afgesien van die standaard-parkeerafstandbeheer, ook ‘n trukamera insluit. Donker getinte glas word gebruik vir die kantvensters agter.

Die Pajero Sport se kajuit is pure weelde. Die sitplekke is oorgetrek met swart leer. Die stuurwiel, ook met leer oorgetrek, huisves veelfunksieskakelaars, insluitende dié vir snelheidsbeheer, Bluetooth en die klankstelsel. Die instrumentpaneel en sommige van die ander beslagareas het ‘n moderne, koolstofvesel-voorkoms – sonder om oordadig te wees.

Die klankstelsel met ses luidsprekers het nou ‘n USB-sok en Bluetooth met skakelaars op die stuurwiel vir die handvrye telefoonstelsel. Die stemgeaktiveerde Mitsubishi-Link-stelsel stel die bestuurder in staat om die foonfunksies in die ry te bedryf en dit het ook ‘n intuïtiewe kieslystelsel en stemopleiding.

Belangrike bykomende veiligheidseienskappe in die nuwe modelle is aktiewe stabiliteits- en wieltolbeheer, terwyl Mitsubishi se aandrang op hoë vlakke van aktiewe en passiewe veiligheid beteken dat die nuwe Pajero Sport toegerus is met ses lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, sowel as Mitsubishi se bewese RISE-veiligheidselbakstruktuur.

Ná die onlangs bekendstellingsfunksie behoort Mitsubishi SA hoogs tevrede te wees met hierdie puik nuweling. Ritgehalte op teer was so stil soos ‘n passasiersmotor, bougehalte is besonder goed, terwyl die Pajero Sport se 4×4-vermoëns goed genoeg is vir selfs die taaiste toestande.

As die handelsmerk wat die veeleisende Dakar die meeste kere gewen het, blyk dit duidelik uit hierdie voertuig se DNA dat die Pajero Sport ‘n groot impak op die mark behoort te hê. Die Pajero Sport voel veiliger op grondpaaie as bv Toyota se Fortuner – die huidige markleier in hierdie segment en nou reeds lank in die tand – is dit dalk net die Nissan Pathfinder wat ‘n ietwat gemakliker rit op teer as die Pajero Sport het.

Gerusstellend is ook die feit dat die reuse AMH-groep hierdie voertuie in ons land verteenwoordig.

Die Pajero Sport word gedek deur ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar/90 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Les ·

Goeie artikel, kan nie wag om die Pajero vir ‘n toetsrit te vat nie, dit sal wel baie vat om van my Subaru Forester ontslae te raak, die Pajero is wel groter…..kom ons kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.