Nissan probeer hard met sy nuwe Sentra

Nissan Sentra

Die nuwe Nissan Sentra
Foto: Quickpic

Na ‘n afwesigheid van agt jaar het die 13de geslag Nissan Sentra pas weer sy (her)verskyning in ons land gemaak.

Die nuweling bestaan uit twee afsonderlike modelle – albei met 85 kW 4-silinderenjins – en twee ratkaskeuses. Die enjin is ‘n multi-klepeenheid (vier kleppe en twee inspuiters per silinder) wat volgens die vervaardigers slegs 6.6 liters brandstof per 100 kilometer verbruik (handratmodel) terwyl die outo-eenheid glo nog ligter op sous is, nl 6.2 l/100km.

Teen ‘n mededingende R230 900 is die 5-spoed handratmodel ‘n goeie keuse, terwyl die outomatiese (CVT) ratkasmodel teen R253 600 verhandel. Ek weet darem nie so mooi of die prysverskil van bykans R23 000 tussen die twee modelle werklik so regverdigbaar is nie.

Hoe dit ookal sy, die CVT-ratkas werk heel doeltreffend, maar daar is tog soms die gevoel dat dit ‘n tydjie duur voordat afgerat word. Hiervoor word die sportknoppie aan die hefboom goed ingespan en verander die eens rustige Sentra skielik in ‘n haastige sedan wat wil koers kies na die horisonne.

Soos in die geval van die Almera wat enkele weke gelede bekend gestel is, is die Sentra ontwerp as ‘n gerieflike ryding vir die langpad, maar ook as ‘n doeltreffende stadsvoertuig wat maklik parkeer en ‘n knap draaisirkel het.

Beenspasie agter is fenomenaal en die reuse bagasiebak (510 liter) sal al die tasse sluk wat vier insittendes sal benodig vir ‘n weeklange vakansie. Die noodwiel is egter die omstrede (diplomatiese woord vir irriterende) klein tydelike item met die gebruiklike waarskuwing om nie verder as 50 kilometer teen 80 km/h aan te sukkel nie.

Vertel dit vir die bestuurder wat 150 kilometers duskant Beaufort-Wes probleme met ‘n band kry.

As werklik die enigste irritasie wat ek by die Sentra bespeur het, is dit duidelik dat hierdie nuweling sy plek kan volstaan in die mededingende C-segment van die mark waar ander puik produkte soos Hyundai se Elantra, Toyota se nuwe geslag Auris en die skitterende Kia Cerato groot happe uit hierdie marksegment gebyt het.

Nou moet ons nog net sien wat die volgende geslag Toyota Corolla gaan oplewer – alhoewel daar geskinder word dat Suid-Afrika nie die Amerikaanse spesifikasie nie, maar wel ‘n afgeskaalde model gaan kry.

Nietemin, terug by die Sentra en sy goeie hoedanighede soos ses lugsakke, sy aantreklike voorkoms, volledig verstelbare stuurwiel (met knoppies vir diverse funksies en keuses), asook ‘n aanduiding van hoe ekonomies die bestuurder die voertuig hanteer.

Die instrumente is almal hoogs leesbaar, terwyl die ritrekenaar belangrike inligting verstrek soos beskikbare reikafstand, gemiddelde en huidige brandstofverbruik, buite-temperatuuraanwysing en die ‘rat’ waarin die CVT-ratkas hom bevind. Laasgenoemde is slegs van akademiese belang, want hierdie soort ratkaste (konstante snelheid-transmissie) het nie verskillende ratte in die gewone sin van die woord nie.

Tydens die toetsrit het verskeie aspekte opgeval, soos onder meer die stil kajuit wat spreek van deeglike bou, die heel goeie remme (waarom is daar nie skywe agter nie?) en die elektriese kragstuur wat lewendig genoeg gevoel het.

Die nuwe Sentra het ‘n 3 jaar/100 000km waarborg en ‘n diensplan van 3 jaar/90 000km. Nissan se jongste spruit moet ook elke 15 000 kilometer gediens word.

Opsommend: Heel goeie waarde vir geld, uiters gemaklik vir bestuurder en passasiers, maar daardie duur CVT-ratkas is darem ‘n bietjie rof – veral as ‘n mens in gedagte hou dat ‘n konvensionele outokas gewoonlik so R13 000 duurder as ‘n handskakel-eenheid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.