Padtoets: Fiat 500 TwinAir Pop Star die definisie van oulik

Die Fiat 500 TwinAir (Foto: Fiat)

Ek wonder nou al geruime tyd of die “retro”-kaart nie al voos gespeel is nie. Daar is drie nuwe modelle van ou legendes op Suid-Afrika se paaie. Die Fiat 500, Mini Cooper en Volksie. Al drie verskil heeltemal van die oorspronklikes, behalwe ʼn vae ooreenkoms in ontwerp. Die oorspronklikes was gebou as spotgoedkoop karretjies om mense te mobiliseer. Vandag se drie is veel meer van ʼn mode-stelling.

Die Fiat 500, dink ek, is die een retro-buksie wat na aan sy voorganger kom. Hy is steeds piepklein, hoewel hy baie goeie gebruik maak van sy dimensies. Van buite is die jongste 500 ʼn spoggerige klein dingetjie. Regtig oulik en modieus. Met 15 duim sierwiele wat ʼn reeds oulike pakket mooi afrond. Van buite gesien is ek baie opgewonde en ek vermoed die 500 gaan nogal prettig wees.

Die Fiat 500 TwinAir (Foto: Fiat)

Die binneruim bly ook getrou aan die retro-tema. Hoewel die Fiat bitter klein is, pas ʼn mens vinnig en kry alles gestel. ʼn Ligte binneruim met ʼn reuse-sondak laat die 500 baie groter voel as wat sy spoortjies op die grond trap. Klimaat- en spoedbeheer, koppeling vir jou i-Pod of foon, Bluetooth en elke truuk wat jy moontlik in so buksie sal wil hê, is daar. Tot die kattebak is groter as wat ek verwag het.

Die ritgehalte is nog ʼn goeie eienskap van die 500. Gewoonlik stamp en hop klein karretjies soos ʼn benoude poedel omdat sy asafstand so kort is, maar die 500 gedra hom soos ʼn meer volwasse motor. ʼn Wiel ver in elke hoek verseker goeie padhouvermoë en die vering verbaas met goeie rygemak.

Dan kom ons by die lekkerste deel. Die nuwe 500 het Fiat se nuwe TwinAir-enjintjie in. Dit is ʼn 875cc turboaangejaagde tweesilinder… Twee! Maar dié twee silinders bied ʼn indrukwekkende 63kW teen 5 500 r/min en 145 Nm teen ʼn baie lae 1 900 r/min. Dit laat die 500 altyd lekker rats voel en die wringkrag verseker goeie versnelling. Ek vrek oor die enjingeluid – so growwe, dowwe brulgeluid. ʼn Pel lag hom byna dood vir my en sê: “Die ding se asem is seker op teen 120 km/h….” Ek laat niemand die klein Fiat só beledig nie. Die 500 sal aanhou draf na die toesluitbare kant van 180 km/h. Aitsa.

Die Fiat 500 TwinAir (Foto: Fiat)

Die TwinAir-enjin is veronderstel om verskriklik lig te wees op brandstof. Wel, ek het die 500 só geniet die arme ding het nie kans gehad om so lig te wees nie, maar soos ek hom gery het en die 6,8l/100 km wat hy vir my gebied het is regtig fantasties. As ʼn mens rustig ry sal hy baie beter brandstofverbruik bied.

Ek dink die Fiat 500 is ʼn oulike rakkertjie. Goed toegerus en ry lekker. Indien jy nie ʼn reuse-wa benodig nie en sexy wil lyk – koop vir jou ʼn 500, jy sal nie spyt wees nie.

Die reeks lyk so:

Slegs koepee-, handratmodelle gelys. Daar is wel outo- en afslaankapmodelle ook beskikbaar.

Fiat 500 Pop63 kW/ 145Nm3,8 ℓ/100 kmR179 900
Fiat 500 Pop Star63 kW/ 145Nm3,8 ℓ/100 kmR204 900
Fiat 500 Lounge77 kW/ 145Nm4,2 ℓ/100 kmR233 900

Die reeks word gedek deur Fiat se drie jaar/ 100 000km waarborg en drie jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Opel Adam 1.474 kW/ 130 Nm5,3 ℓ/100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R206 500

In dié klein klas is daar regtig net die twee wat met mekaar meeding. Kies die een wat vir jou mooi is en geniet hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Interessant dat hoewel die huidige Fiat 500 ongetwyfeld in vandag se motorwêreld piepklein is, is die kar steeds ‘n reus gemeet teen die destydse “Nuova 500” wat 2.97 meter lank, 1.32 meter breed en 1.32 meter hoog was.
Die huidige model 500 is 3.55 meter lank, 1.63 meter breed en 1.49 meter hoog.

Mens sou dus 2571 van die ou karretjies op ‘n rugbyveld kon parkeer, maar slegs 1742 van die nuwes. Dis eintlik ‘n reus gemeet teen die 500 uit die 1950s!

Die ou een het ook slegs 499 kilogram geweeg, terwyl die nuwe een die skaal trek op minstens 865 kg, of selfs 980 kg afhangende van die model.

Daardie TwinAir enjin is inderdaad wel ‘n prettige speelding, maar moenie dink hy gaan ooit eers naby sy geadverteerde “amptelike” brandstofverbruik van 3.8 liter per 100km gee nie. Dis ‘n absolute pypdroom daardie. Sodra die turbo enigsins begin sing, begin hy petrol drink. Veel beter as 6 liter per 100km gaan jy nie met hom sien nie, behalwe as jy slegs langsaam langpad ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.