Padtoets: Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4 outo

Die Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4 outo (Foto: Mitsubishi)

Die dubbelkajuit-bloedbad is nou dieper as ooit. As ‘n motorjoernalis is dit lekker om verras te word, en die Triton was by sy bekendstelling in Januarie vir my so ‘n verrassing. Ons het nou ‘n kans gehad om die Triton beter te leer ken, en die tweede ontmoeting het vir my één ding bevestig: Ek is versot op die nuwe Mitsubishi Triton.

Toe die eerste Triton in 2007 in Suid-Afrika bekendgestel is, het ek nie veel daarvan gehou nie. Die vreemde J-line-ontwerp van die kajuit was vir my simpel en die agterste bakwerk wat so oplig agter het vreemd gelyk. Ek weet nou waarom dit so is. Met die J-line kan die agteras verder vorentoe skuif – dit maak die asafstand korter. Die bakwerk wat heel agter oplig gee vir die Triton ‘n beter vertrekhoek as ’n mens 4×4 ry. Die J-line-ontwerp laat ook die agtersitplek se rugleuning minder regop sit, ‘n groot probleem met vorige dubbelkajuitbakkies. Die nuwe Triton is meer aggressief afgewerk, en dit laat die ontwerp aantrekliker lyk as sy voorganger.

Die Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4 outo (Foto: Mitsubishi)

Die binneruim is ook mooi afgerond.  Eenvoudig en skoon, met duursame maar goeie gehalte materiale. Die kombinasie van die uitleg en materiale laat die kajuit sommer luuks voel – ek hou daarvan. Die stuurwiel se knoppies is ook intuïtief maklik om baas te raak. Die Triton geniet klimaat- en spoedbeheer, ’n stuurkolom wat kan kantel en teleskopies verstelbaar is, ’n truratkamera en ’n elektries verstelbare bestuurdersitplek. Die klankstelsel is toegerus met Bluetooth, maar dis die enigste element van die Triton wat effe teleurstel en beter funksionaliteit kon bied.

Die Triton se ritgehalte is indrukwekkend goed en soepel vir ‘n dubbelkajuit. Die onderstel slinger ook bitter min in vergelyking met ouer dubbelkajuitbakkies. Dit is moontlik die meer soepel vering wat die geslinger absorbeer. Padhouvermoë is heeltemal goed en die neus draai maklik. Ek moes myself gereeld daaraan herinner dat die Triton ‘n groot lorrie is en nie ‘n renmotor nie.

Die Triton se nuwe MIVEC-16-klep-enjin met sy 2.4 liter-dubbelbonokas is ‘n juweel. Hy bied 133 kW en 430 Nm-wringkrag.

Die Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4 outo (Foto: Mitsubishi)

Hy loop regtig stil met bitter min gekletter en daar is geen turbotraagheid om van te praat nie. Die nuwe enjin is ook bitter lig op brandstof. Die beste verbruiksyfer wat ek kon behaal, is 6.7 ℓ/100 km. Vir ‘n groot dubbelkajuit is dit regtig puik. Al hoe ’n mens so ‘n lekker enjin verbeter, is as dit met ‘n goeie ratkas gepaardgaan. In die Triton se geval gaan ek uitdruklik sê: “Die outomatiese 5-spoed-ratkas in die Triton is die beste outomatiese ratkas in ‘n bakkie waarmee ek al gery het. By verre!” Sy ratverhoudings is perfek gespasieer en die ratkas sit seepglad oor. Die ratkas is ook nie oorsensitief vir versneller-insette sodat hy in die ratkas rondgryp vir ratte as jy net ’n bietjie vetgee nie. Ek moet wel nog die nuwe Navara en Amarok ry, so ek kan nie nou al kommentaar lewer op hulle ratkaste nie.

Die goeie enjin en ratkas word net verder verbeter deur Mitsubishi se Super Select II-vierwielaandrywingstelsel. Die stelsel is ook te vinde in die merkwaardige Pajero-reeks. Tydens die bekendstelling het ons ’n hindernisbaan met die Triton getrotseer en goeie ente op grondpaaie gery. Die Triton se vernuf op ‘n grondpad is ongeëwenaard.

Die Mitsubishi Triton 2.4Di-D dubbelkajuit 4×4 outo (Foto: Mitsubishi)

Met ons tweede ontmoeting het ek die Triton na ons plaaslike watergat by Groenkloof Natuurreservaat geneem. Die Triton skrik vir niks. As hy bietjie vassteek by ‘n hindernis, skakel net die ewenaarslot aan en die Triton bokspring oor amper enige ding. Al wat ek aan die Triton sou verander, is die sierwiele waarmee hy uitkom. Dit is te plat voor en blink, so ek het van die wiele seergemaak by Groenkloof. Ai. Ek sien wel daar is ‘n ander wiel-opsie beskikbaar wat moontlik minder maklik sal seerkry. Om op te som is dit moeilik om nie liries te raak oor die Triton sonder dat mense dink ek word ‘n reusesalaris deur Mitsubishi betaal nie … maar ek belowe dis nie die geval nie. Ek wens! Hulle kan net vir my ‘n Triton gee. Die ontwerp gaan moontlik nie in almal se smaak val nie, maar jy doen jouself ‘n reuse-onreg aan indien jy nie die Triton oorweeg as jy tans in die mark is vir ‘n dubbelkajuit nie.

Die reeks lyk so:

Triton 2.4 Di-D 4×2 handrat7.1 ℓ/100 kmR479 900
Triton 2.4 Di-D 4×2 outo7.7 ℓ/100 kmR499 900
Triton 2.4 Di-D 4×4 handrat7.3 ℓ/100 kmR539 900
Triton 2.4 Di-D 4×4 outo7.8 ℓ/100 kmR559 900

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan. Die Dienstussenposes is elke 10 000 km.

Die kompetisie lyk so:

Isuzu KB300D-Teg 4×4 LX outo130 kW/ 380 Nm7.9 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R563 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 4×4 Raider outo130 kW/ 450Nm8.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R573 500
Nissan Navara 2.3 4×4 LE outo140 kW/ 450Nm7 ℓ/100km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R584 900
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI Highline 4Motion Outo132 kW/ 420Nm8.3 ℓ/100km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R587 400
Ford Ranger 3.2 4×4 XLT outo147 kW/ 470Nm9 ℓ/100km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000km-diensplan

R593 900

In die klas is die pryse nie wydverspreid nie. Daar is ‘n paar opsies en almal gaan van mening verskil. Gaan toetsbestuur elkeen en kies die een waarvan jy hou. Ek hou bitter baie van die Triton. Hy is ook nie naastenby so gewild soos Ranger of Hilux nie, so sy risiko vir diefstal en kaping is aansienlik minder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

‘n Baie goeie produk en artikel Brendan. Hartseer dat kaping en diefstalrisiko ‘n geldige oorweging is in die “ruwe Suid Afrika”… Geseende Paasfees vir almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.