Plaaslike bekendstelling: Volkswagen bring meer enjins en brei sy Tiguan-reeks uit

Plaaslike Volkswagen-bekendstelling  (Foto:  Volkswagen)

Plaaslike Volkswagen-bekendstelling (Foto: Volkswagen)

Die Polo is VW se topverkoper. Ons vervaardig ook baie van die wêreld se Polo-voetuie hier in Uitenhage. Daar is wel nou ʼn nuwe rakkertjie beskikbaar, die Polo 1.0 TSI 81kW R-Line DSG. Die nuwe 1 liter-enjintjie is ingebring om Suid-Afrika aan die kleiner turbo-petrolweergawe bloot te stel.

Die nuwe 1.0 TSI kos dieselfde as die 1.2 TSI-viersilinder wat tans beskikbaar is. Die nuwe 1.0- driesilinder bied ʼn rapsie meer wringkrag, 200 Nm teenoor die 1.2 se 175 Nm maar op ʼn nouer kurwe. Daar is ook ʼn paar visuele opknappings – R-Line-pakket word as standaardtoerusting aangebied met ʼn mooi stel 17 duim-sierwiele om dit af te rond. Sportsitplekke koester jou lekker styf om die lyf terwyl die klein enjintjie sing deur die sewe ratte in die dubbelkoppelaar-ratkas.

Snelhede van 0 – 100 km/h is onveranderd van die 1.2 op 9.3 sekondes, maar die nuwer – ligter op brandstof driesilinder – is 1 km/h vinniger teen 197 km/h. Volkswagen beweer die motor het ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 4.4 l/100 km, 0.7 l/100 km ligter as die 1.2.

Ek was nog altyd baie lief vir ʼn Polo, ek’t lank ʼn 1.4 Classic gery. Die nuwe Polo-weergawes is gebou om te hou, het ʼn klassieke elegansie teenoor ander klein luikrûe. Die Polo is nie wild geprys nie en bied ʼn spesifikasievlak van indrukwekkende standaarde, en die nuwe 1.0 TSI loop soos ʼn windhond. Dit gaan interessant wees om te sien waar oral die enjin ʼn tuiste gaan vind in die VW-reeks …

Plaaslike Volkswagen-bekendstelling  (Foto:  Volkswagen)

Plaaslike Volkswagen-bekendstelling (Foto: Volkswagen)

Die grootste veranderings kom wel by die VW Tiguan.

Drie vierwielaangedrewe modelle is bekendgestel. Twee dieselmodelle, 103 kW en 130 kW en een turbopetrolmodel met ʼn asemrowende 162 kW.

Al die 4Motion Tiguan-modelle is met VW se R-Line-pakket toegerus. Daarby laat 20 duim-sierwiele en ʼn paar ander sportiewe afrondings die Tiguan ernstig lyk. Al drie modelle is met VW se wêreldberoemde 7-spoed DSG-dubbelkoppelaar-ratkas toegerus.

Die 4Motion is ʼn Haldex-4×4-sisteem, sonder laestrek. Daar is afdraandbeheer en vier rymodusse – ECO, Sport, Comfort en Individual. 4Motion Live gebruik mens vir veldryverstellings, automatic, snow of off-road modus.

Die nuwe modelle lyk so:

ModelKragBrandstofverbruik0-100 km/hPrys
2.0 TDI Comfortline105 kW/ 340 Nm6.1 l/100 km9.5 sekR523 800
2.0 TDI Highline130 kW/ 380 Nm6.4 l/100 km8.3 sekR549 500
2.0 TSI Highline162 kW/ 350 Nm7.8 l/100 km6.5 sekR542 200

Die reeks word gedek deur VW se gewone 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Hoewel die 2.0 TSI Highline die lawwe een tussen die klomp is, sal ek die 2.0 TDI Highline kies. Dit is die beste kompromis tussen krag, toerusting en brandstofverbruik.

Soos ons al voorheen berig het oor die Tiguan en toe gesê het dat hy amper perfek is – wel, nou met dieselkrag, allewielaandrywing en ʼn outomatiese ratkas is die Tiguan vir my net mooi perfek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Basson ·

Die heel nuwe Polo word later die jaar op die Frankfurtse motorskou bekend gestel en behoort seker einde 2017 / begin 2018 in SA te wees. (Teen watter prys dan?)
Neem in ag dat die opgedateerde Golf (7.5) ook oor paar maande arriveer en die die model met hierdie masjien gaan omtrent R320k kos.
So alhoewel in ‘n duurder klas en ander teikenmark, mag die Golf dalk die beter koop wees as om nou hierdie (ou) Polo te koop, teen wat maar wel ‘n baie hoe prys het in vergl bv met die mini-‘cross overs’, CX3, Captur, EcoSport, ens.

Paul ·

Sjoe, met die vertaling van die bronteks uit Engels het daar ‘n foutjie ingeglip. Die artikel sê dat VW ‘n brandstofverbruiksyfer “eis”. Ummm, in Engels sê mens hulle “claim” dit, en een vertaling van die woord “claim” na Afrikaans is inderdaad “eis”, maar dit dra nie die korrekte betekenis in Afrikaans nie. Jy bedoel “maak aanspraak op” of “beweer dat” of so iets.

Dit is wel ook slegs ‘n BEWERING deur VW. Hierdie piepklein enjintjies verbruik baie meer brandstof as wat die vervaardigers beweer. Die Ford 1.0 Ecoboost Focus sê hulle gebruik net 7.8 liter per 100km, maar een joernalis het slegs 11 tot 12.5 per 100km gekry, dis 40% tot 60% meer as beweer!
Die enjins word getoets op die New European Driving Cycle (NEDC), wat ‘n totaal onrealistiese siklus is – niemand bestuur werklik soos daardie siklus nie – en die vervaardigers ontwerp die enjins en beheersagteware presies sodat die enjin mooi lig is op brandstof onder daardie siklus, maar as jy durf om die enjin byvoorbeeld bokant 2500 toere te druk, dan suip daai klein enjintjies petrol vir ‘n vale! Dis nog bo en behalwe vir die spesiale voorbereidings wat die vervaardigers met die karre vir die toets doen, soos spesiale bande wat styf gepomp word, geen lugversorging, spesiale olie vir minder enjinwrywing, ensovoorts.
Kyk gerus op Youtube vir videos van mense (byvoorbeeld van Autoblog.nl) wat die NEDC op die pad toepas – nie eers ‘n 80-jarige ou tannie ry so stadig en versnel so skilpad-agtig nie.

Paul ·

Die piepklein turboenjintjies gaan ‘n vinnige dood sterf, omdat die New European Driving Cycle (NEDC) nie meer toegepas gaan word nie, maar eerder ‘n meer realistiese bestuursiklus.

Die piepklein turboenjintjies was slegs ‘n siniese poging deur motorvervaardigers om die NEDC se massiewe skuiwergate uit te buit. Hulle het besef dat die klein turboenjintjies goed sal doen in daardie siklus, omdat die turbo nooit eers werklik op dreef kom tydens die siklus nie. Mazda kan daarmee gelukgewens word dat hulle nooit aan hierdie siniese speletjie deelgeneem het nie.

Nou dat die siklus (en ook die Amerikaanse toetssiklus) verander word, is al die motorvervaardigers weer besig om groter enjins, van 1.5 liter en meer, dikwels sonder turbos, te ontwikkel vir hul nuwe modelle. Maar VW probeer gou nog oplaas hul orige klein, brandstofsuipende enjintjies aan hul kopers (wat dikwels nie motor-entoesiaste is nie, en dus nie van hierdie tegniese feite weet of verstaan nie) afsmeer. Die 1 liter enjin gaan nie ‘n tuiste vind in enige nuwe VW produkte nie, buiten dalk in ‘n nuwe Up!.

VW self het alreeds hul eie 1.4 enjin met ‘n 1.5 vervang as deel van die skuif na groter enjins wat in werklikheid meer brandstofdoeltreffend is as die klein simpel driesilindertjie oëverblindery.

Koop op eie risiko ‘n Polo met ‘n 1-liter of 1.2-liter enjin. Dit gaan baie meer brandstof verbruik as wat VW beweer, en die nuwe Polo gaan in elk geval binnekort bekendgestel word. Hoe’s daai vir nuttige advies wat min motorjoernaliste sal gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.