Die akteurspaar Altus Theart en sy vrou, Zetske van Pletzen, het Vrydagoggend hul eersteling, ʼn seuntjie, in die wêreld verwelkom.
Die egpaar het in April vanjaar hul swangerskap aangekondig.
Altus is veral bekend vir sy rol as Fafa in die sepie Getroud met rugby en as Daniël Malherbe in die rolprent Modder en bloed, terwyl Zetske roem verwerf het vir haar rol in 7de Laan. Sy het ook onder meer die klerereeks Halo vir swanger vroue ontwerp.
Die paar het vroeër in September op kykNET se leefstylprogram Bravo! met hul babakamer gespog, en Zetske het onlangs saam met rooi rose haar ooievaarstee by die Jenna Clifford-ontwerpateljee in Johannesburg gehou.
“Ek is verbaas oor hoe wonderlik ʼn mens se liggaam is en wat hy alles kan doen. Dis vir my só lekker om swanger te wees. Dit gaan hopeloos te vinnig verby en ek dink ek gaan dit mis,” het sy aan dié tydskrif gesê.
Sy het ook gesê hulle sal uit ʼn kortlys name besluit sodra die baba sy opwagting maak.
Zetske en Altus kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
BAIE GELUK julle twee. Kan nie wag om die gesiggie te sien nie.
Yes!!!! Man dis wonderlik. Hartlik geluk met jul klonkie. Mag God Jul gesin bewaar.