Hollywood: Hulde aan Franse akteur gebring; gildes se benoemings bekend

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Franse akteur ter ruste gelê

Franse akteur Gaspard Ulliel in Mei 2019. (Foto: Laurent Emmanuel/AFP)

Van die grootste name in die Franse rolprentbedryf het Donderdag byeengekom om hulde te bring aan Gaspard Ulliel, wat verlede week in ʼn ski-ongeluk in die suidooste van Frankryk gesterf het.

Die akteur, wat ʼn jong Hannibal Lecter en Yves Saint Laurent gespeel het, is verlede Woensdag op die ouderdom van 37 jaar dood.

Franse sterre soos Catherine Deneuve, Isabelle Huppert en Lea Seydoux het Ulliel se begrafnis by die Saint-Eustache-kerk in sentraal-Parys bygewoon.

By die ingang van die kerk was ʼn groot foto van Ulliel met ʼn sigaret wat tussen sy lippe vasgeklem is.

Die Franse akteur Jeremie Renier, wat in 2014 die rol van Pierre Berge, die lewensmaat van die mode-ontwerper Yves Saint Laurent, in die fliek Saint Laurent teenoor Ulliel vertolk het, was een van die kisdraers.

Kisdraers dra die Franse akteur Gaspard Ulliel se kis in die Saint-Eustache-kerk in Parys, Frankryk. Hy het op 19 Januarie 2022 in ‘n ski-ongeluk gesterf. (Foto: Bertrand Guay/AFP)

Ulliel was gereken as een van Frankryk se topakteurs en het in 2007 internasionale bekendheid verwerf vir sy rol as die kannibaal in Hannibal rising.

Hy het ook ʼn hoofrol van Midnight Man in die nuwe Marvel TV-reeks, Moon Knight, vertolk. Oscar Isaac is ook in die reeks, wat in Maart op Disney+ begin wys, te sien.

Ulliel het in 2017 ʼn César-toekenning, die Franse eweknie van die Oscar-toekenning, verwerf in die kategorie vir beste akteur vir sy rol in It’s only the end of the world, waarin hy teenoor Marion Cotillard en Seydoux gespeel het. Seydoux is nou ook internasionaal bekend vir haar rol in die James Bond-franchise.

Ulliel het reeds in 2015 ʼn César ingeoes in die kategorie vir mees belowende akteur nadat hy in die Wêreldoorlog-drama A very long engagement teenoor Audrey Tautou gespeel het.

Hollywood-gildes kondig benoemings vir topflieks aan

‘Belfast’-regisseur Kenneth Branagh by die DGA-teaterkompleks in November 2021 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

Hollywood se topgildes het Donderdag bekend gemaak watter flieks vir hulle jaarlikse seremonies benoem word.

Die wenner van die Directors Guild of America (DGA) se toekenning vir beste regisseur is gewoonlik ʼn goeie aanduiding van watter regisseur met die Oscar-toekenning sal wegstap. Die wenners van dié twee pryse was die afgelope 18 jaar 16 keer dieselfde.

Vanjaar is Belfast se Kenneth Branagh, The Power of the Dog se Jane Campion, Dune se Denis Villeneuve, Licorice Pizza se Paul Thomas Anderson en West Side Story se Steven Spielberg op die kortlys vir dié gesogte DGA-toekenning.

Dieselfde vyf rolprente het ook Donderdag op die kortlys vir die Producers Guild of America (PGA) gepryk.

Jane Campion, regisseur van ‘The Power of the Dog’ in Desember verlede jaar in San Francisco, Kalifornië. (Foto: Steve Jennings/Getty Images North America/AFP)

Die Writers Guild of America (WGA) het ook Donderdag sy eie benoemings aangekondig, wat weer Dune, Licorice Pizza en West Side Story insluit.

Dié Hollywood-gildes bied elke jaar hulle eie seremonies aan voordat die Oscars uitgedeel word. Die Academy, wat vir die Oscar-benoemings verantwoordelik is, het ook Donderdag begin stem vir hulle benoemings vir 2022.

Hoofstroom-lokettreffers soos Spider-Man: No way home en die 007-fliek No time to die is nie vir dié gesogte toekennings benoem nie. Joel Coen se The Tragedy of Macbeth en Ridley Scott se House of Gucci is ook nie deur die gildes benoem nie.

Vanjaar se Oscar-seremonie, wat weens die pandemie uitgestel is, sal op 27 Maart plaasvind.

Nicky Hilton swanger met baba no. 3

Nicky Hilton Rothschild en haar man, James, op hulle troudag in 2015 by The Orangery in die Kensington-paleis se tuine in Brittanje. (Foto: Instagram/Nicky Hilton Rothschild)

Nicky Hilton Rothschild, suster van die bekende hotelerfgenaam, televisiepersoonlikheid en platejoggie, Paris Hilton, is swanger met haar derde kind.

Die mode-ontwerper van handelsmerke soos French Sole verwag haar derde kind saam met haar man, die skatryk finansier James Rothschild. Haar woordvoerder, Jack Ketsoyan, het dié nuus aan E! News bevestig.

Nicky en James is in 2015 by die Kensington-paleis in Brittanje getroud en is reeds die ouers van twee dogters, Lily-Grace Victoria (5) en Theodora “Teddy” Marilyn (4).

People het eerste oor die nuus van Nicky se derde swangerskap berig.

Bronne: AFP, E! News, People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.