Luister: Sorina ‘Die Flooze’ oor musiek, geloof en projekte


Sorina Erasmus (Foto: Facebook)

Sorina Erasmus (Foto: Facebook)

Die sangeres en aktrise Sorina Erasmus, oftewel die Flooze van Witbank, het onlangs in die Maroela Media-ateljee kom kuier om te gesels oor nuwe musiek, sake van geloof en Maroela Media en Attooh! se Buitebioskoop.

Die sangeres het verlede jaar haar jongste album, Hoofletters, vrygestel, en vertel dié album het tot op hede nog net positiewe reaksie ontvang.

“Ons het met Hoofletters besluit om net ʼn Sorina-album te doen, die Flooze verskyn glad nie op die album nie. Dit gaan ook baie goed met die album waaroor ons baie dankbaar is. Aanhangers sal hopelik gelukkig wees om te hoor ons is ook besig met ʼn album vir die damduikers, en hy gaan hotter as botter wees,” het sy gesê.

Hoewel Sorina lank laas ʼn verskyning as die Flooze in die sepie 7de Laan gemaak het, word sy steeds vir dié karakter op straat voorgekeer. Tydens optredes is sy ook die karakter én haarself. “In vertonings is ek Sorina én die Flooze. Ons doen die Sorina-musiek wat dieper dimensie het, maar dan gooi ons die Flooze-musiek ook in. Die ou tannies huil altyd vreeslik met die mooi musiek – en dan, wanneer die Flooze uitkom, skud hulle daai bollas los en ons laat waai.”

Balans is veral vir haar belangrik. Daarom is die week gesinstyd, en naweke vir optredes. Die sangeres sê ook haar kinders het ʼn groot invloed op haar musiek.

“Kinders verander natuurlik ʼn mens se lewe en jou uitkyk op die lewe. Hulle is jou hart se punt, so jy kan nie help om anders na die wêreld te kyk nie. Ek probeer egter altyd wanneer ek skryf om dit so universeel moontlik te maak.”

Sorina Erasmus (Foto: Facebook)

Sorina Erasmus (Foto: Facebook)

Ná amper tien jaar wat sy as die Flooze bekend is, hanteer sy die oorgang na die karakter doodluiters. “Dit maak ʼn mens bang dat dit so maklik is om ‘kommin’ te raak. Maar as ek die rooi baadjie aantrek, klim ek in iemand se skoene. Wanneer ek die baadjie uittrek, kan ek weer Sorina wees.”

Haar aanpasbaarheid verseker dat sy ʼn vol program vir die res van die jaar het. “Ons vat die pad en die kanarie gaan moet sing. Sing, pappie, sing!” het sy geskerts.

Die jongste Flooze-album sal na alle verwagting einde vanjaar of begin 2017 op die rakke wees. “Dit gaan die mense anderkant verby die Witbankdam wegblaas. Daar is lekker én humoristiese musiek daarop.”

Sorina is op 17 September vanjaar by Maroela Media se buitebioskoop te sien. “Dit gaan wonderlik wees. Ek dink dis so ʼn goeie inisiatief. Dis soos om die berg na Metusalem te vat. Dit laat my dink aan die inry destyds toe die mense na die bioskoop gaan kyk het. Pak jou mandjie en bring jou gesin na die Botaniese Tuin in Pretoria en kom geniet die fliek saam met ons.”

Lees meer oor die Buitbioskoop en koop jou kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Ek is mal oor Sorina…. Sy is ‘n fantastiese mens, is net so mooi van binne as buite.
Sorina en Braam is finominale ouers en het die oulikste kinders.
Ek wag vir jou volgende CD.

Paul Vermaak ·

Ek sal nie my gesin na so iets vat nie. Dankie maar NEE dankie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.