Buitebioskoop 2016: Kom fliek saam met ons

buitebioskoop facebook event 2016Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop
17 September 2016
Botaniese Tuin, Pretoria

Koop kaartjies

Gaan haal weer jou piekniekmandjie en -kombers uit die kas. Dit is uiteindelik weer tyd vir Maroela Media en attooh! se jaarlikse Buitebioskoop!

Onthou jy nog die dae toe julle inry toe gegaan het? Ma het ʼn mandjie vol kos gepak en Boetie het Pa Vrydagaande gesmeek om sy kar te leen sodat hy sy nooi inry toe kon neem. Kampstoele en komberse is oral uitgepak en lekkergoedverkopers het met penswinkels op en af tussen die rye motors gestap.

Ná ʼn uiters suksesvolle Buitebioskoop in 2015 is Maroela Media en attooh! verheug om aan te kondig dat jy hierdie jaar weer ʼn stukkie van dié nostalgie kan herleef. Kom vier saam met ons Maroela Media se vyfde verjaardag by die Buitebioskoop wat op 17 September in die Botaniese Tuin in Pretoria gehou word.

Sodra die son begin sak, skop ons af met die kinderproduksie Heidi in Afrikaans. Daarna kyk ons na Sy klink soos lente (ons Buitebioskoop-fliekvlooie kry dié splinternuwe fliek eerste te siene – dit word eers op 30 September amptelik landswyd bekend gestel). Die Buitebioskoop sluit af met die vertoning van die meesterstuk Roepman.

Die skerm wat vir die Buitebioskoop ingespan word, is 14 m wyd en 3 verdiepings hoog. Dit gaan jou laat voel of jy in die teater sit, maar met dieselfde nostalgie en atmosfeer van ʼn inryteater.

Die groepe 1925-Band en Meantime sal sorg vir ʼn gesellige atmosfeer met ʼn musiekvertoning wat laatmiddag begin, voordat die eerste fliek begin draai. Kom dus sommer vroeg al, maak seker jy het ʼn lekker sitplek en geniet die musiek terwyl jou kinders in die speelarea besig gehou word.

Deur die loop van die aand tree Christo Davids (Errol van 7de Laan) en Sorina Erasmus (ook bekend as “die Flooze”) as jou gasheer en gasvrou op. Dis vanjaar 100 jaar sedert die eerste Afrikaanse rolprent uitgereik is en Leon van Nierop en ander bekendes uit die Afrikaanse rolprentbedryf sal tussen vertonings op die verhoog gesels oor die nostalgie van Afrikaanse flieks. ʼn Spesiale Maroela Media-toekenning word ook weer oorhandig aan ʼn persoon wat diep spore in die Afrikaanse rolprentbedryf trap.

Bring jou kampstoel, piekniekkombers en piekniekmandjie en kom kuier lekker saam! As jy nie lus is om ʼn mandjie te pak nie, kan jy eg Afrikaanse eet- en drinkgoed soos pannekoek, kerrie-en-rys en biltong by stalletjies op die terrein koop. Daar is boonop vanjaar ook ʼn stalletjie van ʼn wynlandgoed waar jy ʼn glas wyn kan koop om aan te teug terwyl jy kyk hoe die son ondergaan.

Maroela Media se nostalgiese Afrikaanse e-winkel, die Koöperasie, sal ook daar wees, met allerlei eg Afrikaanse produkte wat jy net daar kan aanskaf – van T-hemde met die mooiste Afrikaanse woorde tot boereporselein-blikbekers, ketties, klimtolle en Afrikaanse yskasmagnete. Jy kan selfs vir jou ʼn Afrikaanse piekniekkombers kom koop.

Net soos verlede jaar kan jy ook weer registreer vir Leon van Nierop se fliekresensiewerksessie sodat jy ná die Buitebioskoop jou vriende en familie kan beïndruk met jou fliekkennis!

Mapstieks, dis ʼn mondvol.

Koop jou kaartjies, bestel ʼn piekniekmandjie en piekniekkombers vooraf en kom geniet die grootste, lekkerste Afrikaanse buiteluggeleentheid in die maanlig – soos net Maroela Media dit kan doen.

Vanjaar se Buitebioskoop word met trots moontlik gemaak deur attooh!.

Die program:

15:00 Hekke maak oop
16:00 Vermaak met 1925 Band en die instrumentale groep Meantime
16:00-17:00 Leon van Nierop bied ʼn fliekwerksessie aan by die Milk Plum-koffiewinkel
18:00- 23:59 (ongeveer) Heidi (alle ouderdomme), Sy klink soos lente (PG10) en Roepman (16)

Kaartjies kos slegs R120.00 per persoon – gratis vir kinders jonger as sewe.
Leon van Nierop se fliekresensiewerksessie kos R50.00 per persoon.
Jou kaartjie sluit toegang tot die Botaniese Tuin, vermaak en die drie rolprente in.

Daar is ʼn veilige, gratis speelarea vir kinders tot voor die eerste fliekvertoning.

Koop kaartjies

Nooi al jou vriende en laat weet jy kom saam: Buitebioskoop 2016
Stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir enige verdere navrae.

attooh!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Stephanie ·

Ag heerlik!!! Nou verlang ek na my jonger dae. Dit was altyd n hoogte punt… ons gaan “drive-in” toe. Ons het in n klein privaat diamant dorpie groot geword het en daar was nie goed soos inry nie, dus was “drive-in” deel van die vakansie lekkerte wanneer ons in Windhoek gekuier het.
Die term “penswinkel”, het dit nog nooit van te vore gehoor nie, maar dis beslis 100% beskrywend.

Petrus ·

Klink lekker. Wat is als in die mandjie wat mens kan bestel?

Sune van Heerden ·

Dagsê Petrus

Ons is besig om die mandjies te finaliseer. Ons laat weet jou so gou as moontlik!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Petrus

Hiermee die inhoud van die piekniekbondel (genoeg vir twee persone):
4x geurige beesfrikadelle met gekaramaliseerde uie
2x pannekoeke gevul met hoender-mayonnaise
4x gourmet broodjies met geglanseerde, gerafelde vark
1x heerlike aartappelslaai
komkommerstokkies, kersietamaties, wortelstokkies met tzatsiki en ‘n hummus-doopsous
1 x kaasmuffin en 1 x spinasie en fetamuffin
1x vrugteslaaitjie
2x “brownies”
2x witsjokolade en donkersjokolade mousse-koppies
2x amandelkoekies (“macaroons”)

Die koste van só piekniekbondel beloop R280-00.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Annetjie Horn ·

Wat kos die piekniek mandjies en die piekniek kombers? En wat is in die piekniek mandjies

Sune van Heerden ·

Dagsê Annetjie

Die piekniekbondel is genoeg vir twee mense en die koste beloop R280-00.
Hiermee die inhoud:
4x geurige beesfrikadelle met gekaramaliseerde uie
2x pannekoeke gevul met hoender-mayonnaise
4x gourmet broodjies met geglanseerde, gerafelde vark
1x heerlike aartappelslaai
komkommerstokkies, kersietamaties, wortelstokkies met tzatsiki en ‘n hummus-doopsous
1 x kaasmuffin en 1 x spinasie en fetamuffin
1x vrugteslaaitjie
2x “brownies”
2x witsjokolade en donkersjokolade mousse-koppies
2x amandelkoekies (“macaroons”)

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Carien ·

Ag toggie… Kom hou een in Bloemfontein ook? Ons het ‘n ongelooflike mooi Botaniese tuine…. En die Vrystaters is vrek oulik… En ons hou van fliek…

Juanita ·

Stuur asb die kostes van jul Piekniek madjies en kombers.

Sune van Heerden ·

Dagsê Juanita

Al die besonderhede is hier beskikbaar:
https://tickets.tixsa.co.za/event/maroela-media-attooh-bied-aan-buitebioskoop-in

Die koste vir die piekniekbondel beloop R280-00 (dis genoeg vir twee persone)
Die kombersie wat ons in die winkel verkoop is nie regtig ‘n piekniekkombers nie, dit is eintlik net ‘n wollerige kniekombers. Só kombersie kos R150-00 (koop hom hier: https://maroelawinkel.co.za/products/kombersie).

Hoop ons sien julle daar!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Juanita ·

Hoe lyk die T-hemp – fliekvlooi ?
Sal bly wees as jul aan ons ‘n voorbeeld kan wys.
Asook die kombers voorbeeld

SJP ·

Ek sien daar is n wynstalletjie, maar mag mens jou eie alkoholiese drankies invat?

Sune van Heerden ·

Dagsê SJP

Alkoholiese drankies sal wel toegelaat word.

Sien julle daar!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Marguérite ·

More, kan ons eft betalings doen asb. Bestel ons die kaartjies dan direk by jul?

Sune van Heerden ·

Dagsê Marguérite

Dankie vir jou navraag. Ons stuur vir jou ‘n e-pos hieroor.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Marguérite ·

Baie dankie vir jul vinnige terugvoer, waardeer baie! Geseënde dag vir jul!

CYRILENE EASTES ·

Waar kan ek kaartjies koop vir die buitelug bioskoop?

Dankie

Nicole ·

Ek sukkel om julle aanlyk kaartjies te koop, kan ek op ‘n ander manier die kaartjies koop asb.

Mariné Lourens ·

Dagsê Nicole

Dankie vir jou kommentaar. Iemand sal binnekort met jou in verbinding tree.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

d ·

So vir my en my vrou en kinders gaan dit oor die duisend Rand kos en wat gaan die parkering kos want dit lyk nie of daar parkering is nie. Nee wat neem n Video uit dan spaar jy nog petrol kostes. Iemand wil weer baie geld maak. Dankie maar nee dankie.

Susan Lombaard ·

Dagsê d

Die kaartjies kos slegs R120 per persoon, wat al drie flieks insluit. Kinders onder 7 fliek gratis, en jy kan jou eie piekniekmandjie inneem – jy is onder geen verpligting om ‘n mandjie te bestel nie. Daar is wel veilige parkering beskikbaar, met betaalde motorwagte aan wie jy slegs ‘n fooitjie kan gee as jy wil. Boonop is daar vanaf 15:00 die middag reeds heerlike vermaak wat ook by die prys ingesluit is, en jy kan die hele aand lank die gesellige buitelug-piekniek-atmosfeer geniet. Kom maak gerus ‘n draai en besluit self of ‘n video tuis net soveel pret is!

Groetnis
Susan Lombaard (nms Maroela Media)

Neil Jansen van Vuuren ·

Wat gebeur in die geval van reen wat voorspel word vir die naweek en die kaartjies is alreeds gekoop ?

Landi Slatter ·

Dagsê Neil en Susan,

Dankie vir die navrae! Sou die geleentheid heeltemal uitreën tot so mate dat ons moet kanselleer, sal die kaartjies terugbetaal word. Die weersvoorspellings van verskillende instansies verskil omtrent, maar ons hou die weer dop en hoop vir ‘n lieflike dag!

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Susan Leeuwner ·

Kan u ons asb laat weet wat gebeur as dit Sat reen?

Jana van Rooijen ·

Hi is daar nog iewers twee kaartjies beskikbaar?

Christi Lategan ·

Kan ons by die botaniese tuine koop met ingang of moet ons vooruit kaartjies koop.

Mariné Lourens ·

Dagsê Christi

Dankie vir jou navraag! Daar is in die stadium nog kaartjies by die ingang beskikbaar, maar nie meer baie nie. Sorg dus dat jy sommer vroeg daar kom om te verseker dat jy nog kaartjies kry.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Joop Dekker ·

Wat ‘n lieflike aand met Afrikaans films in die buitelug, en resensent Leon van Nierop se kommentaar en insig oor die Afrikaanse filmbedryf! Dankie Maroela Media!! (Net jammer die 2 onprofessionele aanbieders en hulle swak taalgebruik).

Ilze Kotze ·

Wonderlike aand! Jammer dat die weer nie saamgespeel het nie. Doen so voort asb! Regardt van den Berg jy is die beste en Leon van Nierop ook! Trots Afrikaans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.