Diaan, Leah en Quanita is susters in nuwe fliek

Die Afrikaanse kunstenaars Leah, Diaan Lawrenson en Quanita Adams is binnekort as susters in ʼn splinternuwe fliek te sien wat beloof om hope pret te verskaf.

Dié fliek – wat Susters heet – vertel die verhaal van drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het en weer herenig word wanneer hulle op ʼn ontdekkingsreis gaan ná die afsterwe van hul ma.

Leah, ʼn bekroonde sangeres wat ook bekend is vir haar rolle in As jy sing en Sterlopers, vertel dié verhaal is een wat gevul is met teer herinneringe, interessante karakters, mooi besienswaardighede en hope pret.

“Die fliek gaan baie dinge in mense aanwakker en talle gaan hulle daarmee kan vereenselwig. Dit is boonop esteties ook prentjiemooi, want ons het die film in die mooiste dele van die land geskiet. Daar is ʼn soort kunstigheid daaraan en ek is baie opgewonde oor die vrystelling,” vertel sy.

Leah sê die verfilming van Susters het haar uitgedaag om die manier waarop sy na toneelspel kyk, te verander. “Ek moes regtig diep delf in myself omdat my karakter deur baie verskillende emosies gaan. Sy moet baie dinge wat na haar kant gegooi word, hanteer. Dit was ʼn ongelooflike uitdaging – en ek hou natuurlik baie van ʼn uitdaging.”

Die aktrises deel wel nie dieselfde bloedlyn in regte lewe nie, maar hulle het só nou saamgewerk tydens die verfilming van die fliek, dat hulle skoon soos regte susters voel.

“Dit was vir my ʼn groot voorreg om saam met Diaan en Quanita te werk en ek kon ongelooflik baie by hulle leer. Hulle het vir my ʼn nuwe uitkyk op toneelspel gegee en my gehelp deur die proses. Ons het baie gebond op stel – net anderdag het ek na ʼn produksie van Quanita gaan kyk, en dié week gaan ek om Diaan te ondersteun.”

Corné van Rooyen, wat bekendheid verwerf het as regisseur vir Hollywood in my huis en Vaselinetjie, is die regisseur van Susters. Die draaiboek is geskryf deur Corine du Toit en Sandra Vaughn, wat saam ʼn magdom film- en TV-reeksdraaiboeke agter hul naam het, waaronder Semi-Soet. Die vervaardigers is Jenny Griesel en Johan Vorster.

Susters is ʼn samewerkingsprojek tussen Inhoud Huis Media en kykNET. Die fliek word op 1 Desember landwyd vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre Traut ·

Ek is nie n aanhanger van sangers wat akteur probeer speel nie. Hulle dinamika is net nie ingestel op die akteur aspek/ genre nie en daar is eerlikwaar nie een wat ek kan commend as dat dit n sukses was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.