Leon van Nierop se resensie: Blade Runner 2049

Met Ryan Gosling en Harrison Ford
Regisseur: Dennis Villeneuve

Hierdie vervolg op 1982 se ikoniese Ridley Scott-rolprent is so oorweldigend en skouspelagtig, dat dit ʼn mens ʼn goeie 15 minute neem om daaraan gewoond te raak. Denis Villeneuve, wat ook die onlangse Arrival gemaak het, ken wetenskapfiksie, maar in hierdie rolprent loop hy direk op die diep voetspore van Ridley Scott, en soms lyk dit soms asof hy letterlik in goud loop.

Die rolprent is in goud, geel, bruin en ʼn mistige neon-droom-skakerings geskiet wat ʼn anders-wêreldse voorkoms daaraan gee. Dit is ʼn voortsetting van Scott se oorspronklike styl, maar net met meer subteks en meer tegniese vordering. Dit is, om ʼn geleerde rolprentterm te gebruik, ʼn neo-noir wetenskapfiksierolprent waarin skaduwees, donker beligting en neonkleure ʼn prominente rol speel.

In hierdie weergawe moet ʼn blade runner, wat robotte moet soek wat hulle as mense voordoen, na ʼn kind en ook na die oorspronklike Blade Runner, Deckard, gespeel deur Harrison Ford, soek. In die proses ontdek hy ook dinge van homself en uit die verlede wat hom katswink slaan. Dit gaan hier om robotte wat eintlik mense wil wees en na emosies en gevoel soek. En die vraag is: wie is robotte en wie is ware mense?

Onthou net: die rolprent beweeg baie stadig. Dit lyk soms asof die karakters in stadige beweging loop – asof hulle op ʼn droomverlore halfwegstasie tussen êrens en nêrens verdwaal het. Die stelle, kleurskakerings en kinematografie is soos niks wat jy al tevore gesien het nie. Dit is eintlik ʼn orgie vir die oogballe wat jou in ʼn staat van bedwelming laat. Wees dus gewaarsku, jy moet dit in IMAX sien sodat jy elke detail, kleurverandering, metamorfose van karakters wat letterlik inmekaar smelt en reuse-stel wat alles domineer ten volle kan inneem.

Weet ook dit is nie doodgewone vermaak hierdie nie. ʼn Mens kyk met respek daarna. Dus is die visuele voorkoms byna belangriker as die storie wat bloot oor atmosfeer gaan. Baie mense sal oorweldig word en nie omgee dat so min in stadige beweging gebeur nie, ander sal dalk verveeld raak, veral as jy van aksieprente soos The Fast and the Furious hou.

Aanbeveel vir fliekfoendies en mense wat die oorspronklike rolprent destyds gesien het, of sy vele veranderde weergawes waaraan Ridley Scott gepeuter het, maar ook deurwinterde wetenskapfiksie verslaafdes.

ʼn Dwelmdroom wat met al jou sintuie praat.

 

Kyk die fliek by Ster-Kinekor of NuMetro (ouderdomsbeperking 16LV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Director Krennic ·

In die oorspronklike BR was daar ‘n toets om te bepaal of jy ‘n mens met ‘n etiese ontwikkelde kern is of kunsmatig is (‘Replicant’). Die ‘Voight Kampff’ toets was so ontwerp om ‘n etiese/morele antwoord te ontlok by die persoon wat die vrae van die toets moes beantwoord Die vrae was almal in ‘n bepaalde etiese raamwerk opgestel en slegs ‘n “werklike” mens sou emosioneel/eties daarop reageer. ‘n Kunsmatige mens sou die toets faal.

Ek sal sover gaan om die bewering te maak dat die meeste mense vandag die VK Toets sal faal as hul ooit aan hom onderwerp word. Ek grond my bewering op wat ek daagliks lees, sien en hoor. So ‘n siening het ernstige implikasies: as ons ‘Replicants” die reg om te bestaan ontsê maar ons kan nie dieselfde toets slaag waaraan hul onderwerp word nie, watter aanspraak het ons op selfbestaan?

Hier is ‘n VK vraag. Toets jouself:

You’re in a desert walking along in the sand when all of the sudden you look down, and you see a tortoise, it’s crawling toward you. You reach down; you flip the tortoise over on its back. The tortoise lies on its back, its belly baking in the hot sun, beating its legs trying to turn itself over, but it can’t, not without your help. But you’re not helping. Why is that?

Director Krennic ·

Daar is al 100+ PhD proefskrifte ontwikkel en voorgelê oor die jare om die versteekte multi-dimensionele betekenisse agter BR te ontleed…en dit alles voortspruitend uit ‘n storie wat Phillip K. Dick jare gelede geskryf het (“Do Androids Dream of Electric Sheep?”)

BR word vandag beskou as een van die beste (indien nie dié beste) rolprente wat ooit gemaak is. Sy invloed na 35 jaar het nog nooit gekwyn.

Die openingsnitte is iets wat jy nooit vergeet:

http://www.youtube.com/watch?v=-fu7jN2_2pE

Die ‘trailer’ oorweldig jou….

http://www.youtube.com/watch?v=ccJJ0uxigVA

‘BR 2049’ het groot skoene om te vul….hoe verbeter jy op die ‘Mona Lisa’?

Director Krennic ·

Roy Batty se laaste woorde bly by jou vir altyd:

“I’ve seen things you people wouldn’t believe. Attacked ships on fire off the shoulder of Orion. I watched C-beams glitter in the dark near the Tannhäuser Gate. All those moments will be lost in time, like tears in rain. Time to die.”

Die opening van BR is onvergeetlik:

http://www.youtube.com/watch?v=-fu7jN2_2pE

Niemand weet wat ‘C-Beams’ is nie…maar ons sal graag wil uitvind!!!

Director Krennic ·

Blade Runner het ‘n versteekte multi-dimensionele betekenis. Soveel so dat daar sedert 1982 ~100+ PhD proefskrifte voorgelê is om hierdie diepere aspekte te ontleed.

Hier is sommige ontledings:

https://br-insight.com

Die kernvraag is: as jy beweer dat jy ‘n mens is, hoe bewys dit? Hoe leef jy om daardie titel waardig te wees? Watter meriete het jy bo ander lewensvorme in die Natuur indien enige? Hoe behandel jy die Natuur om jou? Is jy ‘n onderhouer en beskermerdaarvan of dra jy ruim by tot sy uiteindlike vernietiging? Indien die meerderheid hulself bevind in die laasgenoemde kategorie, is ons globale samelewing baie vinnig oppad na die BR werklikheid van 2019…daar is niks wat dit sal verhoed nie…

Ja, BR en BR 2049 is nie “date” en “popcorn” movies nie. Nie vir plebs bedoel nie.

Nie sleg vir ‘n iets wat eindelik uit iemand anders se pen gekom het oorspronklik nie (“Do Androids Dream of Electric Sheep?” deur Philip K. Dick).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.