Leon van Nierop se resensie: Vaselinetjie

Met Nicole Bond en Marguerite van Eeden
Regisseur: Corné van Rooyen

Alhoewel hierdie rolprent eers aan die einde van die maand begin, kan luisteraars en lesers die titel nou reeds aanteken. Dit het onlangs weggestap met die Silwerskermprys as rolprent van die jaar. Dit is gegrond op Anoeschka von Meck se bekroonde roman, en gaan oor ʼn dogtertjie wat deur bruin ouers aangeneem is en in ʼn bruin woonbuurt grootgemaak is. Maar omdat sy eintlik wit is, voel dit of sy nêrens tuishoort nie.

Cornel van Rooyen se regie is getemper en onderspeel. Hy keer dat die rolprent melodramaties of oordrewe emosioneel raak. Dit is sy gedissiplineerde aanslag, sy knap ontginning van die rowwe natuur rondom Springbok (simbolies van Vaselinetjie se lewe) en die emosionele verwaarlosing en identiteitskrisis waarin die dogtertjie beland, waarop gefokus word. Boonop is die spel eweneens getemper om die karakters nog meer simpatiek te maak.

Klasseverskille, rassisme en xenofobie word sonder skroom aangevat, maar sonder woede of oormatige aggressie. Dit is die mense wat die regisseur en puik draaiboekskrywers (Corné se vrou René was die mede-draaiboekskrywer) interesseer. ʼn Mens identifiseer en simpatiseer met hulle wanneer veral Vaselinetjie metafories word van die dilemma waarin Suid-Afrika hom vandag nog steeds bevind, veral wat die kleurskeidslyn betref. Dit wil voorkom dat hoe harder ons probeer om van verskille weg te kom, hoe meer bewus raak ons daarvan – dalk die simptome van swak leierskap.

Hierdie rolprent mag jou aangryp, meevoer en laat simpatiseer. Maar dit bewys dat Afrikaans rolprente oor kleurverskille kan maak wat enige dag by die destydse Katrina kan kers vashou.

Nicole Bond (die jong Vaselinetjie) en Marguerite van Eeden as die volwasse een (laasgenoemde het ʼn spesiale bekroning by die Silwerskermfees gekry) asook Elzet Nel as Killer verdien spesiale vermelding. Plaas dit heel bo-aan jou September flieklys.

Die fliek begin op 22 September by Ster-Kinekor-teaters landswyd. Koop jou kaartjies nou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.