Luister: Edwin van der Walt vertel van ‘My Father’s War’

Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

Die akteur Edwin van der Walt van Ballade vir ʼn Enkeling-faam het onlangs in die Maroela Media-ateljee kom kuier om te gesels oor die nuwe Afrikaans-Engelse fliek, My Father’s War.

Edwin vertel dié unieke storielyn het hom dadelik aangegryp. “My karakter se pa het tydens die Grensoorlog gehoor sy vrou verwag ’n kind, maar hy kon nie terug huis toe gaan nie. Hy was uiteindelik 19 jaar weg omdat hy later ook in Irak by die weermag aangesluit het,” het hy verduidelik.

“Die pa besluit toe om terug te kom na die gesin en ʼn maatskappy te begin, en wil dan ʼn verhouding met sy seun hê, maar dit is nie so eenvoudig nie. Daar is ʼn baie intense konflikverhouding tussen pa en seun.”

Hy sê dié fliek gaan tot ʼn wye gehoor spreek. “Ek dink daar is baie mense wat sit met dinge waaroor hulle nog nie gepraat het nie of dinge wat onopgelos is. Baie mense sal hierby aanklank vind omdat dit nie net gaan oor die oorlog nie, maar ook oor alle verhoudings in die algemeen,” het hy bygevoeg.

My Father's War (Foto: Verskaf)

My Father’s War (Foto: Verskaf)

Aanhangers kan glo uitsien na verskeie aksiebelaaide tonele in My Father’s War. “Ek sien die meeste uit na die ontploffings en die gewere. Ek dink dit gaan die eerste keer wees dat mense die operasies van die soldate sien soos dit werklik gebeur het. Daar het baie navorsing ingegaan om dit histories korrek te maak. Dit laat jou as kyker eintlik besef waaroor die oorlog werklik gegaan het, en jou vooropgestelde idees verander dan.”

Ander akteurs in die fliek is Stian Bam en Erica Wessels. Hy vertel albei akteurs, wat al langer as hy in die bedryf is, het hom baie leiding gegee. “Stian Bam is vir my ʼn mentor, want ek leer ongelooflik baie by hom. Dit was ongelooflik om teenoor hom te kan speel. Erica Wessels is ongelooflik – sy wil net die beste hê vir die ander persoon teenoor wie sy speel. Hulle het ook gesorg vir baie pret agter die skerms. Die regisseur Craig Gardner het almal poetse gebak,” het hy bygevoeg.

Ander akteurs is Neels Clasen, Hannes Muller, Meren Reddy, Fumini Shulubana, Jai’prakesh Shewram en David Rees.

My Father’s War word op 5 Augustus 2016 landwyd in teaters vrygestel.

Besoek My Father’s War se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.