Luister: Zak Hendrikz wéér ʼn booswig in ‘Eintlik nogal baie’

Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

Hy is eenmaal in ʼn winkel ʼn barshou deur ʼn kwaai sepie-tannie toegedien. Sy het na hom toe gestap, hom stip in die oë gekyk en met mening geklap. Hy is dan Eben Nel, die booswig wat almal in Binnelanders se lewe liederlik hel maak.

Hy is by verskeie ander geleenthede ook al van links tot regs uitgeskel – vir die gemene en bombastiese Gavin Greeff van Ballade vir ʼn enkeling en vir die wreedaard wat hy in die dokumentêre fliek Alison The Movie speel.

Nou speel Zak Hendrikz wéér die boef in die nuwe Afrikaanse fliek Eintlik nogal baie, en vertel kykers gaan veral warm onder die kraag vir dié karakter raak.

“Dalk het ek ʼn gesig wat net skree ek moet geklap word,” skerts hy. “Ek speel deesdae altyd die baddies en die tannies raak báie opgewerk wanneer hulle my in die winkels raakloop.

“Ek kla egter glad nie. Dié tipe rolle was nog altyd vir my baie bevredigend omdat die karakters dikwels baie meer dimensie het as die helde in ʼn fliek of reekse. Dit maak dit amper lekkerder om só ʼn rol te vertolk.”

In Eintlik nogal baie vertolk hy die rol van Dewald van der Walt – ʼn “sjarmante, arrogante manipulerende boef”.

Dié fliek vertel die storie van Jay van Niekerk (André Lötter), ʼn aantreklike en teruggetrokke strokiesboek-animeerder.

Jay het sy lewe deeglik onder beheer, maar dit verander egter wanneer hy vir Ally (Marisa Drummond) ontmoet. Sy is pragtig, vry van gees en op ʼn reis van selfontdekking. Te danke aan omstandighede buite hul beheer word hulle, teen Jay se sin, op ʼn avontuur gedwing. Ongeag hul botsende geaardhede, raak hulle al meer aangetrokke tot mekaar en word dit heeltemal onvermydelik om verlief te raak.

Die pad vorentoe is nie sonder hindernisse nie en Ally se oorbeskermende pa, asook haar ekskêrel, Dewald (gespeel deur Zak), plaas verskeie struikelblokke in Jay se pad om homself as waardig te bewys.

Die fliek is gebaseer op die draaiboek, Ally.

“As daar een iets is wat ek van die fliek wil uitwys, is dat dit nie ʼn doodgewone Afrikaanse romantiese komedie is nie. In wese is die fliek ʼn romantiese komedie, maar dit is ook ʼn tragedie, ʼn drama en daar is baie aksie in. Ek glo dit gaan dus tot ʼn wye gehoor spreek,” voeg hy by.

Fliekgangers kan van een ding seker wees: Eintlik nogal baie gaan hul konsep van liefde uitdaag en is vir seker nie ʼn happy-ever-after storie nie. “Daarbenewens leer die fliek dat liefde enigiets kan oorkom. Dit leer egter ook dat liefde iets is wat gekoester moet word, want jy weet nie wanneer dit van jou weggevat word nie.”

Wat gebeur agter die skerms met die skiet van só ʼn fliek? “Daar was ʼn aksietoneel tussen my en André waar ek hom in die swembad moes gooi. Ons het net een uitrusting gehad, so daar was net een kans om dit reg te kry. Ons het dus baie daaroor gelag, maar ek sê altyd vir mense die geheim in die sukses van die skoot lê daarin dat ek maar nog altyd vir André wou wiks,” spot hy.

Eintlik nogal baie begin op 4 November in teaters landwyd draai.

Die fliek is geskryf en vervaardig deur Jarrod de Jong en Pieter Oosthuizen. Jacques Brand het die regie behartig.

Vir meer inligting, besoek die fliek se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.