‘Noem my Skollie’, ʼn fliek oor hoop

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Die lewensverhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (70) is die onderwerp van ʼn nuwe fliek wat vertel hoe dié suksesvolle skrywer en regisseur agter ʼn vullishoop grootgeword het. Met geen heenkome nie en deel van ʼn bende het hy daarin geslaag om sy lewe om te draai met die krag van geloof.

Dié fliek, Noem my Skollie, met Daryne Joshua as regisseur, begin op 2 September in teaters draai. Dit speel af op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-gevangenis.

Noem my Skollie vertel die verhaal van vier tieners, AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk) wat in die armoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword. Die vier probeer die bendes vermy wat eintlik deel is van hul daaglikse lewens, maar wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende wat vir mekaar soos broers is, pleeg nie ernstige misdade nie, maar nietemin hou die polisie hulle deurentyd dop. Uiteindelik word die ouer AB (Dann-jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem tydens ’n inbraak en word hulle tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

AB besluit in die tronk om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak en sy status te verhoog, terwyl sy vriend Gimba ’n ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.

Wanneer AB vrygelaat word, gaan hy voort met die verhouding met sy vriendin, Jenny (Tarryn Wyngaard), en probeer fokus op storieskryf om haar te beïndruk, maar sy bendevriende oortuig hom om ’n laaste keer weer by hulle aan te sluit, ’n besluit wat nadelige gevolge vir hulle almal het.

Noem my Skollie dra die temas van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor. Die titel van die fliek sinspeel op die gesegde dat ’n mens niemand op sy of haar voorkoms moet beoordeel nie en ondersteun die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind… en dat daar moontlik ʼn prys aan gekoppel is.

Fredericks het sy skoolloopbaan in sy tienerjare vaarwel geroep en het baie jare in die tronk deurgebring. Hy het egter in sy sestigs daarin geslaag om ’n uitstekende draaiboek van wêreldgehalte te skryf.

Die klankbaan is geskep deur die gerekende Kaapse musikant Kyle Shepherd. Shepherd was in 2014 die Standard Bank Jong Kunstenaar vir jazz.

Ander akteurs in die rolverdeling sluit in Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally asook die nuweling David Manuel wat die rol van die tronkbaas vertolk.

Noem my Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.