Nuwe uitdaging vir Ivan en Donnalee

Featured-Vir-Altyd-Ivan-Botha-en-Donnalee-Roberts-02

Donnalee Roberts en Ivan Botha by die fliekpremière van Vir Altyd (Foto: Esté Meyer-Jansen)

Die glanspaartjie Ivan Botha en Donnalee Roberts het meer as net die goeie nuus oor hul verlowing om met aanhangers te deel: hul jongste fliek, Stroomop, word oor ʼn jaar in teaters landwyd vrygestel.

Stroomop sal amptelik op 9 Augustus 2018 – spesifiek vir Vrouedag – in teaters begin draai.

Die akteurs sal egter nie soos in hul vorige flieks, Pad na jou hart en Vir Altyd, teenoor mekaar speel nie. Roberts sal ʼn hoofrol vertolk, terwyl Botha sy debuut as regisseur gaan maak. Tom Marais, die bekroonde kinematograaf, is ook deel van die span.

“Soms moet ons saam met die stroom van die lewe vloei en soms moet ons stroomop roei om by ons lewensdoel uit te kom; dit is presies wat vir ons as span voorlê met hierdie avontuur. Wat ʼn voorreg om aan die stuur van Stroomop te kan wees, of sal ek sê die gids te wees. Ek sien daarna uit om elkeen van die karakters te ontmoet en om geduldig en met soveel respek hul stories te help vertel,” sê Botha.

Roberts se karakter en dié van vier ander vroue, wat almal in hul eie lewe besig is om te verdrink en in die onstuimige waters van die lewe rondgemaal te word, beloof om kykers op ’n opwindende avontuur te neem.

Stroomop (Foto: Verskaf)

“Hulle gaan saam moet veg teen trane, woede, vrese, pyn en om oorlewing tydens ’n “river rafting experience” op die Oranjerivier. Hierdie situasies sorg darem ook vir heerlike uit-jou-maag-uit-lag-oomblikke waarin ʼn mens besef dat jy partymaal net jouself en jou omstandighede moet aanvaar en die beste daarvan maak. Soms moet jy stroomop swem om te ontdek dat jy meer as genoeg is en oor alles beskik om alles te oorkom wat die rivier van die lewe na jou kant toe mag spoel,” lui ʼn verklaring van die produksiespan.

Stroomop vertel ʼn verhaal van selfontdekking, vergifnis en aanvaarding. Roberts sê dié film hou nuwe uitdagings in. “Hierdie vroue se storie móét vertel word! Stroomop gaan tot dusver ons uitdagendste projek ooit wees. Ek is eerlik as ek sê dit laat my maag draai en my hart vinniger klop, maar ek is reg vir hierdie uitdaging, reg om dit vierkant in die oë te kyk, my roeispane te gryp en die diep, donker, bruisend ongetemde waters emosioneel en fisiek aan te pak.”

Die akteurs het hul jongste fliek aangepak in samewerking met The Writers Block (Sean Daniels en Quentin Krog). Stroomop word ook weer deur 17 Films & The Film Factory vervaardig, dieselfde span agter Pad na jou Hart en Vir Altyd.

Stroomop word op 9 Augustus 2018 landwyd deur Ster-Kinekor, Nu-Metro en onafhanklike teaters uitgereik en in Februarie en Maart 2018 in Johannesburg en Onseepkans in die Noord-Kaap verfilm.

Botha en Roberts het ’n spesiale video opgeneem op die “stel” van Stroomop tydens hul eerste produksiebesoek aan die Oranjerivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kwaan ·

Sal beslis goed wees. Geniet die 2, veral vir die beeldskone DonnaLee. In my top 5 wereldwyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.