[Video] Eerste kykie na ‘Krotoa’

Akteurs soos Deon Lotz, Armand Aucamp, Crystal Donna Roberts, Jacques Bessenger en Brendon Daniels is te sien in Krotoa (Foto: Facebook)

Die amptelike lokprent vir die plaaslike rolprent Krotoa is vandeesweek bekendgestel.

Krotoa is nog nie amptelik in Suid-Afrika uitgereik nie, maar het reeds agt toekennings verower op die internasionale rolprentfees vir omgewing, gesondheid en kultuur, die wêreld-rolprentpryse, die Artemis-vroue-in-aksie-rolprentfees en die Nashville-rolprentfees.

Krotoa (vertolk deur Crystal Donna Roberts) is die tragiese heldin wie se vergete verhaal binnekort lewe gaan kry op die silwerdoek. Die rolprent word in Vrouemaand uitgereik en is die indeale manier om die verskil wat die vroue in ons land maak, te vier.

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige 11-jarige Khoi-prinses, wat van haar mense weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.

Sy word na die eerste fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie opgerig is, geneem waar sy onder meer leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan. Sy word ’n invloedryke tolk vir Van Riebeeck (Armand Aucamp) sowel as vir haar eie mense. Vasgevang tussen twee kulture probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen.

Krotoa (Foto: Facebook)

“Daar is baie min Suid-Afrikaanse vroue, in vergelyking met mans, wat erkenning kry vir die invloed wat hulle op die land se geskiedenis gehad het,” sê Roberta Durrant, die regisseur en vervaardiger. “Vroue soos Ruth First, Lillian Ngoyi, Bettie du Toit en Sophia Williams-du Bruyn het sterk gestaan in die opstand teen die apartheidsregering. Wanneer ons egter delf in Suid-Afrika se ryk geskiedenis, kom ons op ander inheemse vroue af wat instrumenteel was tot die ontwikkeling van ons nasie – selfs nog voor diegene wat gehelp veg het vir ons vryheid.

“Krotoa is die heldin van hierdie fliek. Dit is belangrik om haar storie te vertel om rede alles wat sy bereik het, en ook om te beklemtoon dat sy vasgevang was tussen twee leefwyses en dat sy telkemale gedwing is om te kies tussen hierdie twee kulture. Identiteit, die behoefte om in te pas en versoening is die sterk, universele temas van hierdie kragtige verhaal. Dit is veral belangrik, omdat die identiteit van ’n persoon – wat tussen twee kulture staan – so relevant is in ons multikulturele samelewing,” sê Durrant.

Krotoa is geskryf deur Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid.

Krotoa, geskryf deur Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, word op 4 Augustus in Suid-Afrika uitgereik.

15 Kommentare

Nettie ·

Hans, soort van korrek. Die ‘kasteel’ – egter – in die fliek lyk nie vir my baie na aan die waarheid nie. Daar was eers ‘n Fort de Goede Hoop, vanaf 1652 tot 1666, toe die werk aan die Kasteel de Goede Hoop begin het. Die kasteel in die film was dus fiktief (dit het toe nog nie bestaan nie, want die Fort was van ‘n grondmoot en hout gemaak – dit is naby die uitmonding van die Soutrivier gebou. Eva/Krotoa was ‘n huis-slavin/tolk in diens van Goew. Jan van Riebeeck, susterskind van Herrie, die Strandloper (oftewel Autshumao, leier van die Goringhaiqua). Sy het later van getrou met ‘n Nederlander, Van Meerhoff en hom drie kinders in die lewe gebring. Sy het tussen haar Khoi-identiteit en Nederlander-identiteit geswerf, was dikwels dronk en het as prostituut gewerk (sy het twee buite-egtelike kinders gehad) en was vir ‘n groot deel van haar lewe na Robbeneiland verban. Haar man is op Madagaskar tydens ‘n verkenningstog vermoor en sy is oorlede in 1674 (dieselfde jaar as wat De Kasteel de Goede Hoop in gebruik geneem is) en begrawe op die perseel van die ou Fort.

Reinhardt ·

Ek het gisteraand die lokprent gekyk en ek moet sê dit lyk uitstekend!
Ek sou egter meer daarvan gehou het dat die Afrikaans wat hulle praat met n tipe van oud-Hollandse/Vlaamse aksent was.

Maria Van Dieweeck ·

Dit is verby HOOGTYD om ware geskiedenis te begin uitbeeld! Hetsy op die silwerdoek, die planke, musiek, geskrewe werke ens. Die anderkant (die ware kant) van ons verlede HET asemrowende mooi stories!

apie ·

ek sal enigeen wed dis nou alweer n storie met n politieke kleur. Goed gemaak of te not. Dit lyk n film geborg deur die DTI , so kom ons hou dop.

Linette ·

Nee, Apie, dit is glad nie so nie. Die fliek handel om die tema van Eva/Krotoa – ‘n jong meisie van die Kaap – gebore rondom 1643 – susterskind van Herrie die Strandloper/Autshumao, leier van die Goringhaiqua, oftewel die Strandlopers in die tyd van die stigting van De Caab de Goede Hoop oftewel “Het Vleck” in die volksmond. Sy is deur haar oom Autshumao aan die Nederlandse setlaars gegee om ‘n binnewerker te raak vir die Goringhaiqua, hoewel ander bronne vertel dat sy deur Jan van Riebeeck ontvoer is. Doman, die – kan mens sê strydlustige Khoikhoi (lid van die Goringhaiqua, Strandlopers) en eens tolk tussen sy mense en die Nederlanders – se plan was om oorlog te maak teen die Nederlanders en daarvoor het hy binne-kennis nodig gehad. Eva was dus spioen/tolk/slavin – verskeur tussen haar eie, natuurlike KhoiKhoi wêreld en die wêreld van die Nederlanders. Soveel so dat sy op die ou einde ‘n dronklap en prostituut geraak het en meer op Robbeneiland was, as op die hoofland. Dit is ‘n fantastiese, historiese verhaal wat deur almal wat ‘n belangstelling in geskiedenis het, gekyk behoort te word!

Johann Basson ·

Eerstens, ek is ‘n twaalfde geslag afstammeling van Krotoa.
Tweedens, ek is ‘n negende geslag afstammeling van Angela van Bengale, ‘n Oosterse slavin van Jan van Riebeeck.
Derdens, ek wonder of Krotoa en Angela van Bengale mekaar geken het.
Vierdens, ek wonder watter persentasie Afrikaners weet of hulle afstam van Krotoa al dan nie.
Vyfdens, ek wonder watter persentasie Afrikaners weet of hulle afstam van Angela van Bengale al dan nie.

Nettie ·

Ek stam baie beslis nie van Eva Krotoa af nie. Ons stamvader was Hendrijk Johannes Christiaan Thieraardt, aangekom as matroos in die Kaap, 1689. Getroud met Johanna Elisabet Marié [nèe De Beaumont, afstammeling van Franse Hugenote], daarna nog een of twee keer met wit vrouens getroud (en het ‘n hele 26 kinders tussen dié drie vroue gehad!), waarvan die sesde nageslag my Ouma Johanna Elizabeth se moeder gelewer, Anna Maria Elizabeth, het. So ek kan suiwer sê – Eva of Eva se gesante was/is nie myne nie. En my Ma se voor-familie het in die laat 19de eeu vanuit Skotland hierheen geëmigreer.

Ha-ha-ha Vlakvark ·

Ek, Ha-ha-ha Vlakvark, het die voorafgaande 10 geslagte 2+4+8+16+32+64+128+256+512+1024=2046 voorouers. Hoeveel van hulle het in die tydperk 1652 – 1725 aan die Kaap van Goeie Hoop geland? Wat weet ons van elkeen van hulle se gesinsgeskiedenis? Waar my van Vlakvark is, beteken dit nie dat ek net een stamvader Jan Gerhardus Cornelius Johannes Jacobus Vlakvark en een stammoeder Maria Elizabeth Johanna Jacoba Vlakvark (nooi BOSVARK) gehad het nie. Krotoa of Angela van Bengale kon dalk ook van my “Afrika en Indiese stammoeders” gewees het. Daar was der duisende slawe vanuit Afrika, Indië en die Ooste in Suid-Afrika. En dan was daar ook die inheemse bevolking. Daar is huiswerk om te doen om my familiegeskiedenis en die Suid-Afrikaanse geskiedenis beter te ken, verstaan en daaruit te leer vir ‘n beter toekoms.

Akram ·

Ek het begin naslaan waar my stamboom vandaan kom. Tot my skok is vasgestel dat ons van die klomp see rowers afstammelinge is. Net daar gestop en besluit om niks verder te soek nie. Ek in versigtig vir eise……..

Patat ·

Ja, ek weet my voorgeslagte is nie suiwer europees nie. Waar anders sal my bruin oë vandaan kom? Dit pla my nie, trots op my herkoms.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.