Video: Skollie-fliek: Stories moes my lewe red, sê draaiboekskrywer

Dann-jaques Mouton, Christian Bennett, Gershwin Mias en Gantane Kusch (Foto: Maroela Media)

Dann-jaques Mouton, Christian Bennett, Gershwin Mias en Gantane Kusch (Foto: Maroela Media)

Die nuwe Afrikaanse fliek, Noem my Skollie, gaan ʼn emosionele kishou toedien en verseker dat kykers lank ná die fliek steeds daaroor dink. Daryne Joshua, die regisseur, sê dit is veral die egtheid van die fliek wat kykers gaan bybly.

Joshua het ook Maandagaand tydens die Johannesburg-première van die fliek gesê dat hy self op die Kaapse Vlakte grootgeword het en dat AB se storie “deels myne, en dié van my vriende is, wat saam met my daardie nare strate beleef het”.

Die fliek se amptelike première het verlede week by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai plaasgevind.

Dié fliek handel oor die lewensverhaal van die draaiboekskrywer John W Fredericks (70). Noem my Skollie volg die verhaal van AB Lonzi en sy drie beste vriende, Gimba, Gif en Shorty, wat op die Kaapse Vlakte grootword.

John W Fredericks en metgesel. Foto: Maroela Media

John W Fredericks en metgesel. Foto: Maroela Media

Die vier probeer die bendes vermy wat eintlik deel is van hul daaglikse lewe, maar wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle egter om ’n bende in teenreaksie te stig om hulself te beskerm.

Hul bende, The Young One’s, pleeg nie ernstige misdade nie, maar word deurentyd deur die polisie dopgehou. Uiteindelik word die ouer AB (Dann-jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem tydens ’n inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

In die tronk wend AB hom tot storievertellery, om te verhoed dat hy deel moet vorm van die bendes in die tronk en blootgestel word aan die gevare wat daarmee gepaardgaan.

“My stories het letterlik my lewe gered,” sê Fredericks oor sy werklike ervaring in die tronk.

Simon Witbooi (Hemelbesem) en sy vrou, Claudia Britz (YOMA). Foto: Maroela Media

Simon Witbooi (Hemelbesem) en sy vrou, Claudia Britz (YOMA). Foto: Maroela Media

Hy het die draaiboek begin skryf lank nadat hy self uit die tronk vrygelaat is in die sestigerjare. Hy het ook die geleentheid bygewoon.

“Ek is baie tevrede met die fliek. Jy kan my niks vertel van die tronk nie.”

Die fliek het ook geskiedenis gemaak toe dit vroeër vandeesmaand by Pollsmoor-gevangenis vertoon is. Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is, voordat dit landwyd op die grootskerm vrygestel word.

Ander akteurs in die rolverdeling sluit in Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally asook die nuweling David Manuel wat die rol van die tronkbaas vertolk.

Noem my Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Die fliek begin op 2 September landwyd in teaters draai.

Maroela Media het met die sterre op die glanstapyt gesels oor die belangrikheid om hierdie genre stories ook in Afrikaans te vertel, die uitdagings wat hulle ervaar het en die voorbereiding wat die span moes doen.

Die video volg onderaan die foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.