Die wenners van die Silwerskermfees-toekennings is by ʼn glansryke geleentheid Saterdagaand bekend gemaak. kykNET het ook drie belangrike aankondigings gemaak.
“Die Silwerskerm-kortfilmprojek is by uitstek ʼn talentontwikkelingsprojek. Elke jaar ontvang ons honderde konsep-inskrywings waarvan ons net 15 kan kies vir ontwikkeling en produksie,” sê Anneke Villet, toesigvervaardiger van die kortfilm-projek by die Silwerskermfees.
“Ons is altyd gelukkig met ons gekose 15, maar dit gaan wel gepaard met die hartseer wete dat ons vele ander talentvolle skrywers en regisseurs nie die kans kan gee om hul films op skerm te verwesenlik nie. Vanjaar was daar ʼn sestiende filmteks wat ons hoogs beïndruk het en dit was vir ons paneel besonder hartseer dat dit uitgeval het. Dis dan vir my ʼn uitsonderlike voorreg om aan te kondig dat kykNET besluit het om daardie teks saam met die skrywer te ontwikkel vir produksie tydens volgende jaar se kortfilmprojek en dit sal by die Silwerskermfees in 2017 vertoon word. Die teks se titel is Soos Gister, geskep en geskryf deur Marvin Lee Beukes.”
Die wenner van die Blitz Pitch, waar feesgangers in drie minute ʼn voorstel vir ʼn nuwe reeks of rolprent moes maak, was Philip Nolte wat die groen lig gekry het vir die storie wat Totsiens, Pa, sy kortfilm wat in 2014 deel van die Silwerskermfees was, voorgeloop het.
kykNET het ook vanjaar saam met die Nasionale Skoletoneel-kompetisie gewerk en Kaye Ann Williams, toesigvervaardiger: fiksie by kykNET, het aangekondig dat die skrywer en regisseur Louis Pretorius ʼn 48-minute-kortfilm, Die Ruimte Tussen Niks, geskryf het wat later vanjaar vervaardig gaan word met die topagt jong akteurs en aktrises wat deel van die Nasionale Skoletoneel-kompetisie was.
Die topagt leerders was Mia van der Merwe, Jeanie Heyns, Jana van der Merwe, Tomley van Vuuren, René Cloete, Henry Serfontein, Wian Taljaard en Cantona James. Cantona het ʼn volle beurs gewen om volgende jaar drama by die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer.
Die wenners in die ander kategorieë is:
KORTFILMS
Beste kortfilm
- Vlees van my Vlees
Beste regisseur: Kortfilm
- Matthys Boshoff – Vlees van my Vlees
Beste akteur: Kortfilm
- Carel Nel – HUM
Beste aktrise: Kortfilm
- Erica Wessels – Vlees van my Vlees
Beste draaiboek: Kortfilm
- Willem Grobler – HUM
Beste redigering: Kortfilm
- Leon Visser – HUM
Spesiale toekenning
- HUM – Kinematografie
DOKUMENTÊR
Beste dokumentêr
- Nobody’s Died Laughing
SPEELFILMS
Beste speelfilm
- Johnny is Nie Dood Nie
Beste regisseur: Speelfilm
- Christiaan Olwagen – Johnny is Nie Dood Nie
Beste akteur: Speelfilm
- Albert Pretorius – Johnny is Nie Dood Nie
Beste aktrise: Speelfilm
- Christia Visser – Tess
Beste mansbyspeler: Speelfilm
- Ludwig Binge – Johnny is Nie Dood Nie
Beste vrouebyspeler: Speelfilm
- Illana Cilliers – Johnny is Nie Dood Nie
Beste draaiboek: Speelfilm
- Christiaan Olwagen – Johnny is Nie Dood Nie
Beste oorspronklike musiek: Speelfilm
- Charl-Johan Lingenvelder – Johnny is Nie Dood Nie
Beste kinematograaf: Speelfilm
- Bert Haitsma – Tess
Beste redigering: Speelfilm
- Linda Man – Tess
Beste produksie-ontwerp: Speelfilm
- Birrie le Roux – Johnny is Nie Dood Nie