[Foto’s] SA kunstenaar maak internasionaal naam

August en Jolanda Naude (Foto: Facebook)

August Naude, ʼn fotograaf en kunstenaar van Wonderboom in Pretoria, maak internasionaal opslae met sy kunswerk en fotografie.

Naude (55) het fotografie by die New York Instituut van Fotografie studeer en met onderskeiding geslaag in die kategorie “Intensiewe portretfotografie” waarin hy gespesialiseer het. Sedertdien het hy al aan groot internasionale kompetisies en uitstallings deelgeneem.

Naude het aan Maroela Media gesê hy het sy liefde vir fotografie by sy pa gekry.

“Toe ek so tien jaar oud was, het my pa die belangstelling in fotografie by my gekweek. Ek wou so graag foto’s ontwikkel, selfs al was dit net in wit en swart. Ek het onder my bed die foto’s ontwikkel, en dít as ʼn donkerkamer gebruik,” het hy aan Maroela Media gesê. “Ek het dit gedoen tot ek eendag chemikalieë op die mat gemors het, toe het my ma gesê ek moet ophou.”

Naude het lank vir Telkom gewerk en fotografie net as stokperdjie beoefen, maar het later besluit om dit heeltyds te doen. Dit is tóé dat hy fotografie gaan studeer, en ook sy belangstelling in digitale fotografie verbreed het.

In Maart is Naude se werk in Italië uitgestal, saam met dié van kunstenaars uit 53 ander lande. Hy is die enigste kunstenaar uit Afrika wat gekeur was om daar uit te stal.

“In slegs 18 maande van internasionale blootstelling het August se werk reeds in amper 20 internasionale publikasies oor die hele wêreld verskyn,” het Naude se vrou, Jolanda, gesê.

Naude het onlangs ook die goeie nuus ontvang dat sy komposisie “Eyes of Africa” in die Blank Wall Gallery in Griekeland uitgestal sal word. “Dit was ʼn groot wonderwerk. Ek het ʼn dakvenster by my huis, en toe ek die oproep kry dat my werk by Blank Wall Gallery uitgestal gaan word, het ek amper deur die dakvenster gespring van blydskap!” het Naude gesê.

“Dit was my groot mikpunt om vanjaar internasionale erkenning te kry vir my werk. Ek wil wel nog graag selfs méér internasionaal deelneem en ʼn solo-uitstalling in Europa hou.”

Naude wil ook sy werk uitstal in Suid-Afrika. “Ek sal graag ʼn uitstalling in die wynland wil doen, en dit sommer kombineer met iets lekkers soos ʼn wynproe.”

Vir jong fotograwe en kunstenaars sê Naude: “Dit is belangrik om in die oë te kyk van dít waarna jy kyk. Of dit nou ʼn boom, ʼn dier of ʼn sonsondergang is. Want dit is waar jou inspirasie vir jou volgende foto vandaan kom. Raak stil en beleef die oomblik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tobie ·

Uitstekend Gus en hartlik geluk. Alles van die beste met hierdie knap vertonings van jou!

Inspirasie ·

Wat my opval in hierdie foto`s is dat die bizarriteit mens trek om lank daarna te kyk. Dis nie sommer net kiekies nie. Baie Geluk!! Hou ons naam hoog daar in die buiteland.

madels ·

Dis baie kunstig en ek se baie geluk Naude…..maar soooo “donker”.. definitief nie iets wat ek teen my mure wil sien hang nie. Ek wens net hy wou elke foto wat hier gepubliseer is verduidelik, sal nogal interessant wees om te weet hoekom hy dit geskilder het.

August Naude ·

Jinne madels, my antwoord het nou heel ondertoe uitgekom – kyk maar daarna as jy wil? Dankie hoor..

Denise ·

Ek dink dit is fantasties vir my se elke skildery iets en het dit dan nie ook iets met die skilder se bui te doen nie vra maar net????

August Naude ·

Baie dankie :) Ek sou ook graag wou maar ek het darem nie geweet watter foto’s gebruik gaan word nie en die plek is effens min. Maar gaan kyk gerus na augustnaudephotography.com – daar is darem so paar meer ligte komposisies ook :)
Die eerste foto hierbo is getitel “A New Beginning” en het alles te doen met die konsep van “verlaat die korporatiewe lewensdruk en asem/gaan ‘n skoon nuwe lewe in”. Vandaar die pak klere se een deel wat verwyder is asook die pragtige uitsig. Die seetoneel is geneem by Cintsa aan die wildekus tydens sonopkoms. Die groen komposisie het ek gedoen terwyl ek na “Greensleeves” geluister het en dis ook die titel. Die vrou met die klavier is getitel “Quest for Mozart” en sy kan nie by haar passie van musiek uitkom nie agv die druk van alle kante af wat haar fisies vas laat “groei” het aan die eise van elke dag. Die komposisie in swart en wit se titel is “My Space” en dit was bloot gebaseer op die min spasie wat baie mense skep en onderhou vir hulself. Die stories is regtig langer maar my toelaatbare getal woorde raak op :) (Verskoon al die Engels maar die ouens daar anderkant verstaan nie ons taal nie :) ) Lekker dag…

August Naude ·

Denise dankie vir jou boodskap en jammer my antwoord vir madels het nou onder jou naam kom lê :)

Jy is 100% reg en slaan die spyker op die kop! Die bietjie wat ek kon skryf vir madels kan jy ook lees as jy wil :)
Nogmaals jammer hoor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.