[Luister] Roem wink vir ‘kaas bra’

Jean du Plessis, oftewel Jan Bloukaas, saam met Inhoud Huis se Jacomien de Villiers en Johan Vorster (Foto: Facebook)

Hy hou nie meer van kaas as die gewone man op straat nie, sê Jean du Plessis – die jong man agter die “Kaas bra”-liedjie wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Du Plessis het pas ʼn platekontrak-ooreenkoms met Inhoud Huis geteken wat verantwoordelik is vir talle van Suid-Afrika se groot kunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk, Jo Black en Dewald Wasserfall.

Dié matriekleerder aan die Hoërskool Tygerberg in Kaapstad het Donderdag aan Maroela Media vertel hy maak nog sin van die sukses wat dié liedjie behaal het.

ʼn Video vir dié liedjie is al meer as 200 000 keer op YouTube gekyk, en “Kaas bra” het die onderwerp van verskeie video’s en geanimeerde beelde geword wat bykans almal op sosiale media aan die gons het.

“Ek en my pelle wou voor die eindeksamen verlede jaar nie vir ʼn Engelse vraestel leer nie. Ek wou toe sommer ʼn liedjie maak oor presies hóé graag ons nié wil leer nie. ‘Kaas bra’ is toe geskep,” sê hy.

Du Plessis – wat homself nou Jan Bloukaas gedoop het – vertel hy maak al sy lewe lank musiek.

“Ek gebruik sagteware op my rekenaar. Ek neem basies net klank op met my selfoon, en dan trek ek dit in die rekenaar in en maak musiek daarvan. ‘Kaas bra’ is maar een van my meer snaakse liedjies, ek doen ernstiger liedjies ook.”

Dié platekontrak by Inhoud Huis gaan sorg dat hy nog vir báie lank musiek maak. “Ek wil iets nuuts en vars aanbied, en gaan daarom voort om elektroniese musiek te vervaardig. Maar daar is ook meer ernstige musiek waarby mense ook sal aanklank vind. Ek is opgewonde oor die toekoms.”

Jacomien de Villiers van Inhoud Huis het aan Maroela Media gesê die organisasie het baie talent in Du Plessis gesien, en glo dat hy nog groot hoogtes gaan bereik.

“Mense se reaksie op sy liedjie was ongelooflik. Hy het ʼn ongelooflike talent en skep self – dit is iets wat nie baie kunstenaars kan doen nie. Ons sien baie daarna uit om saam met hom te werk in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

FlinkDink ·

Dit was nou 5 minute van my lewe wat ek nooit sal terugkry nie. Nee, kyk Santie, ek stem 100% saam met jou, maar wens tog vir Jan baie sterkte toe. Ons kan altyd doen met Afrikaanse kunstenaars.

k ·

HAHA gaan google bietjie die liedjie (Youtube) kom ek af op n Skaap wat rond hop op “Kaas Bra” my linker long amper uitgehoes soos ek gelag het…. well done dude…

adriana ·

Baie baie goed! Ek lag my dood vir die studente wat dit net so vinnig probeer se.
Ek lag ook vir die skaap daar teussen die honde wat so bokspring!

This is Me ·

Dié van julle wat so kerm… julle het tog geluister na sy liedtjie, en dit is wat hom famous maak. Hy het die song gemaak as n grap, en dit het al oor die 255000 views. Duidelik al n sukses op Youtube… What had you achieved by the time you were in Matric?

NieMatriekNieBra ·

What have* you achieved by the time you were in Matric?
Heel duidelik nie matriek nie!

Paul ·

Musiek is rrg ni meer musiek ni j vndg maak enige persoon musiek ai ai waar is di the van Ge Korsten en mans soos Pavarotti ai nee kyk

Beskerm die Kaas ·

Goeie musiek is dan seker so skaars soos mense wat kan spel. Ai nee kyk!

Kaas-Fan ·

Arme oom Gè sal hom doodskrik as hy die spelling moet sien.

Joe Stormer ·

Ek en my 16 jarige dogter luister graag die liedjie. Dis lekker om deel van die kinders se lewe en smaak te wees terwyl ek nog steeds na n Bobby of Juanita kan luister

An3s ·

Ai, al die kermderms, die man het net lekker met musiek en tegnologie gespeel en die hele ding is tong-in-die-kies – dis nie veronderstel om in die smaak van die gewone aanhangers van Bles, Rina ens. te val nie. :-)

MCS ·

Baie geluk , dat n ou nou so n “lucky break” perongeluk kry. Hou van die lekker techno klank. Iets nuut vir die mark.

Kaas-Fan ·

‘n Jong, martiek-seun bereik iets. Dis nie in almal se smaak nie – maar die sukses reuk is sterker as die kaas reuk – en nou is jy nie meer trots Afrikaans nie.

Darem so bly dis nie JOU seun nie . Hy het ‘n groot break gekry – hy kan doen waarvoor hy lief is, en dit is ‘n HIT!! Wat maak mens trotser as dit??

ai ·

Dis al wat ek weer kan se…… Ai.
As jy nie van iets hou nie MOENIE dit luister nie.
Mense julle is soooo suur. Ja dit klink verskriklik maar lag n bietjie.
Die ou gaan nog bekend word soos Jack Parrow of iets. Ek luister ook nie sy musiek nie humorsin in die lewe is vreeslik belangrik mense.

panda ·

Ek het na die telefoniese onderhoud met hom geluister op Bokradio so tydjie terug en hierdie kind is so beskeie. Joe STormer jy is soooo reg. Lekker om deel te wees van dit en saam met die kinders te geniet hou mens jonk en met al die negatiewe gebeure rondom ons lag ons ons altyd klaar wanneer ons hierna luister. Hou so aan.

Suzette ·

SUPER COOL EN LEKKER FUNKY. Dis wat my kleinkinders van plesier sal kraai en hulle lyfies saam wikkel en draai. Hou so aan jy het iets beet seun. Die wat so goor kommentaar lewer daar is ‘n “volume knoppie”, gebruik dit gerus. :))

Helizna ·

Is matrikulant nou “matriekleerder”? Waarheen gaan my liewe taal?

Joe Stormer ·

Ek hou van kaas bra. In die middel van die nag bra..doef doef… Dis lekker en jong afrikaans en nee ek is nie 20,30 of 40 of rebels nie.

Jaco ·

Beste Helizna wat jy nou gevrae het laat my glimlag, dis presies dieselfde vraag wat die Hollanders daardie tyd gevrae het met ons “Afrikaners”, ons het die Hollandse taal so getwist dat n totale nuwe taal onstsaan het, as mense nooit tale verdraai of gemeng het nie, het ons vandag nog Hollands gepraat :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.