Bobby Angel vier 80 jaar

bobby-angelDie legendariese Suid-Afrikaanse country-sanger Bobby Angel het op 30 Desember sy 80ste verjaardag gevier, kort nadat hy sy uittrede uit die musiekbedryf aangekondig het.

Robert Engelsman het aanvanklik opleiding as diamantslyper ontvang, en sodoende in sy pa en sy oupa se voetspore gevolg. Hy het as tiener ook as amateurbokser uitgeblink, maar terselfdertyd ook geleer om tromme te speel. Hy het later ook as sanger begin optree, en mettertyd saam met die internasionaal bekende Manfred Mann gewerk. Terwyl hy sy militêre opleiding ondergaan het, het hy besluit om musiek sy loopbaan te maak.

Hy het aanvanklik besluit om jazz- en swing-musiek, soortgelyk aan dié van Frank Sinatra, te sing; hierdie genre sou hom dwarsdeur sy loopbaan na aan die hart lê. Hy het sy debuut in 1960 gemaak nadat hy ’n kontrak by die restaurant Chiquita’s in Johannesburg losgeslaan het. Die bekende musikant Dan Hill het besluit dat hy ’n nuwe verhoognaam moes kry omdat sy naam te lank was. Hy het voorgestel dat sy van na Engel verander moes word, maar op die ou einde is daar besluit op Angel. Bobby se eerste album, Rockin’ swingin’ and twistin’: Bobby Angel, is voor ’n gehoor in die restaurant opgeneem as gevolg van sy gewildheid.

Bobby het egter eers jare later sukses behaal nadat hy besef het dat country-musiek meer gewild was in Suid-Afrika. Hy het sy sangstyl verander en ’n oktaaf laer begin sing. Teen die einde van 1974 is hy genader om ’n country-liedjie, getiteld “You ask me to”, op te neem. Dit was oorspronklik ’n treffer vir Waylon Jennings, maar Elvis Presley het dit ook opgeneem. Op 17 Januarie 1975 het Bobby se suksesverhaal begin toe sy weergawe van dié liedjie tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het en op 14 Maart daardie jaar tot by die nr. 1-posisie gevorder het. Op die ou einde sou hierdie snit 17 weke lank op die Top 20 bly. Bobby het ’n goueplaattoekenning vir hierdie liedjie verdien.

Dit was nie lank voordat sy tweede treffer toegetree het nie. “Before the next teardrop falls” was oorspronklik ’n treffer vir Freddy Fender.  Bobby se weergawe het op 13 Junie 1975 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die vyfde plek gehaal en 11 weke lank op die trefferslys gebly. Teen daardie tyd was hy ook baie gewild in Zimbabwe, en het hy uitnodigings ontvang om daar op televisie te verskyn. Twee verdere treffers het daardie jaar gevolg. “Don Junior”  het Springbok Radio se Top 20 op 28 November gehaal, tot by die 16de plek gevorder en net drie weke op die trefferslys gebly. Ná ’n week se afwesigheid was hy egter terug op die Top 20 met ’n duet saam met Barbara Ray, naamlik “The greatest Christmas gift”. Hulle kon net die 19de plek bereik en was net twee weke op die Top 20, maar jare later sou hulle saamspan vir nog ’n treffer.

In 1976 het Bobby vir die eerste keer in Suid-Afrika op televisie opgetree, onder meer saam met die operasangeres Mimi Coertse en die tienersangeres Gwyneth Ashley Robin, wat kort daarna in ’n vliegongeluk oorlede is. Kort daarna, op 9 April, was Bobby terug op Springbok Radio se Top 20 met “It’s a burning thing”, wat oorspronklik ’n treffer vir Mac Davis was. Bobby se weergawe was nege weke lank op die Top 20 en het die 15de plek gehaal. Bobby se volgende treffer is spesifiek vir hom geskryf, en het uit die geboorteplek van country-musiek, Nashville in die Amerikaanse staat Tennessee, gekom. James Coleman het “Green-eyed angel” gekomponeer, en dit was Bobby se sesde Top 20-treffer. Hy het Springbok Radio se Top 20 op 9 Julie 1976 gehaal, tot by die vyfde plek gevorder en 15 weke lank op die Top 20 gebly.

Die volgende jaar is Bobby en sy regisseur, Hennie Bekker, gevra om ’n temaliedjie vir ’n nuwe televisiereeks getiteld Call me Kelly te skryf. Die gevolg was “Kelly’s song”, wat op ’n kortspeler uitgereik is. Weer eens het Bobby ’n treffer op Springbok Radio gehad; dit het op 18 November 1977 toegetree, die 13de plek gehaal en sewe weke lank op die Top 20 gebly. Bobby se sukses het gemaak dat ander platemaatskappye in hom belanggestel het, maar hy het besluit om by Teal Records te bly.

In Maart 1978 het die gewilde Nederlandse popgroep Pussycat deur die land getoer, en hy het vier weke lank saam met hulle opgetree. Hy is ook daardie jaar vereer met ’n Sarie-toekenning as beste manskunstenaar. In Desember 1979 het Bobby vir die eerste keer die televisieprogram Gentle on my mind aangebied. Hierdie program was in reaksie op openbare aanvraag, en die kunstenaars wat opgetree het, het saam met volle orkeste gesing eerder as om van begeleidingsnitte gebruik te maak.  Die program was so gewild dat ’n album met dieselfde titel vrygestel is en die reeks verleng is en tot 1985 op televisie te sien was. Hoewel die titelsnit van die album, en die program, ’n treffer was, was dit nooit op Springbok Radio se Top 20 nie.

In 1983 het Bobby weer met Barbara Ray saamgespan toe hulle die album Voices opgeneem het. Die titelsnit was Bobby se laaste treffer op Springbok Radio. Die trefferslys is intussen van 20 na 30 liedjies vergroot; Bobby en Barbara het op 27 Mei 1983 tot die Top 30 toegetree, die 16de plek gehaal en 12 weke op die trefferslys gebly. Bobby se sukses in die musiekbedryf het daartoe gelei dat hy sy werk as diamantslyper laat vaar het en voltyds op musiek begin konsentreer het. Hoewel hy in 1998 aangekondig het dat hy sou uittree, het hy nie lank weggebly nie, want in 1999 het sy album Wals van die lewe verskyn. Hierop het hy vir die eerste keer in Afrikaans gesing, en veral die titelsnit, waarvoor Jurie Els die woorde geskryf het, het ’n treffer geword. Op sy volgende album, T’rug by my mense, het hy nog ’n aantal Afrikaanse snitte ingesluit, onder meer “Die kleur van jou oë” en “Altyd jy”. Een van die hoogtepunte van die album was die duet “Two cowboys” wat hy saam met Lance James gesing het. Op sy album Somebody like you het hy nie net bekende country-gunstelinge soos “Lucille” van Kenny Rogers, “Me and Bobby Mc Gee” en “Why me Lord?” van Kris Kristoffersen en “Amanda” van Don Williams ingesluit nie, maar ook nuwe country-treffers soos die titelsnit, wat deur Keith Urban gewild gemaak is, en “Livin’on love” van Alan Jackson.

Bobby het deurentyd saam met verskeie country-legendes soos Lance James, Billy Forrest en Barbara Ray opgetree, maar kort voor sy 80ste verjaardag het hy besluit om finaal afskeid van die musiekbedryf te neem. Bobby is een van die kunstenaars wat die meeste gedoen het om country-musiek gewild te maak in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

CAV ·

My heel eerste ” type ” was van hom gewees. Dink ek het R 4.40 betaal en my ma wou n oorval kry omdat ek so baie betaal het
Veels geluk Bobby en dankie vir jare lange musiek

Karma ·

Nou ja toe! So leer ek vandag dat hierdie legende en ek op dieselfde dag verjaar!

Jan Viljoen ·

As Bobby eendag vir hoër diens opgeroep word kan hy as “Angel Bobby” voortgaan.

Rupert Ashford ·

Nou lekker gelees. Die album “you ask me to” was die eerste “plaat” waarvan ek as kind bewus geraak het toe my pa dit by die huis aangebring het en so het ek van die musiekwereld bewus geraak.

leon pit ·

Bobby se musiek was deel van my groot word jare. Dankie jou musiek sal vir altyd hier n verskil maak. Die beste Country Sanger van die eeu.

LB S ·

Just Because You Ask Me To was die een wat my aandag getrek het en so het ek my broer en veral my Ma getoor met Bobby Angel! My Ma was oor hom soos ek oor Steve Hofmeyr hier in die vroeëe 90’s. ☺ My gunsteling van Bobby is Green Eyed Angel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.