Ekstra Classics-konsert ten bate van Knysna aangebied

Corlea tydens Afrikaans is Groot (Foto: Stephen Elliott)

’n Ekstra Classics is Groot-konsert word op Saterdag 24 Junie om 12:00 by die Moreletapark-ouditorium in Pretoria aangebied, ten bate van diegene wat deur verwoestende brande in Knysna geraak is.

Hierdie nuus is die naweek deur Classics is Groot se vervaardigers bekendgemaak. Volgens Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger van dié konserte, het alle rolspelers ingestem om hul dienste gratis hiervoor te bewillig.

“Die ekstra konsert se opbrengs word aan organisasies geskenk wat help om verligting in die area te bring. Ons het besluit om alle kaartjies vir die ekstra konsert teen R250 te verkoop. Dit is ons manier van omgee en om die mense van Knysna te ondersteun,” sê Hargroves.

“Ons nooi alle musiekliefhebbers om hierdie konsert van wêreldgehalte te ondersteun en sodoende ook aan dié liefdadigheidsprojek deel te neem,” sluit Hargroves af.

Corlea Botha, wat by Classics is Groot te sien is, sê dit is ’n saak wat haar baie na aan die hart lê. “In 1995 het ons huis tot op die grond afgebrand, ons het net die klere aan ons lywe oorgehad. Ons het so verlore en haweloos gevoel. My hart gaan uit na hierdie arme mense, wie se wêreld totaal omgekeer is. Help my, en my mede-kunstenaars, om net ’n klein bietjie hoop en verligting in dié onsekere tye aan hulle te bring,” vra sy.

Konsertgangers kan ook uitsien na optredes deur Amira Willighagen van Nederland, Jannie Moolman, Coleske, Touch of Class, Swing City, Monique Steyn, Tarryn Lamb, Charl du Plessis en die Joburg Ballet Company.

Kaartjies vir dié ekstra konsert is nóú by www.ticketpro.co.za teen R250 per persoon beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wow ek is vol hoendervleis ·

Wow ek is vol hoendervleis en ek weet dit gaan ‘n groot sukses wees, wens ek kon daar wees om jul toe te juig. Stuur asb agterna die bedrag net vir interessantheid en ek bid dat elkeen in Pretoria, JOhannesburg en omliggend hierdie projek voluit ondersteun. Ons weet nooit wanneer dit ons beurt is, jy kan hoe ryk of hoe versekerd wees, vir die vlamme kan niemand voorsien of keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.