Die 23ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) was vanjaar weer ʼn bont en betowerende Afrikaanse makietie wat verlede jaar se fees byna op elke vlak getroef het, volgens die organiseerders.
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, sê vanjaar se kaartjieverkope was ʼn dawerende sukses nadat meer as 6% kaartjies in vergelyking met verlede jaar se fees verkoop is.
Die KKNK, wat jaarliks op Oudtshoorn in die Wes-Kaap aangebied word, het op 15 April klaargemaak.
“Ons is veral trots daarop dat kaartjieverkope vir Uitkampteater meer as verdubbel het teenoor verlede jaar se eerste aanbieding. Vanjaar se feesprogram is verder ook deur ’n hele aantal unieke belewenisse gekenmerk. By die Uitkampteater is die Nederlandse ervarings met spieëls, Diep en Wentel, flink bygewoon en die uitbreiding van dié projek om ook kinderteater by Arbeidsgenot in te sluit, het van menige jong feesgangers teatergangers gemaak,” vertel sy.
Baron van Reedestraat se lywige straatteaterprogram het vanjaar aan feesgangers die geleentheid gebied om self ook kunstenaars te word.
’n Nuwe projek is ook van stapel gestuur om nuwe teater-resensente te ontwikkel. “Kritiek is daarop gemik om kunsjoernalistiek in Suid-Afrika te bevorder en te ondersteun. Die doel is om aan individue met ’n belangstelling in kunsjoernalistiek ’n geleentheid te bied om vaardighede in die skryf van analitiese en indiepte-resensies te ontwikkel,” sê Snyman.
Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, sê die inhoud van die feesprogram het vanjaar ook nie teleurgestel nie. “Dit was wonderlik om die magdom jong talent te beleef en hul kreatiwiteit en entoesiasme was ’n inspirasie. Wat ’n vreugde om Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in die Klein-Karoo te vier,” sê hy.
“Daniel Hugo se keurige hand en vaardigheid met die boekeprogram was ’n hoogtepunt en dit was ’n voorreg om dié week politici, digters, skrywers, akteurs, regisseurs, tegnici, kunstenaars en musikante in die Klein-Karoo byeen te hê – om nie net gehore te vermaak nie – maar om te debatteer, argumenteer en sodoende opbouend en deur middel van die kunste ons land en wêreld se kwessies te takel,” sê Theart.
Die volgende KKNK word van 29 Maart tot 4 April 2018 op Oudtshoorn gehou.